Haar rooi lipstiffie, pragtige vintage-rokke en beeldskone glimlag kan nie maklik in die sosiale media misgekyk word nie. Sy verklap wel dat sy eers op 25-jarige ouderdom begin aandag skenk het aan mode.

“As tiener het ek aspris aangetrek soos my ma nie wou hê ek moes nie, en as die dogter van ’n dominee wou ek ’n punt bewys,” vertel Leandie.

Op universiteit het sy met haar identiteit geworstel en eers later, toe sy bevriend raak met ’n groep meisies wat mooi aantrek, het sy bewus geraak van mode.

Volgens Leandie het haar beste vriendin, Michelle Gouws, haar baie oor mode geleer. “Michelle het my geleer dis oukei om mooi te wil aantrek, en daar is niks fout daarmee om in mode belang te stel nie.”

Leandie vertel dat mode altyd ’n teer punt vir haar was, omdat dit haar aan haar ma, wat sy in 2014 aan die dood afgestaan het, laat dink het.

“Ons het altyd daaroor baklei, want ons styl het heeltemal verskil. Dis toe ek dit laat gaan het, dat ek my eie styl en identiteit gevind het,” sê sy.

Die voormalige Getroud met Rugby-aktrise meen sy verander gereeld haar styl en sê sy vind inspirasie op platforms soos Pinterest en by die model Kendall Jenner. Sy is ook mal oor die ikoniese Coco Chanel. “Ek is mal oor haar, haar storie en hoe sy begin het. Ek dink sy's die coolste van alle ikone!” het sy laat hoor. 

View this post on Instagram

Backstage lights #TussenOns @kyknetkie

A post shared by Leandie du Randt (@leandiedurandt) on

Vir Leandie is haar uitrusting vir die dag grootliks gebaseer op haar bui. “Een dag trek ek soos ’n poppie aan, die ander dag soos ’n tomboy en die volgende soos ’n skater,” vertel Leandie.

Danksy haar liefde vir inkopies by tweedehandse winkels is dit makliker en meer bekostigbaar om gereeld haar styl te verander.

Leandie meen sy koop eintlik weinig duur klere-items. Sy besit ook haar eie klerereeks, Skoonma Clothing, en vertel sy is verlief op geplooide rompe.

“Ek het ’n obsessie met geplooide rompe! Toe ek onlangs in China op besigheid was, het ek baie geplooide rompe gekoop. Dié rompe is skaars en peperduur in Suid-Afrika,” sê sy. 

Op die oog af lyk dit asof Leandie se styl baie vroulik is, maar sy meen sy het meer van ’n tomboy-manier van aantrek.

Van haar gunsteling-items in haar klerekas sluit in haar Core leerbaadjie, wat van herwinbare leer  gemaak is, haar ma-jeans en ’n wit T-hemp. En moenie van die rooi lipstiffie vergeet nie! 

En die nuwe haredos? Dís te danke aan ’n nuwe rol, waaroor sy in hierdie stadium nie veel kan uitbrei nie, maar ook om ’n nuwe fase in haar lewe aan te kondig.

“Interessant genoeg beïnvloed 'n mens se hare ook baie hoe jy aantrek. Met die korter hare trek ek ironies genoeg meer vroulik aan, maar toe ek langer hare gehad het, was my styl baie meer boyish,” sê sy. 

Sy sê haar nuwe haarstyl laat haar toe om met ander klere te eksperimenteer. Dit maak haar ook opgewonde om weer oorbelle te kan dra, en boonop is sy ’n aanhanger van haarknippies, wat deesdae hoogmode is. 

Vir die winter vanjaar gaan Leandie ’n meer manlik geïnspireerde styl aanneem, nes Coco Chanel aan die begin van haar loopbaan gedoen het. 

Watter advies het Leandie vir mede-modeliefhebbers? 

“Wees gemaklik met wat jy aan het. Maak seker dit pas by jou persoonlikheid, want niemand kan jou daarin klop om jouself te wees nie.”