As die afspraak maar net die moeite werd was. 

Jy het al tred verloor met hoeveel keer jy gegaap het terwyl hy stroperige stories oor vorige geliefdes opdien. 

Of, erger nog – die sexy spykerhakskoene wat jy aangetrek het, was ’n slegte idee, want die “verrassingsafspraak” wat hy gereël het, is strawwer as ’n episode van Survivor. 

Wat ’n vermorsing van ’n mooi voorkoms en kosbare tyd.

’n Eerste afspraak kan lelik skeefloop – en meisies, al wil ons dit vierkant op die ou blameer dat sake skeefgeloop het, is ons ook dikwels skuldig. 

Maak so om daardie eerste afspraak vlot te laat verloop en te sorg daar is ’n opvolg.

Hou dit eenvoudig

Ons verstaan die organiseerder van die eerste afspraak wil oulik en vindingryk wees, maar is roomys in ’n wipwaentjie of ’n staptog teen ’n berg op regtig nodig?

Eerste afsprake gaan daaroor om iemand te leer ken. En dit is nogal moeilik om iemand iets oor jouself te vertel wanneer jy hyg en blaas met elke tree wat jy gee. Jy weet in elk geval nie eens wat hul geliefkoosde aktiwiteit is nie. 

Soos The Metro dit stel: Daar’s ’n rede waarom iets klassiek is. ’n Goeie restaurant met goeie kos en goeie geselskap behoort die ding te doen. 

Vrae, vrae...

Jy wil die beste weergawe van jouself oordra. Maar ’n eindelose vertelling van die keer toe jy ’n hond uit ’n drein gered het, is nutteloos en sal jou geen guns bewys nie.

Gee die ou saam met wie jy uit is, kans om te praat en sy ervarings te deel. 

Waak ook daarteen om nie die afspraak in ’n werkonderhoud te laat ontaard nie. Vind die volmaakte balans tussen vrae, antwoorde en gesprek. 

Love Panky wys juis daarop ’n eerste afspraak gaan daaroor dat twee mense – nie een nie – mekaar leer ken. Vermy dit om te veel vrae te vra of te veel antwoorde te gee. 

Die ekse

Dis goed om te weet hoekom hul vorige verhoudings beëindig is, want dit vertel jou meer van wie hulle as ’n mens is. 

Was hulle ontrou? Te klouerig? Of dalk te besig vir ’n verhouding?

Maar vra jou af of dit belangrik is om die mislukte verhouding op die eerste afspraak te ontleed. 

Dit kan boonop daartoe lei dat die eks in besonderhede bespreek word – en dit is ’n taboe op ’n eerste afspraak. 

Flikvlooi, of nie?

Ons sien dit in die flieks: meisie ontmoet ou en die vonke spat behoorlik. Vuil grappe word aan tafel gemaak en hulle is so verdiep in hul flirterige gesprek dat hulle van die tyd vergeet. 

Maar dit is die regte lewe dié en daardie tonele is volmaak uitgewerk. Smaaklose kommentaar word nie waardeer nie en jy sal op jou plek gesit word. Hou die komplimente smaakvol en jy sal nie ’n fout maak nie. 

Die senutergende einde – soen of nie?

Komaan, jy is groot genoeg om die tekens te lees en te bepaal of ’n soen aan die einde van die eerste afspraak toelaatbaar is. 
Maar wat die luim ook al aandui, dit is altyd taboe om ’n soen af te dwing as dit duidelik nie gepas is nie. 

Soos Love Panky ook heel gepas uitwys: Al is die afspraak wonderlik, maar ’n soen kom nie van nature nie, sal daar altyd ’n volgende keer wees.

Stap liewer saam met jou afspraak uit, bedank hulle vir ’n heerlike tyd en volg dit op met ’n teksboodskap of oproep.

Bronne: The Metro, Love Panky, TheGentlemansjournal.com