Nerissa Moodley (33) is ’n sake-eienaar van Douglasdale, Gauteng. Nerissa het gevoel sy het haarself verloor in die verantwoordelikheid van ma-wees vir haar tweejarige dogter.

Intussen het sy ’n graad in bemarkingsbestuur voltooi en ’n onderneming begin wat geleenthede reël.

Terwyl Nerissa so in haar verantwoordelikhede verdiep was, wou sy moeite doen met grimering aanwend en haar hare versorg, maar sy het skaars tyd gehad.

“Ek het nie probleme met my vel nie, maar het agtergeraak met grimeermodes. Nou het dié mooimaaksessie my egter ’n kans gegee om te sien hoe ek met kleure en style kan eksperimenteer.”

Voor

Nerissa Moodley (33) is ’n sake-eienaar van Douglasdale, Gauteng.

Voorbereiding vir albei voorkomste

Wend ’n basislaag aan skoon vel aan en wag sowat 30 sekondes tot ’n minuut voor jy onderlaag aanwend. Kleur eers jou wenkbroue in en maak dit netjies met ’n haartangetjie en borseltjie as jy welige wenkbroue het. Yler wenkbroue kan jy met ’n bruin tot donkerbruin wenkbroupotlood inkleur.

BEDAGS NEUTRAAL

Foto's: Martin de Kock

1 Wend ’n goudkleurige oogskadu met ’n aanwender of oogskadu­kwas aan jou hele ooglid en net oor die vou aan. Skakeer ’n donkerbruin oogskadu oor die vou van jou ooglid en uitwaarts na die hoek van die ooglid in om ’n subtiele, rokerige effek te skep.
2 Omlyn jou boonste wimperlyn met ’n swart kohl-, jel- of vloei­bare omlyner van die binne- na die buitehoek van die oë. Jy kan die lyn by die hoek van die oog laat eindig of dit uit- en opwaarts trek om ’n gevleuelde omlynervoorkoms te skep. Heg ’n paar strookwimpers aan jou oë voor of nadat jy omlyner aangewend het. Of gebruik ’n paar lae maskara om die oë af te rond.

WANGE

Wend verligter met ’n waaierkwas aan jou wange en die brug van jou neus aan. Gebruik ’n ligter skakering verligter vir ’n ligte vel en een wat meer goud is vir ’n donker vel. Wend die verligter aan jou kupido­boog aan as jy jou lippe wil beklemtoon.

LIPPE

Maak seker jou lippe is skoon voor jy enige produk daaraan aanwend. En as jy mat lipstiffie gaan gebruik, bevog jou lippe met etroleumjellie of lipsalf. Omlyn jou lippe met bruin lip­omlyner voor jy ’n deurskynende of bleek lipglans aanwend.

HARE

Wend ’n hittebeskermingsproduk aan jou hare aan. Neem ’n klein deel op ’n slag en maak jou hare reguit vir ’n eenvoudige maar klassieke voorkoms. Maak ’n paadjie in die middel of aan die kant van jou kop nadat jy klaar is.

Probeer dié produkte

Smashbox Photo Finish Primer Oil R525
Elizabeth Arden Beautiful Colour Lipgloss in Coral Kiss R270
Melford Lashes in 013 R250
Catrice Eye Brow Stylist in Brown R49
Clarins Crayon Lipliner in Nude Beige R285
L’Oréal Super Liner Blackbuster in Intense Black R169
The Body Shop Fresh Nude Foundation in Sahara Light R300
Wet n Wild Color Icon Eyeshadow Trio Sweet As Candy R79,95

SAANS VUURWARM

Foto: Martin de Kock

1 Wend strookwimpers aan. Trek ’n dik streep met ’n khol-, jel- of vloeibare omlyner aan jou boonste wimperlyn. Wend donker­oranje of maroen oogskadu aan; skakeer dit tot by die vou van jou ooglede en na die buitehoek in.
2 Wend ’n paar lae maskara aan jou boonste en onderste wimpers aan vir ’n sterker voorkoms of gebruik strookwimpers vir ’n dramatiese effek.

LIPPE

Wend lipsalf aan; omlyn jou lippe met ’n kleur wat so na moontlik aan jou lipkleur is. Wend lipstiffie aan binne die buitelyn.

WANGE

Gebruik ’n waaier- of blosserkwas om ’n subtiele pienk blosser met ’n tikkie glans aan jou wangbene aan te wend en skakeer dit in.

HARE

Maak jou hare vas in ’n lae bolla en sit ’n pruikpet op om jou hare te beskerm. Leun vooroor, hou jou pruik van agter af vas en trek dit van die voorkop af na die agterkant van jou kop oor sodat dit stewig pas

Probeer dié produkte

Catrice Illuminating Blush in 010 R79
Real Techniques Bold Metals Tapered Blush Brush R440
L.O.V Lovful Shine and Care Lip Stylo in 380 R189
The Body Shop Eyeshadow Purple Topaz R95
Real Techniques Shading Brush R469 vir stel van 5
Rimmel Exaggerate Full Colour Lip Liner in 104 R109,95
Revlon Ultra HD Metallic Matte Lip Colour in Infatuation R185
Revlon Volume + Length Mascara in Black R165

Stilering: Kele Fok; Hare & Grimering: Melford Hlabola; Hare verskaf deur Melford Divas
Kry dit hier

Catrice takealot.com; Clarins 011-809-6300; Elizabeth Arden 021-597-1700; L’Oréal 0860-102-491; L.O.V takealot.com; Melford 011-869-7860; Real Techniques (Clicks 0860-254-257); Revlon 011-971-0812; Rimmel 0800-463-446; Smashbox 021-702-3466; The Body Shop (Clicks 0860-254-257); Wet n Wild (Clicks 0860-254-257)

Hoewel ons alles in ons vermoë doen om korrekte pryse te verskaf, kan foute voorkom waarvoor Huisgenoot en die verskaffers nie verantwoordelik gehou kan word nie.