HOE SÊ EK NEE VIR MY BAAS?

Vraag

My baas (ek is sy ontvangsdame) verwag ek moet spesiale gunsies vir hom op kantoor doen, soos om sy naaldwerk te doen wanneer ’n knoop afbreek of ’n soom uit is. Ek voel ongemaklik daaroor, maar weet nie hoe om te weier nie.

  • HP, SMS

Antwoord

Jy moet perke stel as hy dit dan nie kan doen nie. Sê dit spyt jou, maar hoe graag jy ook al wil help, skep dit nie ’n goeie indruk by die publiek as jy by ontvangs met peuselwerkies besig is wat nie op jou pligtestaat is nie.

Kry die nommer van ’n goeie naaldwerker naby jul werk en gee hom dit vir toekomstige verwysing.

VERLORE PA WIL TERUGKOM

Vraag

My dogtertjie van vier jaar het nog nooit haar pa gesien nie. Ons praat ook nie oor hom nie, want my broer is vir haar soos ’n pa. Haar eie pa het ons voor haar geboorte gelos.

Ek was nie met hom getroud nie. Onlangs het ek ’n e-pos van hom gekry waarin hy skryf hy wil nou deel van haar lewe wees. Ek dink nie hy sal sy beloftes nakom nie. Hy betaal nie onderhoud nie. Ons lewe is nou rustig. Moet ek hom in ons lewe toelaat?

  • AP op KS

Antwoord

Jou gevoel is reg om ná so ’n groot vertrouensbreuk en jou eks se lang afwesigheid hom nie ná ’n enkele versoek kitstoegang tot jul kind te gee nie. Dit is goed dat jy aan die toekoms dink en haar gevoelens wil beskerm.

Praatjies vul geen gaatjies nie. Ter wille van jul kind se emosionele en finansiële behoeftes in die toekoms sal jy hom egter kans moet gee om te wys of hy ’n verantwoordelike ouer kan wees.

‘Gee hom kans om te wys of hy ’n verantwoordelike ouer kan wees’
Elize

As jy onseker is of sy optrede volhoubaar is, laat hom eers sy erns hiermee bewys. Stuur vir hom ’n e-pos en vra hy moet jou ontmoet sodat julle oor ’n ouerskapsplan kan gesels.

Hy sal dus moet instem om saam met jou die bal aan die rol te sit vir ’n bemiddelingsproses. Julle sal saam ’n bemiddelaar moet spreek vir leiding oor hoe om ’n plan oor onderhoud vir en toesig oor jul kind op te stel.

Die hof moet dan dié plan bekragtig om dit geldig te maak. In die onderhandelings sal jy ook om onderhoud vir jou kind moet aansoek doen. Berei jou daarop voor deur nou reeds jou uitgawes vir jou kind se versorging aan te teken.

Hou solank koopstrokies en kwitansies. Berei jou kind voor op haar pa se toetrede tot jul lewe, maar wag tot die plan bekragtig is voor jy met haar daaroor gesels. Moet geen verwagtings skep nie.

Bel die Kaapse Familiebemiddelaarsvereniging (Family Mediators Association of the Cape, Famac) by 021-881-6176 om ’n bemiddelaar in jou omgewing te vind.

VERLANG NA VERVREEMDE BROER

Vraag

Ek en my getroude broer is van mekaar vervreem. Hy is bitter oor my oorlede ouers se optrede teenoor ons toe ons nog kinders was. Hy is oorsee en ek verlang na hom. Op my briewe en e-posse kry ek geen reaksie nie. Dink jy ons kan versoen raak?

  • VDB, SMS

Antwoord

Vergifnis is ’n langdurige proses, maar jy sal iewers ’n wegspringblok moet vind. Jy hoef nie verantwoordelikheid vir jou ouers se optrede te aanvaar nie, maar in jou broer se oë wil hy jou dalk daarvoor laat boet.

Omdat hy weens jul ouers se dood nie afsluiting daaroor kon kry nie, maak dit ’n moontlike versoening tussen julle nog moeiliker. Dit sal ’n goeie begin wees as julle sonder enige verwagtings aan jou kant per Skype met mekaar kan gesels onder leiding van ’n gespreksleier.

Vra iemand wat julle albei ken, moet hom as tussenganger kontak en jou versoek vir ’n openhartige gesprek aan hom oordra.

LOS TONG SORG VIR ’n NARE NADRAAI

Vraag

Ek was ’n ruk gelede dronk by ’n vleisbraai. Ek het toe aan my vriende se eggenotes ’n geheim uitgelap. Dis iets wat iemand vir my gesê het oor sy/haar persoonlike lewe, maar dié mens was nie toe in die geselskap nie.

Ek kan nou moeilik verstaan waarom die mense dit so ernstig opgeneem het. Hulle kon tog sekerlik gesien het ek was nie myself nie! Nou is ek baie ongewild. Wat moet ek doen?

  • BS op KBY

Antwoord

Drank gee ’n mens nie ’n vrypas om ander se lewe te beïnvloed sonder om die gevolge daarvan te dra nie. Besopenheid is geen verskoning vir gedrag wat ander seermaak nie.

Jy weet dalk nou al jy maak jou aan sulke gedrag skuldig wanneer jy aandag soek of nie wil hê mense moet dink jy het niks te sê nie. Maar as sensitiewe inligting om watter rede ook al uitgeblaker word, sal die wêreld jou moeilik daarvoor vergewe.

Party mense sal skielik begin wonder wanneer jy hul geheime sal uitblaker aan wie ook al daarna wil luister. Ander kan meen jy het die perke van beleefdheid oorskry.

Ook hulle sal twee keer dink voor hulle jou weer uitnooi. As jy iemand te na gekom het toe jy die geheim verklap het, veral as jy name of herkenbare besonderhede genoem het, moet jy hulle nou verskoning vra.

'Vra jou gerus af waarom jy geneig is om te veel te drink by sosiale geleenthede'
Elize

Verduidelik aan hom of haar jy wou nie doelbewus moeilikheid maak nie, maar moenie jou dronkenskap as regverdiging vir jou optrede probeer voorhou nie. Vra ook elke lid van die groep voor wie jy jou mond verbygepraat het verskoning.

As dit jou gewoonte is om ná ’n paar drankies te spraaksaam te raak, is die oplossing om tydens gesellighede nugter te bly.

Vra jou gerus af waarom jy geneig is om te veel te drink by sosiale geleenthede. Dalk probeer jy jou so handhaaf. As jy aan die oorsaak van jou onbesonne gedrag kan werk, kan jy dalk weer iemand word wat uitnodigings ontvang.

Kontak ons
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1