WAT VEROORSAAK PORIEË?

Ons vel is met piepklein hare bedek – oral behalwe aan ons handpalms en voetsole. Elke haarfollikel het ’n klein opening wat ’n porie genoem word aan die bokant daarvan wat die vel help asemhaal.

WAT LAAT PORIEË VERGROOT?

  • ’n Olierige vel lei gewoonlik tot vergrote porieë. Dit is weens die oormaat sebum wat in die vel vervaardig word. Vuilheid en dooie velselle versamel in die porieë en so raak dit verstop, wat dit groter laat lyk.
  • Oormatige sonblootstelling lei tot son- skade aan die vel. Dit versoorsaak voortydige veroudering en ’n verlies aan kollageen, ’n proteïen wat natuurlik in die vel voorkom en daarvoor verantwoordelik is om die vel plomp te hou. Wanneer kollageen verlore gaan, verloor die vel elastisiteit en vog – wat die porieë groter laat lyk.
  • Genetika speel ook ’n rol wat jou vel se voorkoms betref. As jou ouers of grootouers vergrote porieë gehad het, sal jy dit waarskynlik ook hê.

KAN PORIEË GEKRIMP WORD?

Vergrote porieë gee die vel ’n onegalige tekstuur. Geen behandeling is beskikbaar om porieë permanent te verklein nie, maar daar is wel tydelike oplossings wat hulle kleiner laat voorkom. Volg dié proses vir die beste resultate.

REINIGER/AFSKILFERAAR

Dit is die belangrikste deel. Ander stappe sal nie so doeltreffend wees as jy reiniging oorslaan of nie reg doen nie. Reiniging help vuilheid en grimering uit die porieë verwyder, terwyl afskilfering die vel afskuur om van dooie velselle ontslae te raak.

Jelreinigers is goed vir ’n olierige vel, want dit verwyder oormatige sebum. Reinig die vel met lou water. Warm water sal die vel stroop en olieriger maak. Vermy dit dus.

’n Mens kan die vel op verskillende maniere afskilfer. Fisieke hulpmiddels soos ’n gesigreinigingsborsel kan saam met seep gebruik word om sagkens oor die vel te beweeg en afgeskilferde vel te verwyder.

Ander afskilferaars is in die vorm van ’n reiniger wat klein korrels bevat. Die korrels skilfer af terwyl jy dit aan nat vel vryf.

Chemiese afskilferaars (sien “Bestanddele om voor uit te kyk”) word aan die vel aangewend en reageer om dooie velselle te verwyder.

VERFRISSER

Verfrissers het ’n reputasie dat dit hard op die vel is, maar dit is nie meer die geval nie. Nuwe samestellings is sagter en doeltreffender.

’n Verfrisser is ’n vinnig penetrerende vloeistof wat gebruik word om te verhelder en reinig terwyl dit die vel behandel en opplomp. Die lei tot kleiner porieë.

Verfrissers dien as ’n basislaag vir ander velsorgprodukte, want dit berei die porieë voor om die volgende produk beter te absorbeer.

Gebruik dit nadat jy gereinig het en voor jy serum aanwend. Jy kan dit aanspuit, met jou hande aantik of met watte aanwend.

BEVOGTER

Baie mense met ’n olierige vel slaan bevogting oor, want hulle is bekommerd dit sal hul vel olieriger maak. As dit gebeur, is dit omdat jy die verkeerde bevogter gebruik.

Die vel benodig ’n balans tussen water en olie om op sy beste vlak te funksioneer. As dit te veel olie vervaardig, het dit dus ’n tekort aan water – en dis waarvoor jy in jou bevogter moet soek. Jou bevogter moet ’n waterbasis hê sodat dit olievervaardiging in die vel balanseer.

As jou vel se dors behoorlik geles is, hoef dit nie te oorvergoed deur meer sebum te vervaardig as wat dit moet nie.

MASKER

Die aanwending van ’n masker is ’n goeie manier om jou reinigings-/afskilferingsproses ’n hupstoot te gee.

Afhangend van jou vel se sensitiwiteit kan jy ’n masker gebruik nadat jy afgeskilfer het of in die loop van die week tussen ’n afskilferaar en masker afwissel.

Vir ’n vel met vergrote porieë werk ’n modder- of kleimasker goed, want dit trek vuilheid uit en suiwer die vel. Dit kan ook gebruik word om ’n olierige vel mat te laat lyk en puisies te voorkom.

masker
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

SERUM

Serums bevat akiewe bestanddele wat vinnige verligting aan jou vel bied. Dit is ’n bietjie duurder as ander velsorgprodukte, maar is die geld werd, want dit kan tot ’n fermer, gladder tekstuur lei, porieë laat kleiner lyk en vogvlakke verhoog.

Dit word gewoonlik ná reiniging, afskilfering en ’n masker aangewend en dring deur die vel vir doeltreffende resultate.

Dis belangrik om te weet watter aktiewe bestanddele jou serum bevat, want dit sal bepaal of jy die verlangde resultate verkry.

BESTANDDELE OM VOOR UIT TE KYK

Alfahidroksisure

Dit sluit glikol-, sitroen- en melksuur in. Dit skilfer die vel diep af om ’n stralender gelaat te ontbloot en die vel te laat goed voel en lyk. Die bestanddele word dikwels by chemiese afskilferaars ingesluit.

Hialuroonsuur

Hialuroonsuur word gebruik om gesonde vogvlakke in die vel ’n hupstoot te gee deur vog uit die liggaam te trek en dit in die vel vas te vang.

Die bestanddeel kan aan alle velsoorte gebruik word, ook ’n olierige vel, want dit help vogvlakke normaliseer, wat beteken sebumvervaardiging sal nie oormatig wees nie.

Hialuroonsuur kan in reinigers, serums en bevogters aangetref word. Wanneer die vel genoeg vog het, lyk die porieë kleiner.

Salisielsuur

Dit staan ook as betahidroksisuur (BHS) bekend en is goed vir ’n vel wat tot aknee of olierigheid geneig is.

Dit skilfer die vel af terwyl dit diepreinig. Maar dit verskil van alfahidroksisure, want dit werk sagkens en kan aan alle velsoorte gebruik word. Die bestanddeel poleer die vel liggies sonder om dit oorgevoelig te maak (dit te stroop).

Kyk veral in gesigreinigers en party bevogters vir dié bestanddeel.

Retinol

Dié bestanddeel staan ook as vitamien A bekend. Dit bevorder die gesonde werking van die vel, verlig verkleuring, verminder oormatige olie- vervaardiging, verklein vergrote porieë en verbeter die vel se tekstuur.

Dit is uiters belangrik om altyd sonskerm te dra wanneer jy ’n produk met retinol gebruik, want dit maak jou vel sensitiewer vir die son. Die bestanddeel kan in serums gevind word. 

Ekstra bronne: goodhousekeeping.com, nivea.com,au, healthline.com, allure.com, paulaschoice.com