AFFAIR WIL NIE KLAARKRY NIE

Ek het reeds twee jaar ’n verhouding met ’n ander man, al is ek gelukkig getroud. My minnaar verbreek gedurig die verhouding, maar keer telkens terug sodat ons dit kan hervat. Ek het nie kinders nie en my man is dikwels weg vir werk. Ek is nou 45.

Ek en my man sukkel nie in ons huwelik nie en is al 18 jaar getroud. Ek is oortuig dis net die eensaamheid wat my laat aangaan met die buite-egtelike verhouding. Wat kan ek doen om dit te beëindig? - MVR op KK

ELIZE ANTWOORD

Jy speel met vuur. Dis verkeerd om jou hardwerkende man te verkul. As jy selfrespek het, sal jy ophou verskonings maak.

Jy bly die minnaar terugneem omdat hy jou onsekerhede verlig. Vra jouself al die moeilike vrae oor byvoorbeeld jou selfbeeld. Verbreek alle bande deur byvoorbeeld selnommers uit te wis en die man in die sosiale media te blokkeer.

Maak voor jou man weggaan afsprake met vriendinne om jou eensaamheid te verlig. En wanneer hy tuis is, werk aan jul huwelik deur die energie wat jy aan jou affair afgestaan het aan hom toe te wy.

EKS WIL WEER PROBEER

Ek en my ekskêrel is uitmekaar nadat hy my verkul het met iemand by wie hy toe reeds ’n kind gehad het. Ek het amper twee jaar lank met my lewe aangegaan en weer iemand gekry vir wie ek lief is. Nou wil my ekskêrel my weer terughê. - VN, SMS

ELIZE ANTWOORD

Jou nuwe verhouding behoort nou vir jou die belangrikste te wees. Moenie die pyn vergeet wat jy deurgemaak het toe jou verhouding met jou eks verbreek is nie. As jy daaraan dink en nie net die goeie herinnerings onthou nie, sal die keuse vanselfsprekend word.

Dikwels is ’n eks net ontsteld omdat jy nie met ope arms op sy terugkeer gewag het nie. Hy verlang dalk ook na die gemaksone van ’n eertydse verhouding. Heel moontlik wil hy weens jaloesie keer dat jy gelukkig is in ’n nuwe verhouding.

Hy kan om duisend verskillende redes wil terugkom, maar nie een daarvan is geldig genoeg om toe te laat dat hy weer jou lewe ontwrig nie.

DIESELFDE STORIE MET TWEEDE HUWELIK

Ek en my man was 23 jaar getroud toe hy van my skei vir sy broer se stiefdogter, ’n vrou wat al self groot kinders het. Ek en my jongste dogter, wat toe in matriek was, het uit die huis getrek.

Ons was drie maande in ’n woonstel, toe laat weet my man deur my seun hy wil my terughê. Ek het aan my kinders gedink en maar teruggetrek. Ons trou toe weer.

Nou kom ek agter hy probeer steeds kontak maak met die vrou. Hy sê ook die tyd saam met haar was die lekkerste van sy lewe, en dit terwyl hy my hand vashou.

Hy manipuleer my, eet vreeslik baie, is suinig met geld en wil gedurig slaapkamer toe gaan. Ek is raadop. - Anoniem op P

ELIZE ANTWOORD

Soms kan ’n mens net nie glo iets is verby nie, en dan probeer jy weer en weer. Moenie te streng met jouself hieroor wees nie. Jy het swaar genoeg gekry. Dit is onrusbarend dat hy jou doelbewus wil seermaak, maar dit is presies wat jy van so ’n selfsugtige boelie kan verwag.

As jy by hom bly, gaan niks verander nie. As jy hom verlaat, het jy ’n kans om ná ’n tyd van konflik en seerkry weer geluk en vrede te vind. Jou kinders is waarskynlik nou meer volwasse en kan self agterkom jul tweede huwelik was ook nie ’n sukses nie.

Dis nie jou werk om jou maat te red of te verander nie.

As jy dit nie kan bekostig om jou eie potjie te krap nie, sal jy ’n goue middeweg moet vind om elke dag met waardigheid voort te gaan. Ek vermoed dit sal moeilik wees om ’n oop gesprek met jou man hieroor te voer. Manipuleerders skep ’n magswanbalans sodat hulle alles tot hul voordeel kan gebruik. Hy sal jou swakhede teen jou gebruik; daarom moet jy werk maak van jou onsekerhede.

Jy het die reg om vir jouself in die bres te tree en jou gevoelens te verwoord. Begin deur nee te sê vir klein versoeke, sonder dat jy daaroor skuldig voel. Dis nie jou werk om hom te red of te verander nie. Gebruik dié emosionele energie om jou sterker te maak sodat jy vorentoe goeie keuses maak.

VOORWERPE WEK AGTERDOG

Ek gaan weer uit met ’n man met wie ek twee jaar gelede uitgemaak het. Ons is so net in ons 40’s. Hy het vir my ’n pakkie toiletware gegee wat ek by hom vergeet het. Toe is daar ’n houer met maskara in. Nie die soort wat ek gebruik nie.

Ek sien ook ’n bottel bedtyd­opkikkers in sy kas. Boonop het ons sy kar gestofsuig en daar kom toe ’n enkele pêreloorbel uit. Ek weet nie eintlik wat om te dink nie. - DF, SMS

ELIZE ANTWOORD

Bo ’n sekere ouderdom moet ’n mens in enige verhouding aanvaar ’n maat sal bagasie hê. Jy kan óf ’n gesonde nuuskierigheid daaroor behou óf obsessief jaloers wees.

Maar wanneer ’n mens begin uitkyk vir tekens en iets in alles inlees, is jy op ’n gevaarlike plek in ’n verhouding.

Dit sal jou loon om die oorspronklike rede hoekom jul verhouding opgebreek het te ontleed en te sien of daar nie ongedane sake tussen julle is om af te handel voor jul verhouding verinnig nie.

Gun hom die voordeel van die twyfel as hy jou met ope arms terug in sy lewe verwelkom het. Knoop ’n gesprek hieroor aan en sluit dan die hoofstuk oor die verlede af en begin op ’n skoon bladsy.

* Uit Huisgenoot-rubriek Liewe Elize