Mary, wat al 22 jaar lank in die grimeerbedryf is, werk al jare lank met die Britse koninklikes. Tot Meghan, die vrou van Diana se jongste seun, prins Harry, was al onder haar grimeerkwas.

Op dié talentvolle grimeerkunstenaar se indrukwekkende kliëntelys van glansvroue pryk die Britse supermodel Naomi Campbell en die modeontwerper en gewese Spice Girl Victoria Beckham. Prinses Diana was egter haar beroemdste kliënt tot dusver. 

Mary het aan die tydskrif Marie Claire verklap presies wat die prinses verkies het en watter skoonheidsproduk sy nie wou probeer nie. Vals wimpers – dis die een ding wat sy nooit wou beproef nie.

“Sy sou nooit iets so waaghalsig soos vals wimpers aansit nie. Hoekom sou jy haar sleg laat voel om iets te probeer waarvan sy nie sal hou nie,” het Mary laat hoor. 

Mary het Diana se voorkoms weinig verander omdat Diana so baie in die openbare oog was.

Sy meen dis nie gepas om elke vyf sekondes jou voorkoms te verander nie, maar die prinses was gewillig om daarmee rond te speel. “Ek dink skakerings van beige en bruin is baie mooi. So eenvoudig soos dit,” vertel sy.

Mary meen Diana het nie een ikoniese grimeervoorkoms gehad nie, maar wou altyd op haar mooiste gelyk het. “Sy het nooit iets te uitspattig gedra nie en was altyd baie stylvol.

"Wanneer ek haar grimering gedoen het, wou sy net minimalisme hê wat die klem op haar natuurlike skoonheid geplaas het,” sê sy. 

“Jy sal nooit iets drasties op iemand van Diana se kaliber en skoonheid doen nie. Ek wou haar natuurlike skoonheid met grimering beklemtoon. Jy wil met die minste moontlike grimering op jou beste lyk."

Sy het die prinses se grimeervoorkoms verander afhangend van die geleentheid en die tyd van die dag wanneer sy dit sou bywoon. 

Mary deel gereeld haar grimeerwenke op YouTube en verduidelik stap-vir-stap hoe sy Diana se beeldskone voorkoms geskep het.

KYK

Bronne: Marie Claire, Hello!, CRFashionbook.com, YouTube, Instagram