Ons wil dit soms nie hoor nie of raak so gewoond aan hoe mense ons behandel dat ons swyg. Maar onthou, jou vriende sê baie oor wie jy is – kies dus mooi.

Hier is ses dinge waarna jy moet op wanneer dit by vriende kom.

Kritiek

Het jy ’n vriend wat altyd iets negatiefs te sê het oor alles wat jy doen? As jy ’n nuwe hemp koop en die kleur pas nie by jou nie, sal die vriend dit sê.

Maar sodra jy dit waag om hulle raad te gee of reg te help is die duiwel los. 

Onthou
Iemand wat rêrig baie vir jou omgee, sal nooit jou gevoelens op­setlik seermaak nie. 

Jaloesie

Jy het nou net daardie ongelooflik lekker vakansiewerk gekry en kan nie wag om jou beste pel daarvan te vertel nie.

Maar jy het nog nie eens by die goeie nuus uitgekom nie en jou vriend probeer jou klaar afkraak en ­herinner aan die vorige kere toe iets nie vir jou uitgewerk het nie. 

Onthou
’n ­Goeie vriend sit op daardie oomblik alle negatiewe dinge opsy en fokus net op jou ­geluk. 

Uitputting

’n Toksiese vriend is uitputtend. As jy gereeld emosioneel uitgeput voel ná ’n kuiertjie met jou vriend, is dit ’n teken dat dié vriendskap dalk her­oorweeg moet word.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Vriende is veronderstel om ons beter te laat voel as ons ’n slegte dag gehad het of ons op te kikker om die lewe met ’n huppel in die stap aan te durf.

’n Goeie vriend is nie iemand van wie jy gedurig ’n blaaskans nodig het nie. 

Onthou
As jy net mooi genoeg gehad het, is die kans goed jy is in ’n toksiese vriendskap. 

Selfbeheptheid

Al waaroor julle ure aaneen praat, is sy of haar lewe. As dit nie hul liefdeslewe is nie, is dit die geveg wat hulle met ’n ­broer of suster gehad het.

En sodra jy probeer om iets te sê word jy summier stilgemaak of kry jy nie eens ’n reaksie nie. 

Onthou
Ons almal raak soms ’n bietjie meegevoer deur ons eie lewe, maar ’n goeie vriend sal steeds vir jou tyd maak. 

Beheer

Jy kom nog met ’n idee vorendag, dan het jou vriend reeds besluit waarheen julle moet gaan. En as hy of sy nie wil nie, bly julle eenvoudig by die huis.

Dié vriend wil ook beheer hê oor jou persoonlike probleme en sê hoe jy moet optree.

Onthou
Goeie vriende sal ­nooit hul wense op jou afdwing nie en sal jou ’n kans gun om jou eie besluite te neem. 

Selfsug

Sommige vriende wil jou net vir hulself hê. Wanneer jy oor ander vriende praat, sal die giftige vriend dikwels slegte goed oor daardie mense sê om te verseker jy bly van hulle weg. ­

Dieselfde geld vir verhoudings: Dié vriend maak seker dinge versuur tussen jou en jou geliefde. 

Onthou
Sulke vriendskappe is on­gesond. Jy kan ’n beste vriend hê, maar dit beteken nie daar is geen plek vir ander mense in jou lewe nie. 

Dit kan moeilik wees om ’n vriend­skap te laat vaar. Maar onthou, jý is belangrik. Niemand het die tyd of energie om met slegte vriende opgeskeep te sit nie.