Aimee se liefde vir mode het op ’n jong ouderdom begin. Haar ouma Marlene Smith was 'n Mej. Suid-Afrika-finalis en haar ouma se suster, Charlene Oberholzer, was 'n internasionale model.

“My ouma en haar sussie was albei modelle en ons het altyd lekker opgedress saam met hulle. My ouma se sussie Charlene het wêreldwyd gereis met haar modelwerk. Tannie Charlene se passie vir mode is 'n liefde wat my ma toe geërf het,” vertel Aimee aan Huisgenoot.

View this post on Instagram

O hi there ?? #myvalentine ♥?. . . . . . . @steven_kitshoff #valintinesday #hubs #ily #forever

A post shared by aimee_kitshoff (@aimee_kitshoff) on

Haar ma, Eleanor, het altyd moeite gedoen om ’n waardering vir mode by haar en haar suster, Ingrid, te kweek, vertel Aimee. Sy was tot middel van gr. 9 aan die Hoërskool Beaufort-Wes in die Karoo en het aan die Hoër Meisieskool Paarl in die Boland gematrikuleer.

“Ek onthou van kleintyd af die modetydskrifte in ons huis. My ma het ook moeite gedoen om die pad Kaap toe aan te vat vir shopping trips saam met die girls. So is ons as meisietjies al deur die drie ystervroue aan mode en styl blootgestel.” 

Aimee, wat onlangs haar 30ste verjaardag gevier het, vertel sy kon nooit in haar jonger dae haar voete vind wat styl betref nie. Dis eers toe sy uit die skool kom en later na Kaapstad verhuis het dat sy haar eie styl begin ontwikkel het.

Sy het die modebedryf in Kaapstad stelselmatig leer ken. Aimee, wat as grimeerkunstenaar in Kaapstad gewerk het, het baie geleer op die fotosessies waar sy gewerk het, ook deur met ontwerpers en modehuise te werk.

“Dit was waar my groot liefde vir mode begin blom het,” vertel sy. 

“Om te sien hoe stiliste te werk gaan en hoe klere en kleure saam kan werk. Die les wat ek hier geleer het is dat jou uitrusting ‘n storie kan vertel sonder dat jy eers iets hoef te sê.”

Haar styl

Aimee, wat aan mode se voorpunt is, beskryf haar styl as straatstyl-sjiek gemeng met glans. “Deesdae is ek mal oor 'n denim met 'n hoër snit wat ek met ’n paar mooi seilskoene (sneakers) vir 'n daguitrusting kombineer,” sê sy.

Aimee en Steven het twee jaar in die Franse stad Bordeaux gebly toe hy tussen 2015 en 2017 daar vir die Bordeaux Bègles uitgedraf het. Sy sê dis waar sy ’n meer edgy styl gekry het omdat straatstyl in dié land gewild is.

“My ma en oumas se glansryke mode-invloed is steeds ’n groot deel van my hart; daarom is ek lief vir 'n mooi hak en formele uitrustings. Gee my ’n jas of rok wat netjies pas, enige dag van die week!”

Haar styl-inspirasie

En wie inspireer Aimee se sin vir styl? Die werklikheidster Khloé Kardashian. 

“Ek vereenselwig my met haar figuur. Ek het ’n klein middel en is growwer gebou in my onderlyf.” Aimee meen Khloé weet presies hoe om haar aan te trek en haar kurwes te beklemtoon.

View this post on Instagram

Honey! I’m home! Beat: @styledbyhrush Hair: @cesar4styles

A post shared by Khloé (@khloekardashian) on

Haar gunstelingontwerpers

Aimee is dol oor sekere luukse handelsmerke en sê sy het baie gunstelinge, maar as sy moet kies, sal dit Gucci en Givenchy wees. Om nie te vergeet van die Italiaanse modehuis Valentino nie. 

Aimee het juis haar skoene vir haar troudag op 7 Desember 2018 by die Valentino-modehuis gekoop.

“Die Valentino-modehuis se styl is so klassiek en sjiek; daarom was ek nog altyd 'n groot bewonderaar van die handelsmerk,” vertel sy.

 

Aimee, wat van jongs af 'n liefde vir perde het en jare lank aan perdesport deelgeneem het, vertel Gucci kry hul inspirasie uit perde en perdrytoerusting. Dis hoekom die luukse handelsnaam so na aan haar hart is. 

