“Jy sal nooit glo wat met my gebeur het nie,” begin sy. Dit blyk sy het gou by ’n plaaslike winkelsentrum ingedraf en terwyl sy in ’n tou gestaan het, het ’n aantreklike vreemdeling die klante agter haar beleef gevra of hy kon indruk sodat hy met haar kon gesels. Sy het blykbaar sy oog gevang en hy het later saam met haar na haar motor gestap, hulle het nommers uitgeruil en die res is geskiedenis.

Aha, romanse. Dis die ding, as ’n 31-jarige vrou is my idee van romanse of ’n ou kry altyd dat hy my moet nader, ons aanklank vind met ’n gesprek of ’n pittige grap en van daar af verder vorder. Wel, dis wat ek gedink het. 

Dit blyk uitgaan ná 30 is ’n taamlike prestasie. Maar hoewel ek spontaan is en oor die algemeen nie skaam nie, sal ek wat uitgaan betref sê ek is ’n bietjie onafgerond. Ja, ek het met ouens uitgegaan, sowel eksklusief as nie-eksklusief, maar vir my het dinge ’n bietjie makliker gebeur, want ons het altyd as vriende begin en sake het van daar af gevorder.

Nodeloos om te sê, sake het nie altyd geëindig soos dit begin het nie. Vriendskappe is geruïneer en in die woorde van iemand baie wys: ek het beslis liefgehad en verloor, maar ek het ook geleer. Vir iemand wat nie veel uitgegaan het nie, stel jou die skok voor om weer die afspraaktoneel aan te durf. Dis vreesaanjaend.

Van my vriende noem my te kieskeurig, maar ek dink dis net ’n geval van, in dié stadium, weet wat ek wil hê. Luister, ek het dalk nie baie kêrels gehad nie, maar ek het my aandeel aan uitgaan gehad. Ek het met “mnr. Reeksverkuller”, “mnr. Vriende met Voordele”, “mnr. Te Veel Te Vinnig”, “mnr. Geïntimideer” uitgegaan, en die lys gaan aan. 

Wat uitgaan betref is ek in dié stadium nie eens seker of ek dit nog reg doen en of dit enigsins vir my is nie, maar een ding waarvan ek seker is, is dat ek moeg is van “situasie-verhoudings” en dat jy baie leer oor wat jy nie wil hê nie as jou hart gebreek word. 

View this post on Instagram

Sunday squad ???? #globalcitizenfestival

A post shared by Shanaaz Prince (@shanaazprince) on

Glo my, met dié dat baie van my vriende, ouer en selfs jonger familielede hul maat vind of afhaak, raak die druk van familie en vriende nie makliker nie. My familie is gereeld vol vrae soos: “So, Shanaaz, wanneer ontmoet ons die spesiale mens in jou lewe?” en ek het selfs al die maak-’n-grap-maar-maak-nie-regtig-’n-grap-nie-vraag van my pa gekry wat vra wanneer hy sy eerste kleinkind kan verwag.

En dis onteenseglik so dat dit amper onvermydelik is dat iemand by die volgende byeenkoms saam met vriende sal vra: “So, het jy hom al ontmoet?” Die probleem is uitgaan is bloot nie so maklik soos dit eens was nie. Wel, nie vir my nie. Noudat die afspraakwêreld aan my voete is en ek voel ek is gereed om my weer daarin te begewe – hoe doen ’n mens dit as jy ouer as 30 is? 

Hoe doen enige van ons “ouer geslag”-mense dit? Heelwat van my tyd bring ek by die werk deur. Dus is dit hoogs onwaarskynlik om ’n voornemende vryer in die klub of kroeg te vind. Ek is te ouskool oor uitgaan; dus is die gebruik van platforms soos Tinder nie eintlik my ding nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie; ek het wonderlike suksesstories van byvoorbeeld Tinder gehoor, maar dit is nie vir my nie. Waar begin ’n mens?

View this post on Instagram

Sisters of Africa with these gorgies♥? #SOA2018

A post shared by Shanaaz Prince (@shanaazprince) on

Dit gaan alles oor jouself uitdaag en dinge ’n bietjie anders doen, sê die verhoudingskenner en skrywer Paula Quinsee.

As jy, soos ek, vir ’n ruk enkellopend was, kan jy geneig wees om in ’n gemaksone te verval of selfs so afhanklik van jou onafhanklikheid te raak dat om iemand nuuts in jou lewe bekend te stel, ’n bietjie vreesaanjaend kan wees en met vele vrae en verwagtings kan gepaard gaan. Hou julle van dieselfde goed? Is julle op jul ouderdom op dieselfde golflengte? Ensovoorts.

Paula gee ’n paar moets en moenies vir mense wat ’n bietjie later as ander die afspraakwêreld betree:

  • Weet wie jy is, hoe jou kop werk en waarvoor jy in ’n lewensmaat soek. As jy nie weet waarvoor jy soek nie, hoe sal jy dit herken wanneer dit opduik? Dit gee jou ook ’n duidelike idee van wat jy nie wil hê nie.
  • Weet wat jou ’n verhouding sal laat beëindig en wat jou grense is, anders kom ons onsself te na en beland ons in situasies/verhoudings wat nie noodwendig positief is nie.
  • Wat aanlyn afsprake betref het mense verskillende redes waarom hulle op afspraakplatforms is (soos ’n maat soek of net pret hê) – wees bewus van jou en hul agenda oor hoekom julle in die ruimte is en hoe julle dit vir julle gaan laat werk.
  • Jou persoonlike veiligheid is allerbelangrik, of jy nou aanlyn afsprake maak of iemand ontmoet. Vertrou jou instink. Dit sluit seksuele gesondheidsrisiko’s ook in.
  • Jy gaan nie iemand ontmoet deur by die huis te sit nie. Stel jouself beskikbaar en wees ontvanklik daarvoor om nuwe dinge te beproef en nuwe plekke te besoek.

Ek dink een ding wat ek besef het, is dat ek doelgerigter in my pogings met uitgaan en ontvankliker vir die ervaring moet wees.  

“As jy oopkop is en bereid om buite jou gemaksone te verken, na nuwe plekke te gaan, nuwe mense te ontmoet en onderweg avontuur te beleef, is daar geen rede waarom jy nie terselfdertyd kan pret hê nie,” voeg Paula by. 

Of dit nou uitwerk of nie. Ek het ook besef of ek nou 30 of 80 is, dis nooit te laat vir uitgaan nie.