Steek jou hand op as pouses se uithang saam met jou pelle die enigste rede is hoekom jy skool toe gaan. 

Wel, dis tyd om ook oor jou leerwerk geesdriftig te raak as jy jou hoërskoolloopbaan suksesvol wil voltooi. 

As jy met goeie punte wil afsluit, sal skoolwerk een van die dinge moet word wat jou opgewonde maak. Ons het ’n onderwyser praktiese wenke gevra.

1. DINK ANDERS OOR SKOOLWERK

Jy skakel af die oomblik wanneer jy in die klas instap, jy stel nie belang in wat die onderwyser sê nie, en die werk is een grys massa inligting. Klink dit bekend? 

DOEN DIT  

Gaan deur al jou skoolboeke en merk met plaknotas dit wat jy nie verstaan nie.

Vra ’n maat wat in die betrokke vak uitblink om dit aan jou te verduidelik, google meer oor die onderwerp of vra jou onderwyser om dit weer te verduidelik.

2. MOENIE ANDER PROBEER BEÏNDRUK NIE

Jou vriende sal dit dalk waardeer as jy die grapjas is wat almal laat skater terwyl die onderwyser julle probeer stilkry. 

Maar in die eksamenlokaal is alle grappies op ’n stokkie en sit jy met die gebakte pere.

Los dus die aap­streke vir pouse of naweke en moenie jou maats probeer vermaak of beïndruk nie.

3. STEL BELANG

Die stryd om inligting te onthou is half gewonne as jy belangstel in dit wat jy leer.

Onthou, nuwe inligting is nie die vyand nie; dit is daar om jou te verryk en vir die grootmenswêreld voor te berei.

Dink aan elke les as ’n geleentheid waar jy iets nuuts leer en wêreldwyser word. 

4. WEES EKSAMENGEREED 

Hersien jou werk daagliks – so kan jy dadelik identifiseer waarmee jy sukkel en dit sommer die volgende dag met die onderwyser bespreek voor julle met ’n ­ander onderwerp begin. 

‘As jy jou daaglikse opsommings doen, sal jy die werk oor ’n langer tydperk onthou, wat beteken dat jy voor die eksamen net hersien pleks van al die werk in een aand onder die knie probeer kry,’ is die raad van Lluwellyn Edas (27), ’n onderwyser aan die Hoër­skool Berna­dino Heights in Kraaifontein in die noordelike voorstede van Kaapstad.

5. SKEP ORDE

‘Die geheim met organisering is voorbereiding. Elke leerder ontvang ’n klas­rooster wat aandui in watter vakke hulle op watter dag onderrig kry. Leerders in ons skool ontvang ook jaarliks ’n dagboek met die hele jaar se beplanning daarin,’ sê Lluwellyn.

Hier is sy wenke vir organisering: 

JOU SKOOLWERK

Plak ’n groot kalender teen jou kamermuur.

Skryf daarop die inleweringsdatums van take, toets- en eksamendatums sowel as die skool se sosiale geleenthede wat gedurende die jaar plaasvind.

Die kamer is die beste plek vir die kalender, want jy sal dit elke dag sien en herinner word aan als wat afgehandel moet word.

Sodra ’n spesifieke taak ingegee of toets afgelê is, kan jy dit doodkrap en die volgende taak aanpak.  

JOU SKOOLTAS

Bekyk elke aand jou klasrooster en pak jou hand- en skryfboeke in die volgorde van die volgende dag se vakke.

So sal jy voorkom dat jy enige boeke by die huis vergeet of in die gejaag soggens die verkeerde boeke gryp.

6. VERBEEL JOU DIE ERGSTE 

Dink net aan jou ouers se teleurstelling as jy sou druip of baie swak vaar.

Hulle werk hard om jou skool toe te stuur en kan verpletterd voel as hulle uitvind jy sit nie als in nie.

Laat daardie gevoel van skaamte en hartseer as jy jou ouers sou teleurstel, dien as motivering om jou bes te doen.

7. HAAL IN

Die jaar staan middel se kant toe en jy besef met ’n skok jy het heelwat werk misgeloop. Hoe nou gemaak?

‘Maak ’n lys van al jou agterstallige werk. Vra ’n klasmaat se volledige boek en voltooi die werk tuis. Merk af watter vakke op datum is namate jy voortgaan,’ sê Lluwellyn.

“Sodra jou boeke op datum is, kan jy die onderwyser/s vra om die werk wat jy misgeloop het in pouse of ná skool te verduidelik.” 

8. LEEF GESONDER

Probeer om af en toe die sjokolade en skyfies met ’n vrug te vervang en die gaskoeldrank vir water te verruil.

Te veel suiker sal jou eindelik afgemat laat voel en jy sal nie op jou skoolwerk kan konsentreer nie. 

Jy sal ook meer energie hê as jy ’n aktiewer leefstyl lei.

As jy nie aan enige sportsoorte deelneem nie, vra ’n paar pelle om ’n stapgroep te begin.

Ontmoet mekaar twee of drie keer per week en loop ’n paar keer om die blok.

So sal jy fikser word en van oortollige energie ontslae raak.

9. HANDHAAF ’N BALANS

“Akademie geniet prioriteit by alle skole, maar vra jouself hoe dit jou vir die lewe ná skool voorberei. Dis waar deelname aan buitemuurse aktiwiteite belangrik is,” sê Lluwellyn. 

“Hierdie aktiwiteite, byvoorbeeld drama, help met selfvertroue, leer jou om jou emosies te beheer en met mense te kommunikeer. Jy leer ook tyds­bestuur omdat jy betyds vir oefening moet opdaag.”

10. MOTIVEER JOUSELF

Jou huislike omstandighede veroorsaak dalk dat jy voel dit maak nie saak hoe jy op skool vaar nie. 

‘Maar jou omstandighede moet juis jou motivering wees om te leer. Opvoeding is jou sleutel tot ’n gemaklike leefstyl. My oorlede moeder het altyd gesê niemand kan opvoeding van jou wegneem nie, en jy is die enigste persoon wat jou omstandighede kan verander,’ sê Lluwellyn.