Om van bed en tafel geskei te wees klink maar goor. Tog is om afsonderlik te slaap dalk nie so ’n slegte idee nie . . .

Moontlik is dit een van die redes waarom prins Charles en sy vrou, Camilla, die hertogin van Cornwall, se huwelik ná 13 jaar nog sterk staan. In Clarence House, hul Londense tuiste, het die koninklike egpaar nie minder nie as drie slaapkamers tot hul beskikking, het ’n vriend aan MailOnline verklap.

Een is volgens haar smaak ingerig, een volgens syne, en die derde kan albei gebruik nes hulle wil.

Dus ’n geval van myne, joune en ons s’n!

Benewens dat Charles en Camilla in aparte slaapkamers slaap, het elkeen ook nog sy eie eiendom. In Rail Mill-huis in Wiltshire bring Camilla graag tyd deur saam met haar twee kinders, Tom Parker Bowles en Laura Lopes, en vyf kleinkinders.

Camilla is hier glo so gemaklik dat sy sommer in ’n japon staan en roereiers maak.

Charles se uitspanplek is sy woning Highgrove in Gloucestershire.

Prins Charles en Camilla, die hertogin van Cornwall, slaap gereeld rond: hy in sy kamer en sy in hare – of in hul gemeenskaplike slaapkamer, saam of apart.

Ook Amerika se pres. Donald Trump en sy vrou, Melania, het twee aparte slaapkamers in die Withuis. Dit werk dalk vir koninklikes en presidente, maar is dit goed as jy en jou geliefde nie elke aand styf teen mekaar opkrul en saam aan die slaap raak nie? Is afsonderlike beddens of slaapkamers die doodskoot vir ’n huwelik – of soms net wat nodig is vir huweliksvrede?

Dit is dikwels ’n puik idee om in verskillende kamers te slaap en mekaar ruimte te gee as dit prakties moontlik is, sê prof. Elna McIntosh, ’n seksuoloog van Sandton.

“Wanneer jy slaap, moet jy slaap om te rus.

'Dit het niks met seks te make nie'
Elna McIntosh, seksuoloog

"Mans snork en vroue los winde. Dan kry jy ook die rustelosebenesindroom, waar die een party heeltyd in die bed skop,” sê Elna.

“Dit het niks met seks te make nie. Wanneer ek en my man weggaan, bespreek ons graag ’n kamer met twee dubbelbeddens. ’n Mens moet realisties wees: As jy nie genoeg slaap kry nie, sal jy in elk geval geïrriteerd wees en sal dit ’n invloed op seks hê.

“Dit kan ook baie romanties wees om in afsonderlike eenhede te woon en dan oor en weer by mekaar te kuier.”

Linda Venter, ’n sielkundige van Fourways, Gauteng, stem saam en sê dit is in beginsel goed dat paartjies in verskillende slaapkamers slaap.

“Die moderne paartjie wil tog ook hul individualiteit behou en dit kan die romanse lewend help hou.”

Marilet Kotzé, ’n huweliks-en-seksberader van Bloemfontein, sê slaapreëlings verskil van paartjie tot paartjie.

Die belangrikste is dat die verhouding werk, ongeag die rede waarom julle apart slaap, soos dat een snork of weens vreemde werkure.

‘Die moderne paartjie wil tog ook hul individualiteit behou en dit kan die romanse lewend help hou’
Linda Venter, sielkundige

“Natuurlik moet julle tyd inruim vir saamwees en intimiteit, maar vir baie paartjies werk afsonderlike slaapkamers,” sê sy.

“Baie mense dink dit is die begin van die einde wanneer paartjies in verskillende kamers slaap, maar dit is nie noodwendig die geval nie. As hulle dit doen uit frustrasie, woede of ongelukkigheid, moet hulle wel hulp kry.”

Prof. Tanya Robinson van die departement maatskaplike werk van die Noordwes-universiteit deel hierdie siening. Volgens haar is goeie kommunikasie en ’n behoorlike nagrus die belangrikste vir albei partye.

“Sommige paartjies verkies om in aparte slaapkamers te slaap. ’n Mens moenie aanneem dat so ’n paartjie ’n problematiese huwelik het of nooit seks het nie. Mense kan apart slaap en steeds intiem verkeer.

