Masker dra help voorkom die verspreiding van covid-19, maar dit kan ook jou vel verniel. Al is dit nie ’n opsie om nié ’n masker te dra nie, bly dit wel belangrik om jou vel in die beste toestand te hou.

’n Masker, ongeag watter soort jy gebruik, veroorsaak wrywing met jou vel en vang hitte en vog van jou asemhaling vas. Dit ontwrig die vel se beskermende funksie en vererger enige bestaande veltoestand wat jy het.

Die vel se beskermende funksie help om die uitwerking van eksterne faktore soos besoedeling, chemikalieë en allergene te versag. En dit help voorkom die verlies van water.

Die dra van ’n masker verander ook die pH van die vel, en ’n ongebalanseerde pH saam met die ontwrigting van die normale beskermende funksie kan lei tot:

  • Wrywing, wat die vel se buitenste laag beskadig en sensitiewer maak. 
  • ’n Allergiese reaksie weens kontak met ’n masker (dermatitis).
  • Masker-aknee – puisies as gevolg van masker dra.
  • Droogheid, wat plooie veroorsaak.

Bestry die probleme so

Jou masker moet stewig pas en nie te styf of te los sit nie. Wanneer jy ’n masker dra, sal wrywing waarskynlik aan jou ken, die brug van jou neus en agter jou ore voorkom. Dit veroorsaak rooiheid en sensitiwiteit.

As dit nie behandel word nie, kan dit ’n infeksie veroorsaak. As jy wrywing ervaar, smeer ’n dun laag sinkoksied aan die geïrriteerde areas aan.

Dit sal as ’n skans tussen die masker en jou vel dien sonder om die werking van die masker te beïnvloed. Petroleumjellie dien dieselfde doel.

Jy kan ook ’n dun verband aan die aangetaste plekke gebruik om druk te verlig en wrywing te voorkom.

Allergiese kontakdermatitis

Dit kom voor wanneer die vel met ’n prikkelende middel in aanraking kom wat tot rooiheid of ’n uitslag lei. Nog simptome sluit in swelling, sonsensitiwiteit en skilferige vel.

Al is die uitslag nie aansteeklik nie, kan dit jeuk en ongemaklik wees. In dié geval ontwikkel jou vel dalk ’n allergiese reaksie op die materiaal van die masker of die middel waarmee dit gewas word.

Die oplossing is om ’n katoenmasker te dra en sintetiese stowwe te vermy.

Gebruik ook ’n sagte wasmiddel om jou masker mee skoon te maak, en vermy enigiets wat te sterk of swaar gegeur is.

Was jou masker daagliks as jy dit gereeld gebruik om te keer dat bakterieë op die masker opbou.

Masker-aknee

Dit verskyn dalk in die vorm van ’n uitslag of puisies. “Meganiese irritasie wat die vel se beskermende funksie verswak, is ’n groot oorsaak van puisies onder maskers, en vog en hitte van jou asem word ook onder jou masker op jou vel vasgekeer,” sê Karen Bester, ’n mediese afrigter by die skoonheidshuis Lamelle.

Dit plaas nie net stremming op die vel nie; dit laat ook bakterieë en vuilheid die vel binnedring en lei tot uitslag.

Die sleutel is sagte en deeglike reiniging om bakterieë weg te hou. Kies reinigers met salisielsuur vir diepreiniging en skilfer gereeld af om olievervaardiging te help verminder.

Kies ’n strelende bevogtiger om vogvlakke te help aanvul en die beskermende funksie te herstel.

Enigiets met hialuronsuur sal vog help herstel en behou.

masker
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Droogheid

Wanneer ’n irriterende materiaalstof wat hitte en vog vaskeer heeltyd teen die vel vryf, sal die vel tot droogheid geneig wees. Die herstel, behoud en bewaring van vog is deurslaggewend.

Gebruik ’n gesigwas en bevogtiger wat hialuronsuur bevat. Die gesigwas reinig sagkens sonder om die vel te stroop, en die bevogtiger herstel vog.

Wend sonskerm en dan ’n beskermende room aan op die area waar jy waarskynlik droogheid sal ervaar.

Bevog jou neus en lippe ook voor jy jou masker aansit om te keer dat dit droog raak.

Wenke

  • Hou jou masker skoon. Maskers vang olie en vuilheid vas, en as jy joune nie gereeld was nie, sit jy ure – of selfs dae – se vullis terug aan jou vel elke keer wanneer jy dit dra.
  • Vermy produkte met ’n hoë persentasie aktiewe bestanddele, want dit raak onstabiel onder hitte en vog en kan so nog ontwrigtings aan jou vel veroorsaak.
  • Wees geduldig met enige lastige velsimptome. Wanneer jy ’n roetine gekry het wat vir jou werk, sal jou vel geleidelik na normaal terugkeer. Moenie in die versoeking kom om kitsoplossings te soek nie. ]
  • Haal jou masker af wanneer jy alleen in die motor is. Die vasgekeerde lug en hitte binne die voertuig sal sake net vererger.
  • As jou probleme aanhou vererger, ongeag wat jy probeer, maak ’n afspraak by ’n dermatoloog. 

Nog faktore wat sake kan vererger

  • ’n Gepeuter met jou masker veroorsaak meer kontak met jou vel as gewoonlik. Dit lei tot meer wrywing en plaas meer bakterieë in kontak met jou vel. Kry ’n masker wat knus pas sodat jy dit nie gedurig hoef te verstel nie.
  • Om nie jou vel behoorlik te reinig nie beÏnvloed ook jou vel se reaksie. ’n Skoon vel is die eerste en belangrikste stap. As jy nie deeglik reinig nie, sal jou vel nie die produkte wat jy aanwend behoorlik absorbeer nie.
  • Grimering onder jou masker verstop porieë; probeer dit dus heeltemal vermy. Jou vel sal nie onder die grimering en die vasgekeerde hitte en vog van die masker kan asemhaal nie. As jy ’n bietjie bedekking benodig, gebruik getinte sonskerm en ’n bietjie verbloemer hier en daar waar jou gesig blootgestel is.
Ekstra bronne: Instyle.com, Healthline.com, Glamour.com, Lamelle.co.za
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe