Prestasies plaas hom op sy perdjie

VRAAG

Ek gaan nou ses maande uit met ’n geskeide man van 40. Wanneer ek hom van iets vertel wat ek of my familie bereik het, spring hy op die verdediging. Dan vertel hy my vinnig iets om te wys hy of sy familie vaar net so goed, veral wat die kerk betref. Dis so kinderagtig.

Wanneer jy in ’n verhouding verplig voel om jou ware self te ontken, moet die gevaarligte begin flikker.

Hy het niks om oor minderwaardig te voel nie. Ons kom goed oor die weg en ek is verlief op hom, maar dit voel of ek moet stilbly wanneer ek iets regkry. Ek wil nie spog nie; ek wil hom net daarvan vertel. Dis immers hoe ons familie is.

Kan ’n mens so iets by iemand verander of moet ek verby dit kyk?

- SP op KL

ANTWOORD

Wanneer ’n mens voortgaan om jou en jou behoeftes in ’n verhouding te ontken, is dit gewoonlik uit vrees, weens ’n swak selfbeeld of omdat jy stres wil vermy. As jy jou begin aanpas of verander om ’n verhoudingsmaat tevrede te stel en spanning te vermy, gaan jy nie jou volle potensiaal in die verhouding bereik nie.

Wanneer jy in ’n verhouding verplig voel om jou ware self te ontken, moet die gevaarligte begin flikker.

Jy hoef nie jou talente weg te steek of jou aan bande te laat lê deur iemand wat onseker is van homself nie. Jy voel reeds aan sy optrede dit het iets met beheer te doen. Dalk sal jy liewer stilbly as om sy kommentaar te verduur.

Om getrou te wees aan jouself verg in enige verhouding moed.

Onnodige en afkrakende kritiek kan ’n mens in die bed laat wegkruip. ’n Mens wil nie in enige verhouding heeltyd jou woorde tel nie. Jou kêrel se op- en aanmerkings neem niks van jou sukses of prestasies weg nie. Om getrou te wees aan jouself verg in enige verhouding moed.

Jy hoef nie opofferings te maak omdat hy op sy perdjie spring of jaloers is nie. As jy dit doen, sal jy net op kort termyn gemaklik voel. Ek sal jou aanraai om briek aan te draai met die verhouding en te kyk of jy hom werklik as maat in jou lewe wil toelaat.

Miskien ervaar jy nog dinge waarvan jy nie hou nie en dat hy moontlik tog nie Meneer Reg is vir jou nie.

Rondomtalieliefde

VRAAG

Ek is in ’n verhouding met ’n man wat voorgee hy is baie lief vir my, maar eintlik is dit ’n leuen. Elke keer dat ons uitmaak, gaan hy terug na sy eks.

Tog meng hy dan met my nuwe verhoudings in sodat ek dit verbreek, en dan gaan ons weer uit. Ek is moedeloos.

- Anoniem (SMS)

ANTWOORD

Jou voorgevoel is heeltemal reg. Hy wil jou nie verloor nie en wil die beste van albei wêrelde hê: sy verbintenis tot jou en sy verbintenis met sy eks.

Om die kringloop van uitmaak en opmaak te beëindig, moet jy jouself herinner aan die tye dat hy jou ongelukkig gemaak het eerder as die goeie tye saam met hom.

Beperk enige verdere kontak tussen julle streng om te keer dat hy weer met jou volgende verhouding inmeng. Hy sal hom dalk nie daaraan steur nie; daarom sal jy vasbeslote die leiding daarmee moet neem.

‘Gevaarligte moet flikker wanneer jy verplig voel om jou ware self te ontken’ – Elize

Oudsoldaat soek hulp met gehoor

VRAAG

Ek is ’n oudsoldaat wat tydens die Grensoorlog in Angola was. Ek word nou 60 en sukkel met my gehoor. Hoe kan ek te werk gaan om ’n gehoortoestel te kry as ek nie geld het daarvoor nie?

- Fanie (SMS)

ANTWOORD

Die Wet op Militêre Veterane, wat op 1 April 2012 in werking getree het, maak voorsiening vir mediese voordele vir militêre veterane. Daarvolgens kan voormalige lede van die ou Suid-Afrikaanse Weermag soos jy mediese voordele eis, maar jy moet aan sekere vereistes voldoen, soos om as ’n militêre veteraan geregistreer te wees.

E-pos health.care@dmv.gov.za vir inligting. Die prosedure wat jy moet volg om jou as veteraan te registreer word verduidelik op die blad van die Raad vir Militêre-veterane-organisasies van die Republiek van Suid-Afrika.

Slaapkous van ’n minnaar

VRAAG

Een van my vriendinne kla haar man tel sy selfoon op baie gou nadat hulle intiem was. My man raak weer onmiddellik aan die slaap. Dis al wat hy daarna wil doen. Ek wil dan nog vasgehou word en ’n bietjie gesels.

Ek voel ’n bietjie verwerp en so asof die liefdemakery al is waaroor dit vir hom gaan.

Ons is al lank getroud, maar dit was nog altyd so. Ek is dan nie vaak nie, maar hy draai om en sluit hom van alles af.

Ons ondervind geen probleme nie. Ons het drie kinders en het albei ’n werk. Ek wonder net altyd of dit ’n gebrek aan belangstelling is. Ek voel ’n bietjie verwerp en so asof die liefdemakery al is waaroor dit vir hom gaan.

Hy moet tog weet ek is wakker langs hom. Gee hy ooit om? Wat dink jy? Is hy selfsugtig?

- BM op LK

ANTWOORD

Wat jy ervaar, is baie normaal. ’n Groot getal mans voel ontspanne ná seks en wil dan net agteroor lê en die oomblik geniet. Die klein rukkie ná enige hoogtepunt tussen die lakens is ook vir mans ’n hormoongevulde oomblik.

Hormone soos oksitosien, wat tydens ejakulasie vrygestel word, maak hulle rustig en lomerig. Tog is daar beslis ook bedagsamer minnaars wat weet hul bedmaats het kussinggeselsies en drukkies ná die tyd net so nodig soos vervullende seks.

Navorsing wat Bernice Kanner aanhaal in haar boek Are You Normal about Sex, Love and Relationships? wys mans van sowat 18 jaar oud is ná 15 minute se rus weer minder slaperig, terwyl die gemiddelde indommeltyd vir mans ná seks ’n halfuur is.

Bernice se boek: Are You Normal about Sex, Love and Relationships?

Oorweeg gerus om mekaar soms vroegoggend te bemin wanneer hy weet hy sal moet opstaan en sal ná die tyd moet wakker bly. Geniet ander tye self die oomblik, en kruip dieper agter sy rug in.

Kontak ons
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com.
Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.