Ons almal het al goeie dae beleef wat binne ’n oogwink in ’n slegte dag verander. Die sneller kan iets kleins wees: ’n bitsige opmerking van ’n vriend, terugvoer van jou baas wat jy as kritiek beskou, ’n kyk van jou ma wat jy as afkeurend ervaar.

Ongeag wat die ander persoon se bedoeling was, dit gooi jou van balans af en laat jou woedend, angstig, nutteloos of onseker oor jouself voel. Hierdie negatiewe gevoelens kan voortduur en die res van jou dag oorheers.

Hoekom gebeur dit?

Iets omtrent die oomblik veroorsaak ’n intense emosionele reaksie by jou. Ons het almal persoonlike emosionele snellers – dit is omdat ons almal intense emosionele ervarings gehad het, dikwels tydens ons kinderjare, wat hoe ons op dinge reageer, gevorm het.

Dit is belangrik vir jou emosionele en geestelike welstand om jou persoonlike emosionele snellers te ken en verstaan.

Hier is raad vir hoe jy jou snellers kan identifiseer sodat jy nie daardeur gyselaar gehou word nie en eerder ’n bewustelike keuse kan maak oor hoe om daarop te reageer.

WAAR KOM DIE SNELLERS VANDAAN?

’n Emosionele sneller kan ’n ervaring, ’n voorval of ’n herinnering wees wat ’n intense en negatiewe emosionele reaksie ontlok. Omdat dit in ons vormingservarings geanker is, verskil dit van persoon tot persoon.

Vir sommige mense is negatiewe terugvoer van hul baas – al ervaar hulle dit nie juis as aangenaam nie – nie ’n rede om hul selfwaarde te betwyfel nie. Maar vir iemand wat gedurig onder ’n ouer se kritiek deurgeloop het omdat hulle nie goeie punte op skool behaal het nie, kan die baas se terugvoer hulle herinner aan hoe hulle destyds gevoel het: dat hulle “nooit goed genoeg” was nie.

Algemene situasies kan intense emosies ontlok, soos om te voel jy word verwerp, verraai, verstoot, uitgesluit, geïgnoreer of onregverdig behandel.

Dit kan spruit uit ’n groot verskeidenheid ervarings, dikwels in die kinderjare, maar ook nie altyd nie. Jy het dalk grootgeword met ’n ouer wat emosioneel afsydig, uiters krities of dikwels woedend was.

Dalk is jy afgeknou op skool of verstoot oor jou geloof of kulturele oortuigings in jou grootwordjare, sê Kate Solomons, die kliniese direkteur van The TraumaClinic Foundation in Kaapstad.

“Dalk is jy dikwels verskreeu deur ’n gesagsfiguur, byvoorbeeld ’n onderwyser, omdat jy klein foute gemaak het.”

Gebeurtenisse soos om ’n geliefde te verloor, lewensbedreigende rampe of ongelukke en selfs pynlike mediese prosedures kan ook emosionele snellers wees, voeg sy by.

IDENTIFISEER JOU SNELLERS

“Wanneer ons emosies ontlok word, is die reaksie so sterk en dit gebeur so vinnig en outomaties dat ons nooit stop en die negatiewe pad bevraagteken wat ons daar laat beland het nie,” sê Nina Josefowitz, ’n kliniese sielkundige in Kanada en medeskrywer van die boek CBT Made Simple.

“Dink terug aan die laaste keer toe jy werklik ontsteld was. Wat was jou gevoelens? Jou gedagtes? Hoe het jou liggaam gereageer? Leer om jou patroon te herken.”

Nina sê as jy die volgende keer dit voel gebeur, haal asem en druk die stopknoppie. Bekyk die situasie goed en wees sag met jouself. “Probeer vir jouself sê: ‘Dit het gebeur en dis moeilik. G’n wonder ek is ontsteld nie.’

“Gee jouself tyd om uit te pluis hoe jy die situasie wil hanteer. Vra jou af wat ’n getroue, deernisvolle vriend vir jou in hierdie situasie sou sê.”

Jou emosionele snellers is soos wonde wat moet genees, sê Judith Orloff in The Empath’s Survival Guide: Life Strategies for Sensitive People. Om dit te doen, moet jy die oortuigings wat jy saam met jou dra wat op vrees pleks van die werklikheid gegrond is, byvoorbeeld “ek is nie slim genoeg nie” of “ek is oorsensitief”, met deernis bekyk.

