WAT IS ’N DROOMBORD?

Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Dit is gewoonlik ’n plakkaat waarop jy foto’s/prentjies plak wat jy uit tydskrifte geskeur het.

Die idee daaragter is dat jy jou omring deur foto’s van dinge waaroor jy droom en wat jy graag wil bereik.

As jy byvoorbeeld nog altyd gedroom het van die wêreld platreis, kan jou droombord prente bevat van al die topplekke wat jy wil besoek. Of jy kan jou droombord verdeel in byvoorbeeld loopbaan, liefde, vriendskap en gesondheid en prentjies plak wat jy voel jou droombeeld van elkeen verteenwoordig.

Die doel is om duidelikheid te gee aan jou hartsbegeertes en dit te omskep van iets in jou dagdrome tot iets tasbaars waarin jy elke dag kan vaskyk.

Benodighede vir ’n droombord
  • ’n Groot stuk karton en gomstafie of ’n skilderdoek en koppiespelde.
  • ’n Stapel tydskrifte, of druk kleurfoto's aanlyn uit.

SPRING WEG!

Blaai deur al die ou tydskrifte tuis en kies alle prentjies wat jou twee keer laat kyk en iets in jou wakker maak.

Dit kan byvoorbeeld ’n foto wees van die Eiffeltoring as jy nog altyd gedroom het van Parys besoek, of ’n motor as jy graag op 18 jou eerste motor wil besit.

As jy al die foto’s het wat tot jou spreek, plak dit vas aan die karton en bêre dit iewers waar jy dit gereeld kan sien, soos teen die agterkant van jou kamerdeur of teen jou kamermuur.

Jy kan selfs ’n foto van jouself, ’n inspirerende aanhaling of Bybelversie of lirieke daarby voeg.

Jy kan jou droombord ook in ’n groot sketsboek skep as jy nie ’n plakkaat verkies nie en dit selfs elke week of maand hersien en nuwe prente bysit of oues uithaal.

DOEN DIT SAAM MET PELLE

Foto: Gallo Images/ Getty Images.

As jy lus het om dit ’n groepsding te maak, kan jy ’n droombordpartytjie reël.

Hier is ’n paar wenke daarvoor:

Kry die regte ligging

Sorg dat jou kamer netjies is sodat daar geen afleidings is nie, en rig vir elke gas ruimte in om aan hul droombord te werk.

Die gaste

Maak seker die vriende wat jy nooi, verstaan waaroor dit gaan en stel ewe veel belang daarin om aan ’n droombord te werk.

Gee vir elkeen ’n rol – een kan sorg vir eetgoed, die ander vir die gomstafies en nog een vir die regte musiek, byvoorbeeld.

Skep die regte atmosfeer

Met die regte musiek kan julle gou-gou aan die gang kom: Julle kan elkeen twee liedjies voorstel, dan kry elkeen ’n beurt om te werk terwyl hul gunstelingliedjies speel.

DIE DIGITALE ROETE

Maak ’n collage van al jou gunstelingprentjies op jou slimfoon en maak dan die collage die agtergrondfoto vir jou selfoon en/of tablet/rekenaar.

As jy sosiale media soos Instagram gebruik, kan die foto’s wat jy deel letterlik jou droombord wees; jy kan selfs ’n aparte Instagramblad oopmaak wat net as jou droombord dien.

Of jy kan aansluit by die virtuele aansteekbord Pinterest en al jou gunstelingfoto’s in vouers bêre.

HOE KAN DIT JOU LEWE VERRYK?

  • Dit help jou fokus op wat jy wil hê. Onthou, jy kan nie iets bereik as jy nie daarop fokus en daarvan bewus is nie.
  • Dit kan dien as inspirasie en herinnering om die nodige besluite te neem om jou drome waar te maak.
  • Dit kan aan jouself en ander bewys jy neem jou drome ernstig op.
  • Jou selfbeeld sal ’n hupstoot kry as jy iets op die droombord bereik.

STERRE EN HUL DROME

Dié sterre het hard gewerk vir hul roem en rykdom, maar dit het ook alles begin met ’n duidelike idee van wat hulle wou bereik.

Katy Perry

Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Toe dié sangeres (33) nege jaar oud was, het haar onderwyser die klas gevra om ’n droombord te maak.

Sy het toe ’n foto daarop geplak van die sangeres Selena wat ’n Grammy vashou.

En sedertdien het sy wat Katy is omtrént pryse ingeryg!

Beyoncé

Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Die sangeres (36) het ’n foto van ’n Oscar-beeldjie langs haar oefentrapmeul sodat sy dit kan visualiseer terwyl sy topfiks bly.

Ellen DeGeneres

Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Dié kletsprogramaanbieder (60) wou so graag op die voorblad van Oprah Winfrey se tydskrif O verskyn dat sy ’n droombord daarvan geskep het.

En dit het gewerk; Oprah het eindelik daartoe ingestem!

Serayah McNeill

Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Die aktrise (22) van Empire-faam sê om haar drome uit te stippel het dit laat waar word.

“Ek het gemeenskapskollege bygewoon met teater as my hoofvak, ek het by H&M gewerk en tussendeur modelwerk gedoen en ook gesing en gedans.

"Ek het ook in advertensies verskyn, maar wou so graag in ’n televisiereeks wees. Ek het dit op my droombord geskryf en begin fokus op wat ek wou doen.”