Maar ná ’n lang dag by die werk, ’n aand uit saam met vriende of jou kinders met hul huiswerk help, is dit ’n versoeking om dié stap sommer oor te slaan. 

Studies toon dat om met grimering aan te slaap jou porieë kan verstop en aknee en swartkoppies veroorsaak. 

Dit kan ook tot die voorkoms van donker kringe onder jou oë bydra en jou met ’n dowwe gelaat laat. Daarby kan dit die natuurlike kollageen in jou vel afbreek, wat tot uitslag en velirritasie kan lei.

Dus is dit in jou vel se belang om sonder grimering te gaan slaap. Hier is drie tydbesparende wenke vir die verwydering van grimering.  

1. Grimeringverwyderingslappies

Dié lappies kan met ’n veeg jou gesig skoonmaak en grimering verwyder. Maak seker jy gebruik lappies wat jou vel hidreer. Dit sal jou met ’n vel laat wat vars en gesond lyk. 

2. Reinigingsolie

Reinigingsolie is wonderlik vir droë veltipes. Dit is voedend en nie so sterk soos ander grimeringverwyderaars nie. Dit werk selfs goed vir ’n olierige vel, want dit verwyder sebum (’n olierige afskeiding van die talgkliere) terwyl dit die vel se natuurlike vog behou. 

3. Miselwater

Reinigingswater is ’n goeie alternatief vir doeltreffende grimeringverwydering, want dit reinig ook jou gesig.

Die water is verryk met bevogtigende bestanddele en ’n mengsel verbindings wat olies afbreek. Dit trek al die vuilheid wat op die oppervlak van die vel is aan en verwyder dit en laat die vel skoon en verfris. 

En moenie van bevogtiging vergeet nie! Doen dit elke keer nadat jy jou grimering verwyder het – of jy nou jou gesig behoorlik gewas of kortpad gekies het. Dit sal jou vel sag en bevogtig laat voel. 

Bronne: Bustle, Style Craze, Elle