KUNSWIMPERS

Dit word strookwimpers genoem en lyk pragtig – dit laat jou oë groter lyk en rond jou grimering af. Maar jy moet aan die aanwending gewoond raak.

Met oefening sal jy dit vervolmaak; moet dus nie moedeloos raak as jy dit nie die eerste keer regkry nie.

Volg ons wenke en aanwysings en jy sal gou ’n kenner wees.

WENKE

  • Jy kan jou kunswimpers meer as vyf keer gebruik as jy dit goed versorg.
  • Bêre dit in die oorspronklike verpakking wanneer jy dit wegpak. Plaas dit terug soos jy dit die eerste keer gekry het. Dit sal dit langer laat hou.
  • Gebruik ’n wattestokkie en grimeringverwyderaar om dit skoon te maak. Laat dit droogword voor jy dit weer gebruik.
  • Moenie te veel gom gebruik nie – dit sal aangeplak lyk.
  • Gebruik ’n haartangetjie om oortollige gom te verwyder wat drooggeword het. Werk sagkens en oppas dat jy nie in die proses wimpers aftrek nie.
  • Meet altyd vol wimpers oor jou ooglid voor jy dit aansit en kyk of dit pas. As dit effens langer is, knip die oortollige lengte aan die binnehoek af.
  • ’n Mens kry verskillende style en soorte wimpers. As jy byvoorbeeld sensitiewe oë het en lugtig is om gom te gebruik, kan jy magnetiese wimpers kies. Dit het magnete pleks van gom aan die stroke wat aan jou wimpers heg, en dit lyk net so goed.

MAAK SO

STAP 1

Verwyder jou wimpers met ’n haartangetjie of wimperknipper uit die verpakking. Tel dit van die buitehoek af op. Doen dit sagkens sodat jy nie wimperhaartjies afpluk nie.

valse wimpers
Foto: Papi Morake

STAP 2

Klem die knipper of tangetjie oor die voorste deel van die wimpers vas en wend soos volg gom aan die agterkant aan: Wend ’n eerste laag aan, wag sowat 10 sek., wend ’n tweede laag aan en wag sowat 60 sek. voor jy die strook aan jou oë aanwend.

valse wimpers
Foto: Papi Morake

STAP 3

Hou die wimpers vasgeklem en plaas die strookwimpers oor jou boonste wimperlyn. Jy kan die wimpers verstel om op jou oë te pas terwyl jy dit plaas. Doen dit met jou duim en wysvinger of die tangetjie of knipper – wat ook al vir jou werk.

Shanaaz Prince
Foto: Papi Morake

STAP 4

Wanneer jou wimpers stewig vas is, wend maskara aan deur van jou natuurlike wimpers af op te beweeg. Dit sal jou natuurlike wimpers en die verlengings mooi by mekaar laat aansluit.

Shanaaz Prince
Foto: Papi Morake

VORM DIT

Gebruik dié gids om die beste wimpers vir jou oogvorm te kies sodat dit geaksentueer is maar steeds natuurlik lyk.

AMANDEL

Taylor Swift (sangeres)
Taylor Swift (sangeres) Foto: Gallo Images/Getty Images

Die vou van jou ooglid is sigbaar en jou iris verlaat nie die wit ruimte aan die onder- of bokant van jou oog nie. Jy wil ’n illusie van ’n opwaartse kurwe aan die buitehoeke skep.

Dit sal jou oë beklemtoon en oper laat lyk. Kies wimpers wat effens voller en langer na die buitehoek raak.

Om die illusie van ’n gevleuelde omlyner te behou en die wimpers aan die wimperlyn dig te laat lyk, moet jy dit nie met ’n wimperkruller krul nie.

wimpers
Eylure Lengthening Starter Kit No 118 R76
wimpers
Catrice Lash Couture #Instavolume Lashes R79,95
wimpers
Eylure Kimberley Lashes R62
wimpers
Essence Lashes To Impress 06 R54,95

MONOLID

Jeannie Mai (TV-ster)
Jeannie Mai (TV-ster) Foto: Gallo Images/Getty Images

By dié oogvorm is die vou van die oog afwesig, wat die bokant van die ooglid effens oor die boonste wimpers laat hang.

Jy wil die illusie van ’n vou skep. Kies wimpers wat kort en fyn aan die binnehoek en twee keer so lank en vol aan die buitehoek is.

Dit skep die illusie van ’n vou en lig die buitehoek van die ooglid, wat geneig is om te hang. Sodra die wimpers geheg is, kan jy dit met ’n wimperkruller oor die hangende ooglede krul.

wimpers
black|Up False Eyelashes No 04 R330
wimpers
Essence Lashes To Impress 03 Half Lashes R54,95
wimpers
Catrice Magnetic Accent Lashes Volume Effect R159,95
wimpers
Black|Up Magnetic Lashes R370

ROND

Jayma Mays (aktrise)
Jayma Mays (aktrise) Foto: Gallo Images/Getty Images

Jy het ’n sigbare vou en wit ruimte aan die bo- of onderkant (of albei) van jou irisse wanneer jy reguit vorentoe kyk. Jy behoort wimpers te gebruik wat ’n fokuspunt aan die ronde vorm van jou oë gee.

Beproef wimpers wat deurgaans dieselfde digtheid het; dit sal die boonste deel van die oog beklemtoon. Die wimperlengte kan effens van kort na lank van die binne- na die buitehoek gaan.

Aangesien die digtheid egalig is, kan jy dit krul.

wimpers
black|Up False Eyelashes No 01 R330
wimpers
black|Up False Eyelashes No 03 R330
wimpers
Eylure Textured Lash No 117 R64,95
wimpers
Eylure Lashes Enchanted Charm R82,95

AFWAARTS

Jennifer Aniston (aktrise)
Jennifer Aniston (aktrise) Foto: Gallo Images/Getty Images

Jy het ’n vou en die buitehoeke van jou oë is laer as jou pupille, selfs wanneer jy vorentoe kyk. Jy wil die buitehoek van die oog lig om dit meer in lyn met die pupil te laat lyk.

Die ontwerp en styl van die wimpers behoort vol en effens langer in die middel as aan die buite- of binnehoeke van die oë te wees. Dit trek aandag na die middel van die oog en skep ’n “opgeligte” voorkoms.

Om die wimpers opwaarts te krul, sal help om dié “opgeligte” voorkoms te skep.

wimpers
Catrice Lash Couture Classical Volume Lashes R79,95
wimpers
Ardell Glamour Lashes 101 Demi Black R49,95
wimpers
Eylure Texture Lashes No 150 R62
wimpers
Catrice Lash Couture Classical Volume Lashes R79,95

Kry dit hier

Ardell by Dis-Chem (0860-347-243); Black|Up by Edgars(080-020-3925); Catrice by Dis-chem (0860-347-243); Essence by Foschini (0860-576-576 ); Eylure by Takealot.com.

Hoewel ons alles in ons vermoë doen om die korrekte pryse te verskaf, kan foute voorkom waarvoor Huisgenoot en die verskaffers nie verantwoordelik gehou kan word nie.