“Net so is daar paartjies wat probeer om in dieselfde kamer te slaap omdat dit hulle ’n gevoel gee dat hulle iets deel en daardeur ’n sterk band kan vorm.”

Die gevaar bestaan wel dat huweliksmaats intimiteit kan inboet wanneer hulle apart slaap, maan Marlize Heppell, ’n kliniese sielkundige van Klerksdorp. “Daar is niemand om snags vas te hou nie en die fisieke warmte van ’n lewensmaat langs jou kan ’n wesenlike gemis wees.

“Vir vroue in so ’n verhouding voel seks dikwels net na nog ’n dagtaak wat afgehandel moet word, want die liggaamlike nabyheid en intimiteit is beperkter,” sê sy. “Soms trek mense na aparte slaapkamers ná ’n traumatiese persoonlike ervaring. Individue soek dan die persoonlike ruimte op om te herstel en hulself as’t ware weer bymekaar te hark.

“Dit dui dikwels op ’n terugkeer na die self pleks van om na die intimiteit van die verhouding terug te keer en sáám deur probleme te werk. Dit kan beslis op meer as net ’n fisieke skeiding dui,” sê sy.

''n Mate van emosionele verwydering is onvermydelik'
Marlize Heppell, kliniese sielkundige

“Sommige paartjies kry dit reg om aanpassings te maak sodat die intimiteit wat met ’n gedeelde kamer gepaardgaan nie verlore gaan nie. Dit is ook dikwels een huweliksmaat, nie noodwendig albei nie, wat verkies om alleen te slaap. Dis moontlik dat die ander party mettertyd ook meer na haar of sy eie innerlike wêreld terugtrek en dit later so begin verkies.

“ ’n Mate van emosionele verwydering is dus onvermydelik. Wanneer mense afsonderlik slaap, is dit maklik om ook een-een te gaan fliek of vakansie te hou,” sê Marlize.

Maar die aard van huwelike is dinamies en verander volgens die tydsgees waarin mense leef. Tanya verduidelik hoe jy daardie vonk in jou huwelik kan behou, selfs al slaap julle apart: “Romanse gebeur elke oomblik van die dag, maak nie saak waar of hoe nie. Dit is ’n langtermyntoewyding aan mekaar.” 

‘DIT WERK VIR ONS’

Amanda Strydom en haar man, Tony.

Die kabaretkunstenaar Amanda Strydom en haar man, Tony, woon al 24 jaar van hul getroude lewe in verskillende woonplekke op een erf – en is doodgelukkig.

“Dit is juis die rede waarom daar steeds ’n vonk in ons huwelik is,” sê Amanda. Amanda en Tony het mekaar ontmoet toe hy die huis langs haar gehuurde kothuis koop. Die twee bure het gou-gou goeie vriende geword.

“Ons was albei voorheen getroud en in daardie stadium al geruime tyd alleenlopers.

“Ons was gewoond aan ons eie ruimte en roetine,” vertel Amanda.

“Dit was wonderlik om iemand te leer ken wat nes ek voel. Toe ons verlief raak en besef ons wil saam wees en trou, moes ons ’n plan maak om dit te laat werk.” 

Hy het toe sy huis langs die Westdene-dam in die weste van Johannesburg verkoop en hulle het “ ’n lieflike huis” met ’n kothuis in die blok agter die dam gekoop.

“Tony woon in die kothuis en ek in die groot huis,” sê Amanda.

“Dit was 24 jaar gelede; ons is nou getroude bure en sielsgelukkig.”

Sy glo hul huwelik werk omdat hulle mekaar ruimte gun. Daarby is dit nie asof hulle by mekaar hoef te gaan kuier nie, “want sy huis is reg langs myne”.

Wanneer sy saans ’n romantiese fliek wil kyk en Tony rugby, doen elkeen dit in sy eie huis. Wanneer Amanda drieuur soggens wil opstaan om te skryf of woorde te leer, hoef sy nie op haar tone rond te sluip nie.

“Die een snork nie die ander wakker nie en dis elke oggend lekker om mekaar in die kombuis te groet,” sê sy. “Dit is wat die vonk in óns huwelik hou. Ek weet daar is duisende mense wat van my sal verskil, maar dit werk vir ons.”

Foto's: Gallo Images/Getty Images, verskaf