DIE ENGELSE TAAL-GHOEROE

TARA HALL (19)

tara hall,reddham house,matrikulant
Foto: Verskaf

GESIN

Tara het in Welgelegen in die noordelike voorstede van Kaapstad grootgeword en is die enigste kind van Robert (60), die mede-eienaar van ’n motorfietswinkel, en Marina Hall (57), wat haar eie onder­neming begin het wat werwingsdienste, sakeopleiding en korporatiewe lewensvaardighede bied.

BOEKWURM

Tara, wie se huistaal Engels is, het op ’n jong ouderdom begin lees. 

“My oppasser het my een keer per week na die plaaslike biblioteek geneem om boeke uit te neem. Ek het later my ma se biblioteekkaart gevat en 10 boeke op ’n slag uitgeneem.”

UITDAGINGS 

“Ek het twee keer in my hoërskoolloopbaan ’n sielkundige geraadpleeg om my te help om my gevoelens van hartseer en angs te verwerk.”

Al is daar soms ’n stigma daaraan om professionele hulp te soek wat jou geestesgesondheid betref, sê sy dit het haar gehelp om haar uitdagings op ’n gesonde manier te oorkom.

“Ek het die ongelooflikste familie en vriende wat my bygestaan het in die moeilike tyd en ek is ongelooflik dankbaar vir hulle almal.”

MATRIEK

Haar finale punt vir haar eksamen in Engelse taal en literatuur was 90%, maar tog beskryf Tara haar matriekjaar as ’n wipwarit. 

“Dit was vir my nogal stresvol met die druk van die eindeksamen, om heeltyd te studeer en te besluit wat ek met my lewe ná skool gaan doen,” vertel sy. 

“Ek het besluit om vanjaar ’n oorbruggingsjaar te neem om die wêreld te gaan verken,” sê sy. 

Sy gaan in Julie onder meer Israel, Jordanië en Turkye besoek. Chili en Mexiko is ook vir later vanjaar op haar lysie. 

Die slimkop, wat beoog om volgende jaar visuele kunste te studeer, sê dit gaan haar genoeg tyd gee om haar portefeuljes te skep waarmee sy aansoek moet doen. 

HART VAN GOUD

Tara het vanjaar vrywilligerswerk by die Suid-Afrikaanse Nasionale Stigting vir die Beskerming van Kusvoëls gedoen. Dit was die beste tyd van haar lewe, sê sy.

“Ek het die ongelooflikste groep mense ontmoet en die grootste liefde vir flaminke en seevoëls ontwikkel.” 

RAAD AAN TIENERS

“Dit is uiters belangrik om te onthou om nie jou emosies te onderdruk nie en om met iemand te gesels as jy met iets sukkel. Ek dink dit is ook goed om af te wyk van die norm of wat jou vriende alles doen deur jouself en die besluite wat jy neem te vertrou. Ek sal nooit die wyse woorde van ’n vriend van my vergeet nie: ‘Doen wat jou gelukkig maak en lewe sonder berou.’ ’’

RESEP VIR SUKSES 

Harde werk het die grootste rol in haar akademiese sukses gespeel, sê Tara. 

“Ek glo die geheim met vakke soos Engels is om jouself te verdiep in die inhoud daarvan en om nie bang te wees om diep te delf wanneer dit kom by die ontleding en interpretasie van poësie of stories nie.” 

Haar raad vir kreatiewe skryfwerk in Engels is eenvoudig: “Gebruik jou eie ervarings en waarnemings uit jou eie lewe om ’n oortuigende storie te skryf.” 

BOODSKAP AAN DIE JEUG 

“Ek sien selfs onder die jeug van Suid-Afrika is daar kwaai verdeling. My grootste wens is dat die jong mense van die land aanvaarding en verdraagsaamheid moet aanleer en na mekaar sal luister. Hierdeur glo ek kan ons ’n groter gevoel van eenheid in ons land skep. Wat die onderwys betref, moedig ek elke leerder aan om hard te werk om matriek te slaag en te onthou dat opvoeding die sleutel is wat baie deure kan oopsluit.”

