Spesiale dae is altyd sinoniem met vriende, familie en lekker kuier, of hoe? Of dit nou jou verjaardag, Kersfees of Oujaarsaand is, ons wil ons met geliefdes omring.

Maak nie saak of ons in kuierplekke fuif, gesellig uiteet of net rustig tuis braai nie. Maar vir talle mense is ’n vrolike groepfoto saam met ’n verjaardagkoek, of selfs net een mens om die spesiale oomblik mee te deel, iets waarna hulle smag.

Mense soos die 61-jarige man van Kimberley wat met sy onlangse advertensie in ’n plaaslike koerant ons op ’n roerende wyse opnuut herinner aan die eensames tussen ons: “Soek metgesel vir aand na Spur. Saterdagaand. Ek verjaar. Arthur.”

Dis net 10 woorde. Maar in daardie kort, saaklike pleidooi uit die Noord-Kaap lê ’n wêreld van eensaamheid opgesluit.

Arthur, wat nie sy identiteit wil verklap nie, se wekroep het ook in die Afrikaanse dagblaaie en op Netwerk24 verskyn en lesers aangegryp. Want die waarheid is talle Arthurs woon tussen ons.

’n Man van Kimberley het ’n advertensie in ’n koerant geplaas vir iemand om saam met hom te gaan uiteet om sy verjaardag te vier. Foto: Gallo Images/Netwerk24/Charné Kemp

Dalk is jy een van hulle. Boonop het nie almal die moed om deur ’n advertensie of op enige ander wyse uit te reik nie. Wat maak jy as eensaamheid sy voete op jou voordeurmatjie afvee en weier om te loop?

Hoe kan jy dit verjaag, en wat is die beste manier om jou gevoelens te verwoord en ander mense te nader?

Kenners is dit eens: Jy moet ’n daadwerklike besluit neem om jouself uit die verlammende greep van eensaamheid los te breek as jy weer die warmte van ’n sosiale lewe en ’n gevoel van behoort wil ervaar. Maar hoe doen jy dit?

Gelukkig alleen, of eensaam?

“Alleenwees en eensaamheid is nie dieselfde nie,” benadruk dr. Johan Nel, ’n pastorale berader van Bloemfontein. Sommige mense is gelukkig daarmee om alleen te wees of net een betekenisvolle verhouding te hê, sê Kobus Pauw, ’n verhoudingskenner van Pretoria.

“As dit jou behoefte is om net elke twee weke ’n betekenisvolle gesprek te hê, is dit in die haak. Moenie die wêreld toelaat om vir jou voor te skryf nie. Ander kan dink jy’s vreemd, maar jy moet net seker maak jy doen wat jou gelukkig maak.”

Ook die motiveringspreker Gielie Hoffmann meen alleenwees is nie opsigself ’n probleem nie. “Jy’s dalk nie fisiek omring deur mense nie, maar jy’s tevrede daarmee en gelukkig om tyd op jou eie deur te bring.” Eensaamheid, daarenteen, dui op ’n “intense gevoel van ‘niebehoort’,” sê Johan.

Dit behels gewoonlik “die afwesigheid van betekenisvolle verhoudings met mense”, verduidelik hy. Jy kan eensaam voel selfs wanneer jy mense om jou het. “Jy kan byvoorbeeld in ’n groep verdwyn omdat jy voel jy behoort nie tot die groep nie of dat die interaksie met die groep sonder betekenis is,” sê Johan.

Hy meen alleenwees kan ook tot ’n gevoel van eensaamheid lei. Die ervaring van eensaamheid kan tot depressie lei, waarsku Marlize Heppell, ’n kliniese sielkundige van Klerksdorp. “Dit is een van die moeilikste dinge om te hanteer.”

Ek’s eensaam. Wat moet ek doen?

Gielie sê dit help om eers te bepaal wat jou eensaamheid veroorsaak. “Was dit die dood van ’n geliefde? ’n Nuwe omgewing? Swak gesondheid? Die oplossing lê in die oorsaak.”

Hy stel voor: “Jy moet erken jy voel eensaam en dan moet jy die besluit neem om jouself oop te stel vir verandering wat sal lei tot ’n gevoel van behoort. “Jy moet wegdraai van slagofferskap, hopeloosheid, mismoedigheid en negatiwiteit.”

Johan beaam selfbejammering sal nie help nie en beveel aan dat jy leer om aanpasbaar te wees, want die lewe verander gedurig en dit help om veerkragtig te wees. “Met veerkragtigheid bedoel ek die vermoë om binne ’n redelike tyd so goed moontlik terug te bons.”

