skaaf,skoonheid
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wat skaaf so? Skaafplekke word veroorsaak deur wrywing wanneer vel teen vel of teen klere skuur. As jy graag oefening doen of oorgewig is, het jy waarskynlik al sulke skaafplekke opgedoen. En dis nie lekker nie.

Dit kom gewoonlik onder die borste, in die lies, aan die voete en onder die armholtes voor en kan deur bra’s en nou ook maskers veroorsaak word.

Dit is algemener in die somer vanweë die hitte en omdat skrapser klere meer vel blootstel. Die vel word rooi, skilfer af of word afgevryf.

Daar is maniere om dit te voorkom, te lawe en te behandel. Maar kom ons kyk eers na die verskillende soorte skaafplekke. 

So skaaf ons

1. Voete

Die voortdurende beweging en druk van voete in skoene veroorsaak wrywing en word deur sweet vererger. Gevolglik kom skaafplekke voor.

Dit gebeur onder die voete, tussen die tone en aan die hakke. Drawwers ervaar dit baie. Soms veroorsaak skoene wat nie goed pas nie ook lelike skaafmerke.

skaaf,skoonheid
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

2. Onder die borste

As jy groot borste het en nie dikwels ’n bra dra nie, sal jy waarskynlik wrywing ervaar.

Dié soort skaafplek kom voor wanneer die onderste deel van die borste teen die rib-area of die boonste deel van die maag skuur.

3. Bandjies en onderdraad

Dit is ’n algemene soort skawing en veral ’n probleem vir vroue wat oorgewig is, maar dit kan met enigiemand gebeur.

As jy ’n groot keëlgrootte het, het jy dalk al skaafplekke aan jou skouers onder die bra se bandjies ervaar en onder die borste waar die onderdraad teen jou vel skuur.

4. Lies

Dit is die algemeenste skaafplekke by mense wat oorgewig is of kapknieë het. Dit vererger in die somer wanneer jy ’n rok dra en die binnekante van jou bobene teen mekaar skuur.

Klere wat nie vog absorbeer en wrywing verminder nie, sal tot skaafplekke bydra.

5. Nek

Dit is algemeen by babas en oorgewig mense.

Die vel aan die nek vryf teen die vel self (veral as daar rolle in die nek is) en lei tot skuurplekke. Swemdrag wat om die nek vasgebind word, kan dit ook veroorsaak as dit te styf vasgemaak is.

6. Armholtes

Sweet tesame met vel wat teen vel skuur, kan skaafplekke veroorsaak.

7. Maskers

Vir dokters is maskers deel van hul beroep, maar die res van ons raak nog gewoond aan dié “nuwe normaal” wat deur die pandemie veroorsaak is.

As jy vir lang tydperke ’n masker moet dra, het jy waarskynlik al skaafplekke agter jou ore, op die brug van jou neus of aan jou ken opgedoen.

skaaf,skoonheid
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Oplossings

  • Hou die area droog waar dit waarskynlik sal skaaf. Skaafplekke word deur sweet vererger. Klere wat vog absorbeer, sal sweet verminder en gevolglik ook ongewenste wrywing.
  • Dra gemaklike klere wat kan asemhaal. As jy klere dra wat hitte vasvang en jou laat sweet, dra onderklere wat as ’n uitdrogende versperring sal dien.
  • Wend poeier aan. Dit absorbeer vog en sal jou help droog bly.
  • Dra ’n masker wat oor jou kop gaan en nie agter jou ore nie om wrywing te voorkom. Maak seker dit pas goed sodat die brug van jou neus nie geïrriteer word nie.
  • Wend petroleumjellie aan die area aan waar die skawing waarskynlik sal plaasvind om die vel se buiteoppervlak te beskerm. Dit is ’n goeie wenk vir drawwers en stappers. ’n Room wat sinkoksied bevat, werk net so goed.
  • Sit ’n pleister of enige ander vorm van ’n skans aan om wrywing op sensitiewe plekke te voorkom.
  • Smeer genesende en beskermende room aan die aangetaste area. Maak altyd eers die aangetaste area skoon en laat dit droog word voor jy jou produk aanwend.
  • Besoek ’n dokter as jy bloei of pyn ervaar. 
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe