Zoë se liefdesverhouding met mode en styl het als agter die skerms van die ontbytprogram Expresso begin toe sy sommer die uitrustings wat sy as aanbieder tydens die program gedra het, op die plek gekoop het.

Zoë Brown
Foto: Tegan Smith Photography

“Ek is amper te skaam om dit te erken. Maar wat klere betref, voel ek soos ’n plain Jane! Die Expresso-stilis het altyd vir my gelag, want as ek van ’n uitrusting gehou het, het ek dit net daar gekoop en met die klere aan my lyf van die stel afgestap,” vertel Zoë, wat verlede jaar die program ná vier jaar verlaat het.

Deurmekaar winkels is glad nie Zoë se gunsteling nie en sy verklap dat die meerderheid van die klere wat sy het, het sy óf op die stel van ’n fotosessie óf selfs van die winkelvensterpop gekoop. 

Zoe Brown
Foto: Eben Photography

“Ek is mal oor items wat ek in die winkelvensters sien. Ek is basies ’n lazy shopper!” 

Haar styl

Zoë het in Kuilsrivier in die noordelike voorstede van Kaapstad grootgeword en was 12 toe haar gesin Durban toe verhuis het. Sy beskryf haar styl as vroulik en klassiek maar eenvoudig. Sy het op 13 al bewus geraak van wat sy aantrek, vertel sy.

“Ons het in Durban gewoon en ons wou nuwe klere koop vir ons vakansie in die Kaap. Ek het niks gehou van die klere in die kinderafdeling en moes my ma vra om my na die ‘grootmens’-afdeling te neem, want ek wil nie meer die prentjies op my toppies hê nie.” 

Zoë Brown
Foto: Tegan Smith Photography

Sy het as tiener ook inspirasie geput uit wat haar vriendinne gedra het tot sy gemaklik was om met haar haar eie persoonlike styl te eksperimenteer.

Nou, op 30, lyk dit asof Zoë wel haar voete gevind het met mode, want waar ook al sy gewaar word, lyk sy stylvol en modieus.

“Ek hou van enkele items soos rokke. Ek is mal oor helder kleure en blompatrone. Vir my is minder meer. As ek wel van iets hou, koop ek dieselfde ding in verskillende kleure. My ma (Fredeline) sê ek is so van kleintyd af!” skerts sy.

Zoe Brown
Foto: Eben Photography

Haar gunstelingitem in haar klerekas

Daar is wel een item in haar klerekas waaroor sy heeltemal gaande is, en dís wit tekkies. “Ek het omtrent 11 pare wit tekkies in my kas! Dit gee ’n oulike sports-luxe look en jy kan dit met amper enigiets dra. Dis ook lekker gemaklik,” sê sy.

Zoe Brown
Foto: Eben Photography

Zoë is ook mal oor maksirokke vanaf die plaaslike handelsnaam Opari, en meen dis ’n veelsydige item wat met tekkies of hakke gedra kan word.

Zoe Brown
Foto: Eben Photography

Sy pluk maksirokke uit haar klerekas wanneer sy geleenthede bywoon en kan dit maklik van 'n dag tot aand-uitrusting omskep. Wanneer sy uitgaan, verlaat sy nie die huis sonder dat sy sonbrandroom aan haar gesig het nie; en dít selfs in winter. 

“Dis so belangrik om jou vel teen die son te beskerm,” sê sy. Sy het ook altyd ’n bottel water byderhand asook ’n paar klein, eenvoudige oorbelle en ‘n horlosie, want volgens Zoë kan sy nie bekostig om laat te wees nie! 

Styl-inspirasie

En wie inspireer dié modeliefhebber?

“Ek is mal oor die hertogin van Cambridge, Kate Middleton, en die Amerikaanse blogger Rachel Parcell. Sy het haar eie klerereeks en ek vrek daaroor!”

Zoe Brown
Foto: Tegan Smith Photography

Hoewel dié vroue Zoë inspireer, was sy self ’n inspirasie toe sy op 17 die tweede plek in die Mej. SA-Tiener-kompetisie losgeslaan het. 

Dis wat sy oor haar oorwinning en drome van ’n Mej. SA-kroon te sê het:

“Dit was ’n droom om Mej. SA te wees. Wat die skoonheidsbedryf betref, het die afgelope paar bewys dit steek in Suid-Afrika se pype om internasionale titels te wen. Kyk net na ons huidige Mej. Heelal, Zozibini Tunzi, en selfs die vorige wenners van Suid-Afrika soos Rolene Strauss (Mej. Wêreld) en Demi-Leigh Nel-Peters (wat in 2017 Mej. Heelal was). Die dames is passievol om ’n verandering te maak. So as jy eendag beplan om in te skryf, hou aan om groot drome te droom. Die wêreld sien Suid-Afrika raak.”

Zoe Brown
Foto: Eben Photography

Haarverkleurmannetjie

As daar wel een ding is wat Zoë baie trots op is en geniet, is dit vrouwees, want sy geniet dit om met haar voorkoms te eksperimenteer. 

“Ek kan nooit besluit of ek lang of kort hare wil hê nie. Ek doen altwee!”

Zoë Brown
Foto: Tegan Smith Photography

Zoë meen dat sy aankniphaarverlengings dra vir wanneer sy lang hare wil hê en haal dit uit wanneer sy dit korter wil dra.


Zoe Brown
Foto: Eben Photography

“Ek speel gereeld rond met my hare. As daar iets is wat jy nog altyd wou gedoen het met jou hare, doen dit!”