Dit verg selfondersoek, en dit kan dalk moeilik wees, maar wanneer jy geïdentifiseer het waar jou emosionele snellers vandaan kom, stel jy jouself emosioneel vry, sê Judith.

Emosionele vrou
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

JOU SNELLER IS GETREK – WAT NOU?

Wanneer jy identifiseer wat aanleiding gee tot hoe jy in enige gegewe oomblik voel, gee jy jouself die kans om anders te voel in die toekoms, sê Marcia Reynolds, ’n Amerikaanse sielkundige en skrywer van die boek Outsmart Your Brain.

1. Aanvaar verantwoordelikheid

As jy teen iemand uitgevaar het of jou in ’n negatiewe gedagtegang bevind sodra jou snellers geaktiveer is, is die eerste stap om verantwoordelikheid te aanvaar, sê Marcia.

“Byvoorbeeld, jy word woedend omdat jy nie ’n verslag kan opspoor waaraan jy werk nie. Jy blameer die maatskappy omdat hulle vir jou onvoldoende ruimte gee, die skoonmakers wat dinge op jou lessenaar rondgeskuif het of jou baas wat vir jou ’n simpel taak of spertyd gegee het.

“En jy ignoreer die feit dat jy moeg is en jou geduld aan die opraak is.” Marcia sê die eerste stap is om te aanvaar jy is in beheer eerder as om jouself as ’n slagoffer te beskou.

2. Moenie jou emosies veroordeel of vrees nie

“As jy nie jou gevoelens erken nie, kan jy dit nie verander nie, en dit het ’n negatiewe impak op jou verhoudings, werkprestasie en algehele geluk,” sê Marcia.

Sy sê om te kan vasstel wat ’n emosie ontlok het, moet jy dink aan wat jy voel jy verloor het of wat jy nie gekry het nie, maar verwag het om te kry. Algemene emosionele snellers sluit in om nie respek te kry nie, om nie aanvaar te word nie, om nie in beheer te wees en nie verstaan te word nie.

3. Verskuif jou emosionele toestand

Met oefening sal jy vinnig kan identifiseer wanneer ’n emosie geaktiveer is en dan kies wat om volgende te sê of te doen. Jy kan oorskakel na die emosie wat jou sal help om dit te bereik deur die volgende te doen:

  • Ontspan: Haal asem en raak ontslae van die spanning in jou liggaam.
  • Laat los: Maak jou kop skoon van gedagtes.
  • Vind jou ekwilibrium: Verskuif jou bewustheid na die middelpunt van jou liggaam.
  • Fokus: Kies een sleutelwoord wat verteenwoordig hoe jy in hierdie oomblik wil voel. Asem die woord in en laat jouself toe om daardie skuif te voel.

“Hou op om jou emosies te bestuur. Kies eerder om iets anders te voel wanneer ’n emosie kop uitsteek. Dit is hoe jy emosionele vryheid kry,” sê Marcia.

ALGEMENE EMOSIONELE SNELLERS

Die volgende ervarings of situasies is algemene emosionele snellers vir talle mense.

  • Iemand wat te besig is om vir jou tyd te maak.
  • Om vir iets blameer te word.
  • Iemand wat jou verlaat (of dreig om dit te doen).
  • Iemand wat jou veroordeel of kritiseer.
  • Verwerping.
  • Iemand wat jou ignoreer.
  • Iemand wat op daardie oomblik onbeskikbaar is.
  • ’n Afkeurende kyk.
  • Iemand wat nie gelukkig lyk om jou te sien nie.
  • Iemand wat jou probeer beheer.
  • Iemand wat veeleisend is of jou probeer versmoor.

DIS NIE ALS NET SLEG NIE!

Daar bestaan ook positiewe snellers wat lei tot gevoelens van veiligheid, samehorigheid, vreugde en ondersteuning.

“Jy kan positiewe snellers ontlok deur byvoorbeeld foto’s van gelukkige herinnerings teen jou mure te sit, na musiek te luister, te oefen en ’n stokperdjie te beoefen wat jy geniet,” sê Kate Solomons, die direkteur van The TraumaClinic Foundation in Kaapstad.

EKSTRA BRONNE: PSYCHOLOGYTODAY.COM, HEALTHLINE.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe