Om jou hare te kleur kan jou ’n vars, nuwe voorkoms gee.

Maar jy moet versigtig wees, want as jy jou hare te gereeld kleur, dit met ander chemiese behandelings soos krulverslapping (relaxing) kombineer of nie agterna proteïenbehandelings gebruik nie, kan jou hare vaal raak en beskadig word.

Wanneer jy jou hare kleur, word die haarwand met peroksied oopgemaak sodat die kleur die skag kan binnedring.

Dit kan jou hare beskadig as dit nie reg gedoen word nie.

Skoonheidswenk
Kam nat hare met 'n wye-tand-kam.

BY DIE HUIS

’n Kenner sal nooit aanbeveel jy kleur self jou hare nie, maar ons doen dit in elk geval.

Die maklikste haarkleurtaak om self te doen is ligstrepe, want dit is amper soos ’n koltoets en beskadig skaars die hare. Donker kleure soos swart, pruim of bruin is veiliger om by die huis te beproef, want dit verg net een aanwending.

Kies ook liefs ’n skakering wat na aan jou natuurlike kleur is as jy dit self aanpak. Jy het ’n kenner nodig as jy ’n unieke kleur soos grys, oranje, helderblou, rooi of pienk wil hê.

Die proses om dié kleure te bereik is baie ingewikkelder.

Jou hare moet dalk ’n paar keer gebleik word voor die kleur bygevoeg kan word. En selfs dan moet die kleur dalk meer as een keer aangewend word.

Skoonheidswenk
Moenie jou hande gebruik om kleur aan te wend nie.

VERSORG DIT SO

  • Hou jou hare droog of dra ’n swempet wanneer jy in ’n swembad swem. Of wend inblyopknapper aan klam hare aan voor jy lyf natmaak. Spoel dit agterna af.
  • Gebruik kleursorg- of kleurverbeteringsprodukte, veral sjampoe en opknapper. Die etiket sal aandui of die produk spesifiek vir kleurbehandelde hare gemaak is.
  • Moenie hittetoestelle gereeld gebruik nie, en wend altyd hittebeskermingsprodukte aan wanneer jy dit wel gebruik.
  • Moenie jou hare vir lang tydperke aan die son blootstel nie. Dra ’n sonhoed wanneer jy buite is.