Die beeldskone Tracey het Donderdag aan Huisgenoot vertel sy was nog altyd dol oor mode, maar dit is sedert sy Bravo! begin aanbied het en gestileer word dat sy mode nog meer geniet.

'n Mens wonder hoe sy altyd so pragtig voor die kamera lyk, maar Tracey sê dit is te danke aan haar stilis, Kyra Loubser, wat nie net heelwat klere-opsies bring nie, maar ook haar hare en grimering doen.

“Sy bring klere-opsies afhangend van die geleentheid, dan besluit ons wat die beste sal werk daarvoor en daarna doen sy my hare en grimering daarvolgens,” sê sy. Tracey kry stylinspirasie by mode-ikone soos Audrey Hepburn en selfs TV-karakters soos Charlotte - en ook ’n goeie skeut kleur van Samantha - van die Sex and the City-televisiereeks.

“Ek verkies klassieke lyne, maar is gaande oor kleur. Ek vind my inspirasie deur te sien hoe ander pret het met verskillende style en ook as Kyra net lekker kom speel met verskillende looks vir my.”

Hoewel Tracey altyd sjiek en stylvol voor die kamera lyk, sê sy haar styl agter die skerms is baie informeel, amper soos op Bravo, “buiten dat ek dan my pantoffels aanhet”, laat sy hoor. 

Wat haar gunsteling-klere-items betref, meen Tracey sy het ’n ‘ding’ vir baadjies. “Ek het onlangs ook ’n jong ontwerper aanlyn gevind wat die mooiste, helderste baadjies maak: Chepa Streetwear. Ek het sommer ’n hele paar gekoop, vir myself en my kêrel.”

Haar ander gunstelinge is haar jeans en leerbaadjie. Tracy meen dit maak dit makliker om sommer net jeans saam met ’n eenvoudige T-hemp aan te trek en dan net ’n prettige baadjie daarby te dra. En as sy kan kies tussen handsakke, skoene en klere - watter van dié drie verkies sy? 

“Skoene, beslis!” laat sy hoor.

“Daar is net iets aan skoene; jy kan die eenvoudigste uitrusting aan hê en jou skoene kan die hele uitrusting verander. Daar is ook deesdae soveel verskillende soorte tekkies, met die helderste kleure. Ek speel deesdae lekker in sneakers,” sê Tracey. 

'n Mens kan nie Tracey se pragtige hare miskyk nie. Haar hare glinster altyd; dus wou ons hoor wat haar geheim is vir dié gesonde bos hare. 

“Ek het laas jaar ’n master colourist ontmoet - ek het nooit eers geweet so iemand bestaan nie. Hy is ’n haarkapper, maar is spesiaal opgelei in die kleur van hare en watter soort kleur by verskillende persoonlikhede pas.”

Nadat sy ’n paar vrae beantwoord het, het sy uitgevind sy is ’n ‘Ms Harmony’. Volgens Tracey beteken dit sy hou nie daarvan om gereeld salon toe te gaan nie, want haar besige rooster laat dit nie toe nie.

Sedert Tracey se ontmoeting met Charles Junior Louw, oftewel Junior van HashTag Colour Lounge, is hy vir die versorging van haar hare verantwoordelik.

“Hy werk ook nou met Kyra saam om seker te maak dat ons almal op dieselfde bladsy is oor hoe ons na my hare moet kyk.”

Haar gunsteling-items vir die winter is oorgroot serpe wat Tracey vertel sy net lekker kan oorgooi. Sy sê daar is ook altyd ’n paar handskoene in haar handsak.

“En ek is dol oor breistof, veral ’n lekker breistofrok, met dik kouse, stewels, serp en baadjie. Ek is mal oor stewels!” vertel sy.