Marlize sê dit verg doelbewuste stappe om eensaamheid te verdryf. Dit help om betrokke te raak by aktiwiteite, besig te bly en na ander uit te reik.

Johan sê dit is sinvol om stokperdjies te beoefen waar jy mense sal ontmoet.

“Doen dinge waarvan jy hou en waar jy met ander in aanraking kom.” En hoe knoop jy dan daardie eerste gesprek aan? “Vra mense uit oor hul belangstellings, en luister,” beveel Johan aan.

‘Erken jy voel eensaam en stel jouself oop vir verandering’ Foto: Gallo Images/Getty Images

Moet ek vir mense sê ek is eensaam? 

Marlize sê mense wat eensaam voel, is dikwels skaam om dit te erken. “Hulle voel uitgelewer,” verduidelik sy. Sy sê hulle wil nie “swak” voorkom of soos ’n las vir ander voel nie.

Tog sê sy dit is onnodig om die gevoel uit te stippel wanneer jy na ander uitreik. Johan stem saam en verduidelik jy kan mense vervreem as jy kort-kort beklemtoon jy is eensaam, en dat dit as verwyt of ’n vorm van manipulasie beskou kan word.

“Onnodige klaery en manipulasie stoot mense weg,” waarsku hy. Hy sê dit sal ook nie jou eensaamheid verminder as jy daaroor praat, maar niks daaraan doen nie. Doen eerder iets, sê die kenners.

As voorbeeld sê Marlize: “Nooi mense vir ete en meld dat jou man oorlede is, maar moenie ’n groot bohaai maak oor die feit dat jy eensaam is nie, want jy wil nie hê mense moet jou jammer kry nie. Dan kan jy vir hulle soos ’n las voel.

“Hou gesprekke eers lig; niemand wil ’n gesanik en ’n tranedal nog voor die voorgereg hê nie,” sê sy. Kobus stel voor jy wees eerlik, maar sonder om selfbejammerend te klink.

“Ek sou sê: ‘Hoor hier, ek is ’n bietjie eensaam en kort geselskap; wil jy saam my gaan fliek?’ ” Hy sê dit is wenslik om jou toenadering aanvanklik lighartig te hou. Maar Gielie voeg by dit is belangrik om eerlik te wees en nie jou kwesbaarheid weg te steek nie.

“Deel jou situasie,” raai hy aan.

Nooi ek mense na my huis of vra ek hulle om my te nooi? 

Marlize sê dit is aanvanklik makliker om geselsies op ’n neutrale ontmoetingsplek aan te knoop. “Nooi die mens om saam met jou te gaan stap of nooi hulle om iets lekkers saam met jou te gaan doen,” stel sy voor.

Sy sê jy kan die betrokke mense daarna nooi om volgende keer by jou te kom kuier.

Sy beklemtoon: Hoe gemakliker jy is, hoe gemakliker gaan julle gesels. Marlize waarsku dit is makliker om ander te nooi as om te hoop hulle sal jou nooi as jy hulle vra om jou in te sluit.

“As iemand jou nie nooi nie, kan jy hulle mos nooi. Dit is veel makliker as om te skimp,” sê sy.

Hoe bou ek betekenisvolle verhoudings?

Kobus sê jy moenie dink dit is ander mense se verantwoordelikheid om jou te laat beter voel nie. “Hulle moet ook iets uit die verhouding put.” Hy benadruk dit help om jou sosiale vaardighede te oefen.

“Wees sensitief vir ander se behoeftes, maar kommunikeer ook jou behoeftes op ’n bedagsame manier.” Hy sê die belangrikste is om eg te wees. “Moenie uitvra hoe dit met iemand gaan as jy nie regtig wil weet nie,” sê hy.

Gielie sê jy moet eerlik en opreg wees en mense ook toelaat om jou te leer ken. “Vertrou mense en gee hulle ’n kans.”

Die kenners is dit eens: As jy eensaam is, help dit nie om net op jou eie gevoelens en gedagtes te fokus nie. Betekenisvolle verhoudings wat werklik die moeite werd is en sal help om eensaamheid te verdryf, kom van twee kante.

Die ander mens moet dit ook geniet of waarde daaraan heg om saam met jou tyd deur te bring.

Daarom moet jy ook vir die ander mens ’n belangstellende, betrokke, bedagsame geselsgenoot en eindelik ’n goeie vriend kan wees.