Die voormalige Mej. Wêreld vertel dat sommige vroue nie beeldskoon en mooi voel tydens ’n swangerskap nie, maar dat haar stralende gelaat aan oorweldigende dankbaarheid te danke is. Dit laat haar elke dag glimlag.  

View this post on Instagram

"Enjoy the little things, for one day you may look back and realize they were the big things." Robert Brault ?????? Uncomfortable and BIG, but soooo grateful ?? #31weekspregnant

A post shared by Rolene Strauss (@rolenestrauss) on

Die 27-jarige Rolene het haar en haar man, die sakeman D'Niel Strauss, se tweede spruit se geslag op vanjaar se Pink Polo-geleentheid op die Val de Vie-landgoed in die Paarl bekendgemaak. Sy het die geslag van hul nuweling - 'n seuntjie - met ’n poeierblou belt om haar middel bekendgemaak. Die belt is met ’n wit vloerlengte skepping gekombineer. 

“Ek wou so klassiek en gemaklik moontlik voel. Die wind waai meestal tydens die Pink Polo en ’n rok wat los is en in die wind waai, skep dadelik ’n mooi prentjie. Dié belt was natuurlik spesiaal gekies om die geslag van ons jongste gesinslid aan te kondig,” het sy aan Huisgenoot vertel.

Rolene, wat sowat 33 weke swanger is, meen sy is bevoorreg dat die piek van albei swangerskappe in die somer is. Die paartjie se nuwe spruit sal na verwagting in Februarie 2020 gebore word. 

En wat is haar geheim om altyd op haar beste te lyk tydens 'n swangerskap?

“Vir my is gemak die belangrikste. Daar is niks so sleg soos 'n belt wat druk, ’n broek wat afrol of ’n rok wat te styf sit nie.

“Ek leef in los, gemaklike, kleurvolle en vloeiende rokke. Dit is ook heerlik vir die somer en wanneer ek gemaklik voel, geniet ek my swangerskap sommer meer,” het sy laat hoor. Die beste deel is dat daar soveel rokke is wat sy weer kan dra. 

Rolene en haar man, D'Niel, het in 2017 hul eersteling verwelkom en volgens dié trotse ma, het haar styl nie veel verander nie. Sy benader wel haar stylkeuses meer versigtig noudat haar seuntjie (2) net wil speel.

“Die grootste verandering is dat ek glad nie meer broeke dra nie. Ek is ook versigtiger vir rokke met patrone en kies baie meer noukeurig. My klerekas het aansienlik gekrimp,” vertel die pragtige Rolene.  

Haar gunstelingitems in haar klerekas op die oomblik is rokke, rokke en nóg rokke. Ook plat, gemaklike skoene is belangrik. “Rokke in alle kleure en plat, gemaklike skoene wat lekker breed is,” sê Rolene. Ná ’n lang dag, swel haar voete en pas ander skoene nie mooi nie. 

Sy is ook mal oor kleurvolle oorbelle en lipstiffie, want volgens dié glansvrou, maak lipstiffie ’n uitrusting sommer vinnig interessant. 

En wat dra ’n voormalige Mej. Wêreld en ’n swanger ma met ’n bedrywige kleintjie altyd in haar handsak saam? “Klamlappies, ’n peuselhappie, water en ’n speelding is elke ma se grootste aanwins.” 

Volgens Rolene het sy ook altyd Estée Lauder se 8-uur-room, wat sy vir haar lippe gebruik, byderhand. “Saam met ’n bietjie liefde laat dit ’n ‘eina’ sommer vinnig beter voel,” sê dié trotse ma. 

Wat is Rolene se raad aan swanger vroue wat dit moeilik vind om tydens 'n swangerskap gemaklik aan te trek? 

  • Kry vir jou 'n paar items waarin jy gemaklik en goed voel en moenie bang wees om dit oor en oor te dra nie. Maak seker dat dit iets is wat jy regdeur jou swangerskap kan dra, byvoorbeeld ’n los rok wat jy aan die begin met 'n belt kan vasbind en later net so kan aantrek.
  • Wees konserwatief met jou keuses en kikker jou uitrustings op met helder juwele, serpe, kopbande en lippe. So kan jy jou rokke oor en oor dra en elke keer anders laat lyk.
  • Wanneer jy ongemaklik voel (wat baie gereeld gebeur), dink aan hoe bevoorreg jy is om 'n klein wonderwerkie te kan dra.