Vraag: Hoe reageer jy op ’n liefdesliedjie of romantiese flieks?

’n Sam Smith-treffer begin speel of The Notebook is op die televisie. Hoe voel jy daaroor?

Sit daar ’n knop in jou keel en wil jy graag ’n traantjie wegpink?

Of sing jy kliphard saam en geniet die liedjie?

Wenk

As jy te hartseer is om na sulke liedjies te luister of flieks te kyk, is dit beter om eers verby te hou tot jy reg is. En as jy nie hierdeur aangeraak word nie, is jy beslis op die regte pad.

Luister dan eerder na Little Mix se Shout Out to My Ex.

Vraag: Hoe reageer jy op jou eks se sosialemediaplatforms?

Die meeste van ons het dit al beleef: Jy en jou eks is nie op goeie voet uitmekaar nie en verdwyn uit mekaar se lewe.

Gaan jy elke vyf minute na hul Facebook- of Instagramblad of loer jy gedurig na hul WhatsApp-status om te sien wat in hul lewe aangaan?

Kyk jy heeltyd of hulle jou van hul sosiale media verwyder het of verwyder jy hom of haar summier van al jou platforms?

Wenk

As jy reeds jou eks verwyder het, welgedaan. Maar as jy dit nog nie gedoen het nie, is dit nou die regte tyd daarvoor.

Dalk het jy eers ’n bietjie tyd nodig om jouself te vind. Fokus op jouself.

Foto: Gallo Images/Getty Images.

Vraag: Hoe voel jy wanneer jy saam met vriende en familie kuier?

Is almal om jou gelukkig, maar jy hou heeltyd jou selfoon dop en wag vir ’n boodskap van jou eks? En voor jy jou oë kan uitvee, is die aand verby en jy het al die pret misgeloop?

Of is jy ’n bok vir sports en kuier jy alte lekker – sonder om een keer aan jou eks te dink?

Wenk

Onthou om altyd in die oomblik te leef. En moenie maak asof jy die partytjie geniet net om van jou probleme weg te hardloop nie.

Dit help ook nie jy sit in ’n hoek en krepeer nie: Hoe meer jy oor die situasie nadink, hoe erger maak jy dit vir jouself.

Vraag: Hoe voel jy wanneer jy kuier saam met vriende wat in ’n verhouding is?

Kruip jy in die huis weg net om dié vriende te vermy of gaan jy saam met die paartjie uit omdat hulle goeie pelle is en jy nooit nee sê vir ’n partytjie nie?

Wenk

Kuier net saam met paartjies as jy gereed voel om dit te hanteer. Onthou, hulle is verlief en kan mekaar dalk drukkies en soentjies gee.

Net omdat jy enkellopend is, beteken dit nie almal om jou moet ook ongelukkig wees nie.

Dis belangrik om elke emosie te verwerk – solank jy nie vir ewig in daardie hartseer bui is nie.

Vraag: Kan jy steeds die prettige aktiwiteite geniet wat julle saam gedoen het?

Julle het altyd langs die strand gestap of ’n romantiese piekniek in die park geniet, maar nou kan jy skaars by daardie plek verbyloop.

Of julle het ’n gunstelingpeuselhappie gehad, maar nou kan jy nie eens daarna kyk nie.

Wenk

Jy hoef nie hierdie aktiwiteite nou dadelik te doen nie, maar hoe langer jy wag, hoe moeiliker gaan dit word om weer daaraan gewoond te raak.

Vat die eerste happie, al is dit hoe moeilik. Onthou, die eerste tree is altyd die moeilikste.

Vraag: Is jy steeds vriende met jou eks se familie?

Dis tog net normaal dat jy bande met jou eks se familie of selfs vriende gesmee het.

Net omdat julle uitmekaar is, beteken nie jy moet alle kontak verbreek nie. Maar onthou, jy het eers tyd alleen nodig om tot verhaal te kom.

Wenk

As jy met die persoon vriende was voor jy en jou eks begin uitgaan het – en julle het duidelike reëls uiteengesit oor waar julle met mekaar staan – kan jy maar met die vriendskap voortgaan.

Maar moenie vriende met die persoon bly net om te sien wat in jou eks se lewe aangaan nie.

Foto: Gallo Images/Getty Images.

Vraag: Het jy al jul foto’s uitgevee?

Kyk jy elke dag na foto’s van julle twee en wens julle was nog saam?

Dis nie sleg as jy al die herinnerings hou nie. Inteendeel, jy moet kan aanvaar dat die verhouding verby is en steeds na die foto’s kyk met blydskap in jou hart.

Maar dis nie ’n goeie idee as jy die foto’s hou met die hoop dat die verhouding weer gaan vlam vat nie.

Wenk

Hou die foto’s en sien dit as ’n fase in jou lewe wat jy moes deurgaan om te kom waar jy nou is.

Maar moenie te veel druk op jouself plaas nie; kyk eers daarna as jy weet dit sal jou nie meer hartseer maak nie.

Vraag: Vat jou tyd

Vir sommige mense neem dit maande; vir ander miskien ’n dag of twee.

Onthou, dit maak nie saak hoe lank dit vat nie, dis belangrik om elke emosie te verwerk – solank jy nie vir ewig in daardie miserabele, hartseer bui bly nie.

Wenk

Sluit by ’n groep aan wat prettige aktiwiteite doen of kry jou vriende bymekaar en gaan kyk na ’n fliek waar jy kliphard kan lag.

Moet net nie in sak en as sit nie. Dit het gebeur, maar nuwe avonture wag!