Bitter lewe met beheervraat

Vraag:

My man is al 30 jaar lank ontrou, maar beheer alles in ons lewe – van die geld tot die besluite. Ek is moedeloos en weet nie meer wat om te doen nie. Die situasie raak nou ernstig, want ek kan nie meer in dié omstandighede op ons dorpie woon nie.

Ongelukkig het ek ook nie die geld om hier weg te kom nie.

SE (SMS)

Antwoord:

Jy sal sorgvuldig ’n plan moet maak om van die emosionele en finansiële mishandeling te ontsnap op ’n manier wat nie jou veiligheid bedreig en jou toekomstige geluk in die wiele ry nie.

Dit kan help om eers berading te kry om sterk genoeg in jouself te word om vir jou toekoms te baklei. Raadpleeg ook ’n prokureur om te hoor wat jou regte met ’n egskeiding sal wees.


Man ly weens haar demensie

Vraag:

Ons is al amper 40 jaar getroud.

Ek is lief vir my vrou en help haar met alle takies in die huis. Ek was nog nooit ontrou nie, al beskuldig sy my gereeld daarvan en ook dat ek ’n luiaard is wanneer ek op TV wil krieket kyk.

My vrou is in die eerste staduim van demensie, maar weier behandeling en ook enige huwelikstoenadering. Sy wil ook nie gesamentlike berading ontvang nie.

Van vroegdag tot middernag is sy op die rekenaar besig met kletspraatjies met vriende. Die huis is vol teddiebere en porseleinpoppies wat sy versamel. Moet ek skei of bly?

J op B

Antwoord:

Demensielyers kan in ’n vroeë stadium van die siekte nie meer verander nie en is dikwels fisiologies op ’n pad wat reeds vir hulle uitgelê is. Jy sal geleidelik van eggenoot in liefdevolle versorger moet verander.

Ek sal jou afraai om ’n egskeiding te oorweeg. Omdat jy steeds lief is vir haar en al 40 jaar lank aan haar getrou is, kan dit groot selfverwyt in jou hart meebring.

Dit kan veel erger wees as om net by die nuwe omstandighede aan te pas en haar by te staan. Jou vrou raak ál meer in haarself gekeer. Om ’n mens te versorg wie se wêreld om haarself draai, kan ’n baie eensame bestaan wees.

Maak jou wêreld weer groter deur ’n vriendin van jou vrou te vra om haar ’n middag lank te versorg sodat jy ’n blaaskans kan kry om iets te doen wat jou gelukkig maak. Wanneer sy iets kwytraak wat seermaak, moet jy leer onderskei tussen wat die siekte haar laat sê en wat die mens sê wat jy eens geken het.

Stap sulke tye bloot weg en kom ná ’n ruk terug. ’n Vaste roetine raak ál belangriker. Beplan ook nou eerder as later vir jul lewe vorentoe, veral wat geldsake en mediese behoeftes betref. Vind byvoorbeeld uit waar julle in ’n aftreeoord saam ’n tuiste kan vind waar sy eindelik versorg sal kan word.

‘Jy sal geleidelik van eggenoot in liefdevolle versorger moet verander’ – Elize

TIENER IS MIN GEPLA MET MA

Vraag:

My 14-jarige gee my grys hare. Die ergste is wanneer ek hom vermaan en hy sê dit maak regtig nie vir hom saak wat ek doen of nie doen nie. “Ek worry nie,” is sy standaardantwoord.

Niks wat ek doen, werk nie, ook nie enige straf nie.

Ek is ’n enkelma en woon saam met hom by my ouers op die platteland. Ek het ’n goeie werk. My seun kry nie sy pa te sien nie.

Carole (SMS)

Antwooord:

Jou seun se persoonlikheid word nog gevorm. Dit help nie om met hom te onderhandel nie.

Wat wel kan help, is om uit te vind wat hom motiveer – en nie wat jy dínk hom motiveer nie. Jy weet nou reeds straf is nie die oplossing nie. Dikwels voel tieners niks in hul omstandighede sal verander of verbeter nie.

As jy hom kan help besef ’n beter toekoms wag op hom as hy byvoorbeeld akademies presteer, kan dit hom laat nadink. Onbetrokkenheid kan ’n teken wees van angs in sy gemoed.

Tieners het dikwels nog nie die emosionele gereedskap om sulke stres te verwerk nie. Help hom deur meer tyd saam met hom deur te bring en sy gevoelens vir jouself, maar ook vir hom, in perspektief te stel.

Bly optimisties.

JALOERSE KÊREL WIL BAASSPEEL

Vraag:

Ek en my kêrel is al vier maande in ’n verhouding. In die afgelope maand het hy baie jaloers en besitlik geraak. Dis amper te erg. Ek kom agter hy vertrou my nie eintlik nie. Ek mag byvoorbeeld nie met ander ouens praat nie.

Hy beskuldig my ook van goed waaraan ek onskuldig is. Hy sê vir my wat ek mag en nie mag doen nie en ook wat ek mag en nie mag aantrek nie. Ons baklei omtrent elke dag. Wat moet ek doen?

JK op W

Antwoord:

Obsessiewe jaloesie is die werktuig waarmee ’n beheervraat jou in ’n verhouding wil manipuleer.

Dit is nie ’n romantiese uitdrukking van liefde en omgee nie; dit is ’n selfsugtige emosie waarmee ’n lewensmaat sy eie onsekerheid wil besweer.

Jy is niemand se handpop en hy jou poppemeester nie. Jy is ’n vrou wat werd is om bemin en gekoester te word. Met ’n maat wat pal ’n diepgroen baadjie van besitlikheid dra, kan ’n mens se gesonde emosies nie tot wasdom kom nie.

Sulke ongesonde jaloesie is ook ’n teken van oorafhanklikheid en ’n wankelmoedige basis vir enige verhouding. Met soveel dwang om jou lewe volgens hom in te rig kan jy nie selfvervulling vind nie.

Sulke beheersug is eindelik gif vir enige verhouding. Mettertyd lei hierdie soort jaloesie ook tot afsondering. Hy kan jou selfs van jou vriende en familie vervreem omdat hy jou vir homself wil hê.

Dit kan ook op emosionele en liggaamlike mishandeling uitloop. Moenie dié waarskuwingstekens ignoreer nie. Beëindig die verhouding dadelik.