“Eenvoudig gestel: hou op om jou maat te kritiseer – dit kan ’n negatiewe impak hê op hulle gesondheid en hoe lank hulle lewe.”

Dís hoe prof. Jamila Bookwala haar navorsing verduidelik wat onlangs in die wetenskapjoernaal, Health Psychology verskyn het.

Sy en haar span navorsers by die Lafayette Kollege in Pennsilvanië het onderhoude gevoer met 1 734 mans en vrouens tussen die ouderdomme van 57 en 85.

Dit het geblyk diegene wat binne ’n huwelik of ander verhouding aanmekaar gekritiseer is, het ’n 44 persent hoër risiko gehad om binne vyf jaar dood te wees.

“Dit maak sin,” meen Esda van der Watt, maatskaplike werker en verhoudingsberader van Clarens in die Oos-Vrystaat.

“Om die heeltyd te hoor wat fout is met jou het ’n impak op iemand se algemene welstand. Daardie negatiwiteit word geïnternaliseer en die persoon verloor daardie zest for life,” sê sy.

Tydens die grendelstaat moet ’n mens ekstra gevoelig wees vir wat kritiek aan die persoon wat saam met jou bly doen, vertel Esda. Die sogenaamde liefdestale word dan belangrik: woorde van bevestiging, dade wat dien, fisieke aanraking, gehaltetyd saam saam en die ontvang van geskenkies.

“Lig eerder mekaar se sterk punte uit. Werk aan jou gewoontes oor hoe jy praat en oorbring wat jy wil sê. Los daardie klein dingetjies wat krap. Weeg altyd op of dit regtig opbouende kritiek is wat iets gaan beteken,” is Esda se raad aan lesers.

Sê eerder: “Ek is bekommerd oor jou gesondheid. Kom ons kry saam oefening in en gaan stap,” as wat jy sê: “Hou op so aanhoudend eet. Jy word net vetter en vetter.”

“En wag tot môre om iets aan te speek wat dalk kwetsend kan wees. ’n Mens sien dinge dikwels heel anders die volgende dag as in die hitte van die oomblik,” waarsku Esda.

Een van die grootste faktore wat ’n verhouding oor die afgrond stoot, is verwagtinge wat nie vervul word nie. Dit lei daartoe dat die persoon die ander maat name noem, verkleineer, blameer, die skuld gee fout vind en kritiek uitspreek, vertel Paula Quinsee, ’n verhoudingskundige en lewensafrigter van Johannesburg, aan Huisgenoot.

Kritiek is gewoonlik ’n rookskerm vir ’n onderliggende emosionele behoefte wat nie vervul word nie. Dit veroorsaak kritiek teenoor jou maat sonder dat jy dit eens agterkom – “jy sal nooit . . , jy sal altyd . . , jy is . . , jy doen . . .” As ons begin om heeltyd die “jy”-woord te gebruik, raak ons vasgevang in ’n afwaartse spiraal van verwyt, waarsku Paula.

Die kenners gee ook hierdie wenke om seker te maak julle kommunikeer goed en die verhouding bly sterk.

Aanvaar mense se onvolmaaktheid en wees meer weerloos. “As jy eerstens deernis met jouself het, sal jy ook deernis met ander hê,” vertel Brené Brown, ’n professor in maatskaplike werk aan die Univesiteit van Houston in Amerika.

Deur kwesbaar te wees en iemand jou te leer ken met al jou foute en tekortkominge, moedig vertroue aan wat ’n belangrike bestandeel van ’n verhouding is. Dit geld net so as jy iemand anders se onvolmaaktheid aanvaar. Dit bou vertroue.

Om met aandag te luister en nie tussendeur te praat as iemand sy hart teenoor jou oopmaak, is die beste manier om vir iemand te wys jy het deernis. Dit versterk ’n verhouding om hierdie “onvolmaakthede” te aanvaar en daarvoor deernis te hê, want dan kan julle besluit hoe om perfek vir mekaar te wees, omdat julle mekaar waardeer.

Praat deur verskille. Luister klaar as die ander persoon haar opinie opper. Solank dit nie haat aanblaas of iemand kwets nie, het almal die reg om sy of haar eie opinie te hê oor iets. Voer 'n eerlike dialoog daaroor sonder om aanvallend te wees, waarsku Paula.

Herinner die persoon aan jou liefde en respek vir hom of haar is Paula se raad. Moenie net begin deur hul opinies te kritiseer nie. Dis nie nodig om sekere onderwerep te vermy as jy weet dit gaan op ’n bakleiery uitloop nie; mits julle ’n gesonde manier gevind het om konflik in jul verhouding op te los. Julle moet maniere vind om aan te beweeg, tenspyte van verskille oor dinge soos politiek en godsdiens.  Die belangrikste bestanddele om ’n band te bou en te behou, is respek.

Konflik is te wagte. Julle gaan mekaar irriteer en op mekaar se senuwees werk. Dis normaal in hierdie abnormale tye, voorspel Paula. Gesels gereeld daaroor oor hoe julle dit gaan bestuur byvoorbeeld geen verbale mishandeling, gevloek op mekaar en ’n afkoel-periode waar julle net gaan wegloop van ’n bakleiery wat aan die broei is, is Paula se raad.

Vermy beuselagtighede. Dit gaan op niks behalwe chaos uitloop nie. Verstaan dat dinge tydens die grendeltyd anders gaan wees tuis as gewoonlik. Dit gaan byvoorbeeld meer omgekrap en vuil wees; die etes gaan dalk minder interessant en voedsaam wees.

“Wyse vermyding” is ’n nuttige benadering wanneer daar geen sin in is om ‘n onoplosbare verskilpunt te probeer oplos nie. Vra jouself die volgende: Wil jy reg wees of wil jy in ‘n verhouding wees?.

Die skep van ’n veilige ruimte is albei se verantwoordelikheid. Dis ’n ruimte waar jy die vrymoedigheid het om jou denke, emosies en behoeftes te opper sonder om aangeval en gekritiseer te word. Dit kom van beide kante af.

Daar is ’n oplossing vir elke probleem. Soek eerder na die oplossing as om te kritiseer. Beide moet bereid wees om ’n kompromie aan te gaan en in die middel te ontmoet. Dikwels moet jy ’n skermutseling verloor om ’n oorlog te wen.

Bestuur jou verwagtinge. Daar is nie iemand soos die perfekte persoon of die perfekte verhouding nie. Ons is almal mense en maak foute. Aanvaar dit.

Ekstra bronne: dailymail.co.uk