DIE WISKUNDE-BOFFIN

RIZQAH HASSIEM (18)

rizqah hassiem,reddam house,matrikulant
Foto: Verskaf

GESIN

Rizqah het in Durbanville grootgeword as die jongste van Nazley Bester (54) en Wasfie Hassiem (70), ’n afgetrede dokter en munisipale raadslid, se drie kinders. 

Rizqah het twee ouer broers, Mashkur Luqman (26), wat tans sy honneursgraad in finansiële analise en portefeuljebestuur te voltooi, en Ali-Imraan (20), ’n landbou­ekonomiestudent wat in sy eerste jaar aan die Universiteit Stellenbosch is.

PRIVAAT

Sy beskryf haarself as ’n privaat mens wat nie sommer hart oopmaak nie. 

“Ek dink nie dit is altyd nodig vir ander mense om alles te weet van die uitdagings wat ek al ervaar het nie omdat almal in die een of ander sta­dium deur ’n moeilike tyd in hul lewe gaan. Die enigste manier hoe ek die struikelblokke oorkom het, was met behulp van my ongelooflike vriende en familie.”

KOP VIR SYFERS 

Hoewel sy 100% vir wiskunde in die Cambridge AS-eksamen behaal het, was dit nie haar gunstelingvak op hoërskool nie. 

“Toe die werk in my ander skoolvakke in gr. 11 en gr. 12 moeiliker begin raak, was wiskunde die een vak wat vir my sin gemaak het.”

MATRIEK

Volgens Rizqah, wat A-simbole vir al haar matriekvakke gekry het, was haar matriekjaar baie stresvol.

“Wat akademie betref, het ek met fisiese wetenskappe gesukkel omdat dit ’n vak was wat meer tyd geverg het om te verstaan. Sosiaal het ek gesukkel omdat ek die enigste leerder was wat ’n hidjab gedra het aangesien baie mense om my nog nie blootgestel was aan die Islamgeloof nie. As ’n introvert was dit ook moeilik om uit my dop te kruip en met skoolmaats te sosialiseer.” 

STUDIES

Sy is tans ’n eerstejaarstudent in aktuariële wetenskap aan Maties, maar dié slimkop wou aanvanklik in haar pa se voetspore volg en ook ’n dokter word. 

“Ek wou sedert gr. 11 aktuariële wetenskap studeer, maar het in my matriekjaar besluit ek wil eerder medies doen. My aansoek was egter onsuksesvol, en ek kan onthou ek was verpletter. Al is ek nog maar aan die begin van my kursus, voel ek as ek nou die geleentheid kry om medies te gaan studeer, sal ek dit van die hand wys.”

RAAD AAN TIENERS

“Om vandag ’n tiener te wees is moeilik, en goed soos groepsdruk, boelies en die sosiale media maak dinge nie makliker nie. My raad is dat jy in moeilike tye hulp moet vra of ’n gesonde manier vind om jou frustrasies uit te druk.”

RESEP VIR SUKSES

Sy beskou haarself nie as ’n inspirasie vir ander nie, eerder as ’n tiener wat baie hard gewerk het. 

Maar sy is wel dankbaar vir wat sy bereik het en vir dié wat haar gehelp het om te kom tot waar sy vandag is. 

“Ek was nog altyd die soort mens wat op die agtergrond hard werk; daarom dink ek nie ek het iets spesiaals gedoen nie. Ek het maar net vorige vraestelle ter voorbereiding van die eksamen uitgewerk.”

BOODSKAP AAN DIE JEUG

“As die jeug hoop ek ons leer uit die foute en struikelblokke van die verlede en streef daarna om beter te vaar. Ek glo as ons hard werk om ons doelwitte te bereik en nie verwag dat dinge net vir ons gedoen moet word nie, sal ons ongelooflike dinge kan bereik.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.