Saam met ’n bedrywige skedule kom problematiese haarkeuses – óf jy sit met nat hare óf jy moet aangaan met vuil hare tot jy dit kan was.

Daar is egter slim maniere om rondom vuil hare te werk, en sommige haarstyle werk beter met nat hare. Probeer een daarvan wanneer die krag (of Eskom!) jou weer in die steek laat.

Haarstyle om met vuil hare te probeer 

Franse vlegsel

franse vlegsel
Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié styl verbloem nie net vuil hare nie; omdat dit binnetoe gevleg word, kan jy dit ook gebruik om krulle sonder elektriese toestelle te kry. Vleg jou hare in die oggend in ’n Franse vlegsel. Wanneer jy dit later die aand losmaak, sal jy met sagte, golwende krulle spog.

Haarnaalde 

Haarnaalde is wonderlik om gestileerde hare mee vas te maak. Maak net seker dit boor nie in jou kopvel in nie.

Droë sjampoe 

Spuit die vorige aand droë sjampoe aan jou hare sodat dit oornag ekstra olie kan absorbeer. Dra ’n satynserp of gebruik ’n satynkussingsloop sodat jou hare nie oortollige vog verloor nie.

Nat hare

omgekame hare
Foto: Gallo Images/Getty Images

Dis waarskynlik die maklikste styl om te probeer. Nadat jy jou hare gewas het, wend jel of mousse aan die nat hare en kam dit in plek. Die styl werk goed met lang én kort hare.

Haarlynjel 

Jel wat fyn haartjies laat plat lê (edge tamers), werk goed aan skoon hare; maak dus seker daar is geen oortollige produkte aan jou hare nie. Nadat jy jou produk aangewend het, maak jou hare toe met ’n syserp en dra dit 30 tot 60 minute lank sodat die produk kan set.

Bykomstighede

bykomstighede vir hare
Foto: Gallo Images/Getty Images

Haarbykomstighede soos haarbande, serpe, hoede en bandanas kan vuil of ongestileerde hare mooi wegsteek.

Kies jou bykomstighede volgens wat jy probeer verbloem. ’n Haarband kan weerbarstige fyn haartjies om die haarlyn wegsteek en ’n bandana kan olierige wortels verbloem.

Wyetandkam 

Gebruik altyd ’n wyetandkam of -borsel wat hare maklik ontkoek wanneer jy nat hare kam, want dit veroorsaak dat hare minder breek as met gewone borsels. Dit kam ook vuil hare beter uit.

Opgekam

opgekamde haarstyl
Foto: Gallo Images/Getty Images

Hierdie styl is wonderlik om vier redes: Dit steek vuil hare weg, jy kan dit met nat hare ook doen, dit steek gesplete punte weg en dis doodmaklik om reg te kry. Voeg haarverlengstukke by as jou hare nie volume het nie of wanneer jy ’n groter bolla wil hê.

Kam jou fyn haartjies plat met ’n jel wat dit in toom hou.

Mousse 

Mousse hou nie net gestileerde hare in posisie nie; dit laat dit ook sysag en blink lyk.

Strandkrulle

nat hare
Foto: Gallo Images/Getty Images

Wanneer jy jou hare ná ’n was laat lugdroog word, kan dit onversorg lyk, maar net ’n paar spuite seesoutsproei sal sorg vir volmaakte strandkrulle. Dit werk veral goed op reguit hare. Rond dit af met ’n serum vir glans.

Jel

Jel sal jou hare heeldag op hul plek hou, soos wanneer jy wil hê jou natharevoorkoms moet heeldag dieselfde lyk of nie met wegstaan-hare wil sukkel nie.

Verby is die dae waar vuil hare in jou pad staan!