Wat Givenchy betref, vertel Aimee, is dit die elegante, indrukwekkende silhoeëtte wat haar haar hart vinniger laat klop.

“Hul kleurpalette is neutraal, swart of wit. Ek is lief vir neutrale kleure; dus is dit 'n groot inspirasie vir my,” vertel sy.

Haar klerekas

Aimee se klerekas is enige meisie se droom en as sy haar gunstelingitems daarin moet uitwys, is dit nie ’n maklike taak nie.

“Daar is nogal ’n hele paar goed waarop ek heilig is. Ek glo dat 'n mens maar ’n geldjie moet belê in goeie gehalte skoene, belde en handsakke. Jy kan dalk hier of daar ’n kilo aansit of verloor, maar hierdie items bly pas.”

Haar gunsteling is haar geliefde Valentino Rockstud-hakke. Sy het in dié hakskoene getrou en sê dis ekstra spesiaal. Die ander gunsteling? Haar Gucci-handsak. 

Aimee en Steven reis gereeld en daar is twee dinge waarsonder sy nie kan reis nie. Gemaklike en stylvolle seilskoene en ’n denimbaadjie is belangrik vir haar wanneer sy en manlief die wêreld rondrits.

“Wanneer 'n mens reis, stap jy baie om alles rondom jou te ontdek en foto’s te neem,” vertel sy oor die seilskoene.

Oor die denimbaadjie vertel sy: “Denim is ’n materiaal wat by die meeste uitrustings pas en of jy nou ’n skemerkelkie op ’n dak in Parys drink en of jy deur die wind moet stap in die strate van Barcelona – op jou denimbaadjie kan jy staatmaak.” 

En as sy daagliks uitgaan, is daar ook items wat in haar handsak moet wees. “Ek noem dit my ‘handsak-kit’ en het altyd parfuum, lipglans en kougom byderhand,” vertel sy. 

Die geheim agter haar bikini-lyf: Fiksheid was nog altyd belangrik vir haar. Aimee geniet dit om op die strand uit te span en sy is nie skaam om met haar lyf te spog nie. 

“Ná skool doen 'n mens nie juis sport nie en dit het ’n groot verskil aan my lewe gemaak. Ek het vinnig gewig begin aansit en moes myself motiveer tot ek eindelik ’n oefenprogram gekry het wat vir my werk.”

Aimee vertel sy het by boksklasse baat gevind. Sy gim ook gereeld en hoop dat dit haar fiks en viets sal hou.

“Goed lyk en goed voel gaan hand aan hand. Dit neem tyd, maar sodra jy ’n sport of oefenprogram kry wat jy kan volhou en wat jy geniet, sal jy dadelik die verskil agterkom. Dalk is dit Pilates of dalk is dit boks; wat ook al, vind wat vir jou werk en moenie tou opgooi nie.”

Haar skoonheidswenke

Wat velsorg en skoonheid betref, het Aimee ’n paar geheime wat sy gewillig is om te deel.

1. Sorg goed vir jou vel. “Die geheim is: Pas jou vel op. Drink baie water. As jou vel gesond is en lyk, sal jou grimering sommer 10 keer mooier vertoon.”

2. Versorg jou wenkbroue. “Jou wenkbroue raam jou gesig. Maak seker jou wenkbroue is mooi gevorm en afgerond. As jy ligte wenkbroue het, kan jy dit laat tint. Die verskil sal jou onmiddellik verras.

3. Moenie bang wees om te eksperimenteer nie. “Waag maar daai rooi lipstiffie of rokerige oogskadu op ’n spesiale geleentheid. Dit vat weer net 'n bietjie oefen en probeer om te bemeester, maar jy sal gelukkig wees as jy sien waartoe jy in staat is.”

View this post on Instagram

la belle vie ♥?

A post shared by aimee_kitshoff (@aimee_kitshoff) on

Die geheim agter haar hare

Haar raad: Hoe natuurliker, hoe beter. Aimee probeer wegbly van die perfekte krulle en probeer ’n meer natuurlike kinkel kry wanneer sy haar hare stileer. “Daar is 'n hele klomp video's aanlyn beskikbaar vir inspirasie en hulp.

"Dis maar net oefening en probeer tot jy jou gewenste resultate kry.”


Ekstra bron: Sarie.com