G’n vuurwerk in slaapkamer nie

VRAAG

Ek is 30 en was nog nooit getroud nie. Ek gaan nou uit met ’n man van amper 38 wat al getroud was. Hy is die jaloerse soort. Ons liefdesessies lewer nou nie juis vuurwerk op nie, en ek weet nie hoe om dit met hom te bespreek nie.

Wanneer ek die saak aanroer, weet ek hy gaan begin uitvra oor my eertydse kêrels omdat hy so jaloers is. Ons is goeie vriende en ek kan my ’n lewe saam met hom voorstel. Hoe moet ek maak?

AN op MB

ANTWOORD

Vervullende seks verg geduld. Die liefde is niks anders as ’n uitgerekte leerkurwe nie. ’n Mens kan nie ’n goeie verhouding prysgee oor liefdemaaksessies wat ’n bietjie werk nodig het nie. Jy is sensitief genoeg om te weet hoe broos die manlike ego is, of jaloesie nou ’n rol speel of nie.

Dit is onsinnig om te probeer meeding met mense uit iemand se verlede, maar dis nou maar hoe sommige mans bedraad is. Minnaars kan ook in verbeeldinglose gewoontes verval en het aansporing nodig om te verander.

As jy nie jou frustrasie verwoord nie, sal dit teenproduktief wees. Dis nie net sy skuld as die slaapkamersessies nie te waffers is nie; jy het ook ’n aandeel daarin. Wat seks betref, kan net ’n uitsonderlike man ’n vrou se kop lees.

Jy sal hom liefdevol leiding moet gee. Maar hoe praat bedmaats hieroor? Die kuns is om hom subtiel te lei sonder dat hy agterkom jy leer hom om presies te doen waarvan jy hou. As iets vir jou werk, sorg dat hy dit weet deur hom aan te moedig om dit weer te doen.

Doen hy iets waarvan jy nie hou nie, sal jy sy hande moet wys om liewer iets te doen waaroor jy wel mal is. Dit help om soms vooraf te sê: “Ek is in die sewende hemel wanneer jy . . .” Kies die regte tyd en lewer versigtig kommentaar. Hy moenie voel hy doen iets verkeerds nie; net dat jy iets anders verkies.

Sê byvoorbeeld ná ’n liefdemaaksessie in die stort: “Dit was goed. Miskien kan ons volgende keer ook dit (jou voorkeur) probeer.”

Nuwe liefde kuier by ou gesin

VRAAG

Ek en die man met wie ek nou ’n verhouding het, het albei kinders uit ons vorige huwelik. Ek het toesig oor my twee tienerseuns en hulle is naweke by hul pa. My kêrel sien sy eksvrou en twee dogters saam en hulle gaan as ’n gesin uiteet.

Ek het al met hom hieroor gepraat. Hy vra ek moet dit so aanvaar, maar ek voel hy hunker terug. Hy kom goed klaar met my seuns. Hoe nou?

Daleen op K

ANTWOORD

Jy voel aan hy is nog nie emosioneel van sy vorige lewe geskei nie. Moontlik is jy ook bang hy wil nog graag sy gewese vrou sien. Daar sal vir hom ’n oorgangsperiode moet wees waartydens hy begin afskeid neem as hy jul verhouding ’n kans wil gee om te slaag.

Nooi die dogters gereeld om by julle aan huis te kom kuier en begin werk aan ’n nuut saamgestelde gesin. Moenie druk op hom uitoefen nie.

‘Die liefde is niks anders as ’n uitgerekte leerkurwe nie’ – Elize

Eks pryk nog op kêrel se Facebook-blad

VRAAG

Ek is al vier maande in ’n verhouding met ’n man. Dit pla my dat my kêrel nie al die foto’s van sy eksmeisie van sy Facebook-profiel verwyder het nie. Hy het ook nog nie sy Facebook-status na “in ’n verhouding” verander nie.

Is ek onredelik om van hom te verwag hy moet albei doen noudat ons al vier maande saam is?

KP op SB

ANTWOORD

Nie almal is gaande daaroor om hul liefdesverbintenis in die openbaar aan te kondig nie.

’n Mens kan jou wel van jou foto’s ontmerk; dan verdwyn dit van jou profiel. As julle verhouding nog moet verdiep, kan jy desperaat lyk as jy nou daarop aandring.

Miskien moet jy liewer selfondersoek instel en uitpluis hoekom dit vir jou so belangrik is. Iemand se verlede verdwyn nie sommer omdat hy ’n paar partytjiefoto’s op Facebook ontmerk het nie. Maak eerder seker jy werk aan jou onsekerheid ten opsigte van hierdie verhouding as om jou energie aan kopsere oor die sosiale media te verkwis.

Amper-eks sluip haar huis binne

VRAAG

Ek en my man is aan die skei. Ons het twee kinders. Hy werk en woon in ’n ander buurt, maar my buurvrou, ’n blote kennis, het my vertel sy sien hom soms by ons huis in- en uitgaan wanneer ek by die werk en die kinders by die skool is.

Ons het nie geld vir ’n alarm nie. Dit blyk hy sit net en televisie kyk. Ek het ’n voorlopige bevel waarvolgens ek in die huis mag woon. Ons het reeds ’n stadium bereik dat ons nie meer met mekaar praat nie.

Ek wil hom nie aankla of na die prokureur toe hardloop nie, want ek soek nie nog drama nie. Die kinders weet nie daarvan nie. Wat nou?

BN op KP

ANTWOORD

Bring ander slotte aan jou deure aan en maak jou huis veiliger met nog ’n veiligheidshek of twee. Dit sal hom goed laat verstaan jy weet wat hy aanvang. Nuwe slotte kan ook vir jou ’n simbool wees daarvan dat jou en jou kinders se lewe as ’n nuwe enkelouergesin reeds begin het en hy nie meer inspraak het op wat op jou werf gebeur nie.

Dit is noodsaaklik dat jy ook doelgerig hou by ander perke in die tussentydse bevel. Dit bemagtig jou met ’n stel spelreëls wat albei partye moet eerbiedig. As hy sien jy is ernstig daaroor om te sorg dat dit nagekom word, sonder aggressie maar vasbeslote, kan dit jou bemagtig om jou meer te laat geld.

Jy en jou kinders het die reg om veilig te voel in ’n tuiste waar niemand die reg het om in jou afwesigheid deur jou laaie of kaste te krap of selfs dokumente te verwyder nie.

Kontak ons
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1