GESIG

KABUKI-KWAS

Bourjois Kabuki Brush R129,99

Die kabuki-kwas is ontwerp om poeier egalig oor jou gesig te versprei. Dit kan vir deurskynende, saamgeperste en los poeier gebruik word. Moet dit nie vir blosser gebruik nie, want dit kan meer produk aansit as wat nodig is. Vir los poeier, doop die kwas in die poeier en tik dit teen die rand van die houer om van oortollige produk ontslae te raak. Beweeg die kwas sagkens oor die gesig. Vir saamgeperste poeier, vryf die kwas oor die poeier, wend dit aan die gesig aan, en herhaal indien nodig. Deurskynende poeier kan los of saamgepers wees; dus sal een van die twee stappe van toepassing wees.

SKUINS PUNT

Bold Metals Tapered Blush Brush R384

’n Blosserkwas met ’n skuins punt gee jou ’n aantal gebruike. Dit maak breë en smal aanwending moontlik, afhangend van hoe jy die kwas vashou. Gebruik die punt van die kwas om jou wange en neus kontoere te gee en die voller deel van die kwas om blosser en aksentkleur aan te wend.

GEPUNTE RAND

Barbara Hoffman Foundation Brush R119

Die effens gepunte rand kom tot in hoeke by en laat jou jou onderlaag egalig versprei en inskakeer. ’n Onderlaagkwas maak dit ook moontlik om jou onderlaag liggies of swaar vir hoë bedekking aan te wend sonder om te veel van jou produk te absorbeer. Giet ’n paar druppels van jou onderlaag op die kwas en versprei dit in hale oor jou gesig. Herhaal die stappe tot jou hele gesig bedek is.

Vele kante

Essence Super Beauty Sponge R64,95

Die spons het ’n aantal gebruike, van die aanwending van basis- of onderlaag tot blosser en room. Die spons het ’n paar kante wat elkeen vir ’n ander produk benut kan word. Maak die spons nat en druk oortollige water uit sodat dit klam is. Gebruik een van die plat kante om room aan te wend en die ander vir basislaag. Gebruik een van die ronde kante om onderlaag aan te wend en die ander een vir blosser.

ROND EN PLAT

Real Techniques Miracle Complexion Sponge R129,95

Gebruik die hoofdeel van die spons om jou onderlaag aan te wend en in te skakeer. Die plat deel is vir kontoere skep en by hoeke inkom. En die punt van die spons kan gebruik word om verbloemer aan te wend.

Stippelkwas

Bodyography Stippling Brush R221

Die stippelkwas stel jou in staat om jou onderlaag of roomblosser liggies en egalig aan te wend. Die kwas kan jou vel douvars laat lyk. Jy moenie die stippelkwas vir swaar onderlaagaanwending gebruik nie, maar jy kan dit wel gebruik om roomblosser liggies oor swaar onderlaag aan te wend. Gooi ’n paar druppels onderlaag op die punt van die kwas en wend dit in ligte sirkelbewegings oor jou gesig aan. Herhaal die stappe tot klaar.

HOEKIG

Studio Basics Dual Sided Foundation Brush & Sponge R119,95

Die spons help jou om kontoere op jou gesig te skep. As jy albei kante gebruik, begin onderlaag met die kwas aanwend. Tik dan die spons oor jou gesig met of sonder nog onderlaag (dit sal afhang van hoeveel bedekking jy wil hê). Onthou, as jy die spons klam maak, sal dit nie onnodig van jou onderlaag absorbeer nie.

TOPWENK
Borsels en kwassies moet jy nie met ander mense deel nie. ’n Mens kan byvoorbeeld ’n oogontsteking aansteek as jy ’n oogomlyner of maskara by iemand leen.


Real Techniques Enhanced Eye Set R499,95

Op foto bo, van links:

  • Die skuins punt van die kwas maak dit maklik om oogskadu presies aan die vou van die ooglid aan te wend en in te skakeer. Die kwas kan vir poeier- en roomoogskadu gebruik word.
  • Die wye en plat oppervlak van die kwas vergemaklik maksimum oogskaduaanwending en inskakering. Dit kan vir sowel poeier- as roomoogskadu gebruik word. Die kwas kan ook klam saam met poeieroogskadu gebruik word.
  • Omlyn jou oë met vloeibare of jelomlyner. Die stewige hare maak ’n soliede lyn moontlik, wat beteken jy kan die kwas vir ’n ander doel ook gebruik, soos om jou lippe te omlyn.
  • Die skadukwas het dik hare vir ’n intense aanwending. As jy dit klam gebruik, sal die kwas meer poeieroogskadu optel en dit nog beter aanwend.
  • Party maskaras sal jou wimpers laat saamkoek. Kam met die wimperskeier deur jou wimpers voor die maskara droog word, anders kan jou wimperhare breek.

DUBBEL

Burst Angled Brow and Lash Brush R153

Met die hoekige kwas kan jy jou wenkbroue inkleur of jou oë met ’n jelomlyner omlyn. Die wimperkwas kan gebruik word om jou wenkbroue te tem, jou oogpotlood in te skakeer en jou wimpers te borsel.

LIPPE

LIPKWASSIE

Mac Lip Brush R310

Lipkwaste maak dit maklik om die lippe te omlyn of twee kleure vir ’n ombré-effek te vermeng. Wend jou gewenste lipproduk aan die lipkwas aan en omlyn dan stadig jou lippe met die kwas. Wanneer jy klaar is, wend nog lipproduk aan die kwas aan en kleur die buitelyn met kort hale in.

Versorg jou kwaste so
  • Kwaste met hare aan die een kant moet horisontaal op ’n plat oppervlak gebêre word of regop met die hare wat boontoe wys. Kwaste met hare weerskante moet horisontaal gebêre word, soos in ’n laai of in jou grimeersakkie.
  • Maak jou kwaste skoon deur warm water en jou gesigreiniger te gebruik. Vryf die hare sagkens in sirkelbewegings in die palm van jou hand.
  • Jy kan die kwaste in water dompel wanneer jy dit was, maar moet dit nie in die water los nie.
  • Maak jou kwaste minstens een keer per week skoon.


Gooi dit weg wanneer:
  • die hare begin uitval;
  • die hare styf is wanneer jy grimering aanwend;
  • jou vel ’n irritasie begin ontwikkel (gebruik ’n ander hulpmiddel, soos ’n spons, om uit te vind of dit jou grimering of kwas is wat die irritasie veroorsaak); of
  • die hare gebuig is en nie meer grimering behoorlik aanwend nie.


Kry dit hier

Barbara Hoffman (Dis-Chem 0800-201-170), Bodyography 011 0869800, Bold Metals (Clicks 0860-254-257), Bourjois (Clicks 0860-254-257), Burst burstmakeupbrushes.co.za, Essence essence.eu/za, MAC maccosmetics.co.za, Real Techniques (Clicks 0860-254-257), Studio Basics foschiniforbeauty.co.za

Hoewel ons alles in ons vermoeë doen om die korrekte prys te verskaf, kan foute voorkom waarvoor Huisgenoot en die verskaffers nie verantwoordelik gehou kan word nie.