Groot borste

Oprah Winfrey
Foto: Gallo Images/Getty Images

Oprah Winfrey wys hoe jy jou bates met ’n laer halslyn kan vlei. Of dra hemde en los die boonste twee knope oop. Jy kan ook rondehalstops dra of bloese met sakke.

Bloese is maklik om in te steek – selfs al het jy nie ’n definitiewe middellyf nie – en skep ’n formeler voorkoms. 

Wenk 

Sjiffon is die ideale materiaal, want dit val sagkens oor jou borste en lyk nie bonkig nie. 

Fyngebou met groot borste

Kat
Foto: Gallo Images/Getty Images

Hou jou uitrustings eenvoudig met skoon lyne, en kyk uit vir items wat jou middellyn beklemtoon. Laat jou baadjies en tops tussen jou middel en heupbeen eindig.

Jy kan ook jou figuur langer laat lyk deur dieselfde kleur van kop tot tone te dra of dit te laat herhaal soos die swart in die aktrise Kat Dennings se top en romp.

Wenk

’n Korter, oop baadjie of knooptrui skep ’n vleiende silhoeët. Platform- skoene laat jou bene langer lyk

Lank

Karlie Kloss
Foto: Gallo Images/Getty Images

Dra hakke! Niks lyk meer gesofistikeerd as ’n lang vrou wat wys hoe trots sy op haar statuur is nie. Kyk net vir die model Karlie Kloss – haar 1,88 m is ideaal om klere op hul beste te laat lyk. 

Wenk

Beklemtoon jou middeltjie om jou lang lyf definisie en ’n slanke silhoeët te gee. 

Plusgrootte

Bette Midler
Foto: Gallo Images/Getty Images

Vergeet van die ewige modewenke oor wat ’n plusgrootte-vrou behoort te dra. As jy klere koop, gaan dit net oor jóú en wat jou laat goed voel.

Maak soos die aktrise en sanger Bette Midler: Fokus op hoe ’n kledingstuk pas en speel na hartelus met die silhoeëtte en vorms wat vir jou beskikbaar is. .

Wenk

Waag met kleure, patrone en teksture, en speel rond met verskillende bykomstighede.

Langbene

Zozibini Tunzi
Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié vorm is een met ’n klein tot middel­grootte-bolyf en lang bene – soos ons stylvolle Mej. Heelal, Zozibini Tunzi.

Hoewel die meeste vroue dit as die ideale lyf beskou, is dit in die werklikheid moeilik om aan te trek: Die verkeerde pasmaats kan jou te lank of tenger laat lyk.

Kies klere wat kontras tussen jou bo- en onderlyf skep en wat ’n goeie snit het.

Wenk

Dra helder motiewe, nousluitende rompe, en ligte jasse van alle teksture met beltdetail – jy het talle prettige keuses.

Reghoekig

Gwen Stefani
Foto: Gallo Images/Getty Images

Met hierdie figuur is jou skouers en heupe dieselfde breedte en jy het gewoonlik klein borste en boude.  Die sangeres Gwen Stefani beklem­toon haar middel om haar lyf definisie te gee.

V-nektoppies, oorvoubloese, empire-styl-rokke en -bloese is almal goeie keuses om jou liggaam vorm te gee waar jy dit wil hê. 

Wenk

Elegante plooirompe, asook broeke met ’n klassieke snit en met agter­sakke, kan volume gee.