Nadia steel sedert 2017 Suid-Afrikaners se harte toe sy haar debuut as Olivia in die SABC 2-sepie 7de Laan gemaak het.

Sy het in Oktober aangekondig dat sy die sepie verlaat, maar dis nie die laaste wat ons van dié pragtige aktrise gaan sien nie. Die stylvolle Nadia, wat ook haar lyf sangeres en model hou, deel gereeld die mooiste foto’s in die sosiale media, en haar byna 50 000 volgelinge – en ons – kan nie genoeg daarvan kry nie. 

Nadia sit omtrent nooit 'n modevoet verkeerd nie.

View this post on Instagram

Streets of Guadalajara Mexico. Wearing @_poise & @lady_rosella PC @erd_graphy MUA @mikevargas_makeup Hair @kim_garyrom_stellenbosch & @keirohairextensions #potd #travel #photoshoot #model #lifestyle #fashion #mexico

A post shared by Nadia Herbst (@nadiaherbst) on

Haar liefde vir mode kom reeds van kinderjare af, vertel die boorling van die Paarl. “Beslis van gr. 4 af toe ons civvies begin dra het op Vrydae en die meisies altyd onder mekaar beplan het wat hulle gaan dra,” vertel sy.

“Ek’t as kind baie bewus geraak van hoe ek myself aantrek en watter style nuut is. Dit was vir my lekker om te kon speel en soggens op te staan en ’n uitrusting te beplan.” Dis ook toe sy skoonheidskompetisies begin doen het dat sy geïnspireer is om haarself met haar klere uit te beeld. 

Nadia verander gereeld haar styl en wissel haar uitrustings van waaghalsig tot baie vroulik.

“Ek dink vir my gaan dit oor waar ek dit aantrek en by watter geleentheid my uitrusting sal pas. Ek is baie vroulik, bietjie sexy, maar ook ’n bietjie ontspanne,” sê sy. Sy geniet dit wel om nuwe modes uit te toets, maar meen dat sy glad nie by die hipster- of vintage-voorkoms pas nie. 

Haar styl voor die kamera en wat sy aantrek wanneer sy nie werk nie, verskil baie. Nadia pas haar uitrustings aan afhangend van die geleentheid waarheen sy gaan, maar is ook mal om in haar oefenklere te loop of sommer dae lank sonder grimering te bly. “Soms is daar dae dat ek net hakke wil dra.”

As ’n bedrywige vrou in die vermaakbedryf word daar van Nadia verwag om altyd op haar beste te lyk, maar hoe kies sy wat om wanneer aan te trek? “Ek lees gewoonlik die uitnodiging deeglik, doen navorsing oor die funksie en hoe mense gewoonlik daar sou aantrek, en dan kyk ek die weer. Ek is glad nie mal daaroor om koud te kry nie!” grap sy.

Wanneer sy by ’n fees sing met ’n hoë verhoog en baie mense wat van onder af opkyk, dra sy gewoonlik ’n broek, maar as sy by ’n elegante geleentheid sing, dra Nadia graag mooi rokke.

Sy het nie juis mense wat haar styl inspireer nie, verklap sy. Sy hou gereeld aanlyn winkels dop om met nuwe modeneigings by te bly. 

En haar gunstelingklere-items in haar kas? Die vraag is nie so maklik vir dié modeliefhebber om te beantwoord nie. “Mmm, dis moeilik.  Enige gemaklike eenstuk (jumpsuit) met ’n pakbaadjie is my gunsteling."

 

Nadia reis ook gereeld. Sy was onlangs in Mexiko en meen wanneer sy reis, kan sy nie sonder haar gesigprodukte klaarkom nie. “Ek gebruik glad nie net enige produk nie en wil ook nie waag om iets anders op my vel te sit nie. Ek sal ook nooit met grimering slaap nie,” vertel sy.

Sy gaan ook nêrens sonder kougom in haar sak nie. “Daar's net een geur wat ek gebruik: blou Infinity Stimorol!” vertel sy speels. 

Wat die nabye toekoms betref, is Nadia tans besig met ’n paar nuwe projekte. Donderdag was sy op pad Hollywood toe. “Ongelukkig kan ek nie veel sê nie, maar ek is tans besig  om op movies en my sang te fokus,” vertel sy.