Dranklus slaan weer toe

Vraag:

Ek was lank aan drank verslaaf, maar kon my gelukkig in rehabilitasiesentrums regruk en lewer selfs deesdae by herstelgroepe praatjies. My probleem is ek werk lang en uitmergelende ure en dan is my weerstand swak.

Ek weet dit is waarom ek daaraan dink om weer te begin drink, maar ek voel vasgevang. Ek moet werk, en dis die enigste werk wat ek kan doen.

OI op KP

Antwoord:

’n Mens se vasbeslotenheid om ’n probleem te oorwin is so goed soos jou steunstelsel. Aan jou werkure kan jy dalk min verander, maar as jy ná werk ’n vaste roetine volg, kan dit dalk meer bestendigheid teweegbring.

Dalk kan jy reël dat iemand ’n koppie koffie saam met jou drink wanneer jy van die werk af kom of dat ’n vriend later inloer op die moeilike tyd wanneer jy begin ontspan. Selfs ’n gereelde oproep van ’n vertroueling sodra jy tuiskom, kan help.



Skuldgevoel oor pa se stille lyding

Vraag:

My pa is ’n paar maande gelede oorlede. Al het hy vroeër vermoed hy het ’n terminale siekte, het hy ons nie vroegtydig daarvan vertel nie.

Ek weet my pa, ’n wewenaar, het gely in die tyd dat ons nie daarvan geweet het nie. Later kon ons intree en het ons hom na dokters geneem en vir hom ’n minder pynlike laaste paar maande bewerkstellig. Al het ek ver van hom gewoon, het ons ’n hegte verhouding gehad.

Ek voel skuldig dat hy sy siekte nie uit die staanspoor met my bespreek het nie. Dit het gelei tot ’n diep swaarmoedigheid wat net nie wil weggaan nie. Wat kan ek doen?

AO op NG

Antwoord:

Wanneer ander faktore rou en verlies kompliseer, is dit moeiliker om dit te verwerk en afsluiting te kry. Julle sal nie maklik kan verstaan waarom jul pa daarteen besluit het om julle in te lig nie.

Maar selfs al het hy dit later aan julle probeer verduidelik, sal hierdie redes julle moeilik kan troos omdat dit elke keer die angs en woede in herinnering sal roep van toe julle eindelik daarvan uitgevind het.

‘Die verlange sal bly; die kuns is om dit betekenis te gee’ – Elize

Onthou: Dit was sy keuse. Jy kan jou nie langer hieroor kruisig nie. Selfverwyt veroorsaak diepe pyn wanneer dit oor ’n geliefde se dood gaan, want jy kan nie nou meer iets daaraan doen nie.

Jy kan wel so leef dat dit sy nagedagtenis eer. Was hy by ’n welsynorganisasie betrokke waar jy sy werk kan voortsit? Goeie herinnerings aan die tye voor sy siekte kan jou ook sy dood help verwerk.

Dit kan vertroostend wees om ’n fotoalbum hieroor te maak en dit met ander te deel. As iemand bewustelik of onbewustelik bygedra het tot sy besluit om sy kinders nie dadelik van sy siekte te vertel nie, kan ’n gesprek sonder oordeel of verwyte met dié mens ook berusting help bring.

Moenie jou steur aan mense wat jou rouproses probeer aanjaag nie. Almal rou anders. Niemand kan aan jou voorskryf wanneer jou verlies draagliker moet word nie. Die verlange sal bly; die kuns is om dit betekenis te gee.

Vrese ná ouers se egskeiding

Vraag:

My ma en pa is geskei toe ek ’n tiener was. Ná matriek het ek ’n paar verhoudings gehad, maar geeneen was juis geslaagd nie.

Ek was altyd bang dinge met my en ’n man gaan soos tussen my ouers verloop. Nou is ek werklik verlief op iemand met dieselfde belangstellings as ek en hy gaan van sy tuisdorp na myne skuif.

Skielik is al my ou vrese terug en wil ek net weghardloop.

IU (SMS)

Antwoord:

Wanneer ’n mens meer tyd saam deurbring, leer julle mekaar beter ken en dit bevorder die vertrouensband.

Tog is dit ook belangrik om hom in sy familieverband te leer ken en te sien hoe hy in sy vriendekring optree. Veral in die aanloop van ’n verhouding vertrou mense baie van hul diepste gevoelens aan mekaar toe. As hy openlik is hieroor, is dit ’n grondslag vir ’n innige vriendskap.

Liefde op sy eie is nie genoeg vir ’n lewenslange verhouding nie; dit het die reserwekrag van vriendskap nodig wanneer dit stormwaters bevaar.

Smag na ‘koue’ kêrel se hart

Vraag:

Ek en my ou is nou reeds drie jaar bymekaar. Sy eks is altyd ’n faktor in ons lewe. Hy sal my nooit gerusstel en sê hy is lief vir my nie.

Hy is ’n baie koue mens. Hy kom ook nooit by sy ma vir my op nie. Ek voel soos ’n gek om aan te hou probeer; volgens my is hy net ter wille van die saamwees in ’n verhouding.

Andersins is hy ’n baie goeie mens en hy steun my finansieel. Dis egter nie wat ek wil hê nie; ek wil sy hart hê.

CA op KS

Antwoord:

Min mans loop met hul gevoelens te koop; dis hoe hulle bedraad is. Dit maak hulle nie noodwendig koud nie; hulle is bloot anders as vroue. Jy moet vrede maak daarmee.

Gun hom die ruimte om op sy manier te wys hy wil jou in sy lewe hê.

Jy sal hom nie kan verander nie, maar jy kan hom dalk weens jou knaende onsekerheid van jou vervreem. Liefdesmaats wys op hul eie besonderse manier hul toewyding tot ’n dieper verbintenis. Wees bedag daarop dat hy nie sy gevoelens op dieselfde manier as jy sal toon nie.

Gun hom die ruimte om op sy manier te wys hy wil jou in sy lewe hê. Kyk ’n slag na wat hy doen pleks van om jou ore te spits vir die dinge wat hy nie sê nie. Jy sal voortaan nuut moet dink oor jou verwagtings van hom.

Drie jaar in ’n verhouding is ’n mylpaal. Gaan jy dit alles weggooi net omdat jy wag dat hy sê hy is lief vir jou? Sy ma en eks is twee groter probleme as ’n gebrek aan liefdesverklarings van sy kant af.

Deur nie so te konsentreer op watter rol hulle in julle twee se lewe speel nie kan jy groter gemoedsvrede kry.

Kontak ons
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1