Dis ’n bekende storie: Jy ontmoet ’n ou, julle kliek, begin jul fone aan die brand klets en hang gereeld saam uit.

Tot hy eendag net ophou gesels en verdwyn.

In die sosiale media word dit ghosting genoem. Dis nie lekker om die een oomblik soos die meisie van sy drome te voel en die volgende soos ’n stopstraat vermy te word nie, veral as jy nie weet hoekom nie.

Ons het gaan kyk wat in die verdwynkunstenaars se kop aangaan.

WATTER EEN IS HY?

Jy sal waarskynlik in ’n toestand wees wanneer die ou op wie jy smoorverlief is jou skielik begin ignoreer. Reg? Maar as hy nie oornag na ’n ander dorp getrek het (onwaarskynlik), ’n siekte gekry het wat hom stom gelaat het (nog meer onwaarskynlik) of al sy vingers in ’n fratsongeluk verloor het nie, wonder jy sekerlik hoekom hy nie meer met jou gesels nie.

Ons het die verskillende moontlike scenario’s bekyk.

Verdwynkunstenaar #1

HY HOU NOG VAN JOU

Soms (almal hoop hulle val in dié groep) is hy nog verlief op jou, maar iets staan in sy pad.

Hy dink dalk jy hou van iemand anders of gaan deur ’n moeilike tyd. ’n Ou kan terugtree as sy pelle sy siel uittrek omdat hy so verlief is, veral as een van hulle ook ’n ogie op jou het.

Verdwynkunstenaar #2

HY’T VAN PLAN VERANDER

Dis aaklig, maar soms verander ouens net van plan. Soms is daar ’n geldige rede, maar dikwels is dit omdat die meisie gretig is om in ’n vaste verhouding te wees.

Dis te veel druk vir die ou, en hy besluit om eerder te verdwyn as om die volmaakte kêrel te probeer wees.

Verdwynkunstenaar #3

JY’S NET ’N PEL

Ouens en meisies kan wel net pelle wees. Partykeer is dit al wat hy soek wanneer hy vir jou daardie snaakse boodskappe en emotikons stuur. As hy nog gaaf is met jou, maar minder kontak maak, volg sy voorbeeld en kyk of dinge ná ’n ruk na normaal terugkeer.

Doen dit by #1: Red die verhouding

As jy vermoed daar is nog hoop, praat dit uit. Hier is ’n paar maniere om dit met hom te bespreek.

  • As hy planne kanselleer, sê: “Ek het nou die dag daarna uitgesien om uit te hang. Het iets belangriks gebeur dat jy moes kanselleer?”
  • As hy ophou bel, sê: “Ek geniet ons geselsies, maar het lank laas van jou gehoor en mis dit. Het iets verander?”
  • As hy nie meer “haai” sê nie, sê: “Ek het jou ’n paar keer gesien en dit het gelyk of jy my ignoreer. Wat gaan aan?”

Doen dit by #2 en #3: Aanvaar dis verby

Wanneer al die tekens wys hy voel nie dieselfde nie, moet jy met jou lewe aangaan. Hier’s wenke om daarmee te help.

  • Moenie die laaste gesprek of teksboodskap die hele tyd oordink nie. Aanvaar jy gaan moontlik nooit weet hoekom dinge tussen julle verander het nie.
  • Hou op hoop die ou sal dalk eendag tot ander insigte kom.
  • Raak ontslae van dinge wat jou aan hom herinner, soos foto’s.
  • Moenie jouself hiervoor blameer nie.
  • Gaan saam met vriende uit en moenie omdat jy jou wonde lek nee sê as ’n ander ou jou uitvra nie.

Vermy oorontleding. Dit kan jou laat soek vir “leidrade” dat hy nog van jou hou. As hy nie antwoord nie, laat hom gaan

  • Teks: Bauersyndication.com.au/Magazinefeatures.co.za