Hoe gemaak as jy 'n beheervraat is?
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Jy raak ontsteld of ongeduldig as jy sien mense rondom jou is omgekrap, hartseer of kwaad, en dan gee jy sommer dadelik vir hulle raad oor wat hulle moet doen om dinge te verbeter.

Jy hou nie van die stokperdjies wat die mense om jou bedryf nie, en jy karring aan hulle om eerder iets anders te doen wat jy meen beter vir hulle sal wees.

Jy dink dikwels jy het die antwoord of oplossing op ’n probleem en glo dis jou plig om dit te deel met die mense wat volgens jou daarby kan baat vind.

Klink dit soos jy?

As jy jouself in dié voorbeelde herken, is jy dalk ’n beheervraat. En dit het nie net ’n uitwerking op die mense rondom jou nie; dit kan ook jou eie nagrus versteur en jou stresvlakke opjaag.

Ons almal weet jy kan die lewe nooit ten volle beheer nie. En tog is daar sommige van ons wat probeer optree asof dit wel moontlik is – wat altyd probeer ingryp en alles rondom ons probeer bestuur.

Mense wat oor elke ou dingetjie beheer wil uitoefen, is dikwels mense wat heimlik onseker oor hulself voel omdat hulle bang is hul eie lewe toon krake of val uitmekaar.

Beheervrate raak selfs betrokke in situasies wat hulle nie aangaan nie of speel polisieman oor ander se optrede en gevoelens, vas oortuig daarvan hulle kan die wêreld na hul eie wense of oortuigings inrig.

Hoewel ’n beheervraat dikwels voel hulle is besig om almal rondom hulle met hul eise, verwagtings en kritiek te help, is hulle dikwels vir hul naasbestaandes ’n bron van irritasie, frustrasie en seer.

Mense wat oor elke ou dingetjie beheer wil uitoefen, is dikwels mense wat heimlik onseker oor hulself voel omdat hulle bang is hul eie lewe toon krake of val uitmekaar, sê Marlize Heppell, ’n kliniese sielkundige van Klerksdorp. 

Sy voeg by dit is inderdaad nodig om die leisels van jou eie lewe mooi vas te hou en verantwoordelikheid vir jou optrede (en soms vir ander s’n) te aanvaar.

’n Ouer moet byvoorbeeld seker maak hul kinders onthou om hul skoolboeke soggens in te pak en hul huiswerk te doen. Maar om ’n beheervraat te wees is om dié sin van verantwoordelikheid te ver te voer.

Ware beheervrate is mense wat dikwels wil hê elke dingetjie moet perfek wees, en hulle raak byna kompulsief daaroor, sê Irene Motaung, ’n berader van Randburg.

Waar kom dit vandaan?

Die wortel van ’n beheervraat se gedrag is dikwels angs. Mense verander gewoonlik in beheervrate juis omdat hulle vrees hulle het nie regtig beheer nie, sê prof. Awie Greeff, ’n kliniese sielkundige en dosent van Stellenbosch.

Dié gevoel dat jy moet spartel om van jou lewe beheer te kan neem kom soms voor onder mense met sielkundige probleme soos angstigheid of ander persoonlikheidsteurings. 

Nog ’n oorsprong van beheervratery is as ’n mens in ’n huis grootgeword het waar een of albei van jou ouers beheervrate was, sê Lizette Muller, ’n sielkundige van Bloemfontein.

In wanfunksionele gesinne, waar die ouers en die omgewing buite beheer is en daar dinge soos alkohol of ander middels misbruik word of gesinsgeweld teenwoordig is, neem die kind die ouerrol aan.

In gesinne waar een ouer byvoorbeeld alkohol of ander middele misbruik, sal die ander ouer soms begin glo hy of sy moet die kinders in elke gebied van hul lewe beheer om hulle veilig te hou.

Beheervraatsugtigheid kan ook spruit uit presies die teenoorgestelde situasie:

As jy grootgeword het in ’n huis waar die lewe chaoties was, kan jy dalk in jou latere lewe daarvoor probeer opmaak deur alles te wil beheer.

“In wanfunksionele gesinne, waar die ouers en die omgewing buite beheer is en daar dinge soos alkohol of ander middels misbruik word of gesinsgeweld teenwoordig is, neem die kind die ouerrol aan,” sê Lizette.

Vertrou dat ander mense ook verantwoordelikheid kan en moet aanvaar

Die kind moet dan verantwoordelikhede aanneem soos om kos te maak, deure te sluit, die dronk of bedwelmde ouer in die bed te sit of die mishandelde ouer te beskerm.

“Die kind leer hy of sy moet beheer neem van hul omgewing.” Soms word die saadjie in veel minder dramatiese omstandighede geplant, maar dit groei dan ál groter tot jy later voel dis jou verantwoordelikheid en reg om alles op koers te probeer hou.

Is jy ’n beheervraat?

Lizette beveel aan ’n mens kan vir die volgende simptome op die uitkyk wees:

  • Jy glo altyd jy is reg.
  • Jy vertel ander gereeld hoe hulle moet optree of voel.
  • Jy glo jy weet wat die beste is vir elke situasie.
  • Jy wil alle rusies wen. SJy kritiseer jouself en ander mense gedurig.
  • Jy hou nie daarvan om krediet vir sukses met ander te deel nie.
  • Jy glo dat jy kan keer dat slegte dinge met ander of geliefdes sal gebeur.
  • Jy koester wrokke. Die beherende gedrag kan ook insluit dat jy onrealisties hoë verwagtings van jouself en ander het. Jy sukkel om begrip vir ander se foute en swakhede te toon. Soms grens jou poging om ander te beheer aan emosionele afknouing.
Hoe gemaak as jy 'n beheervraat is?
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hoekom is dit sleg vir jou en vir die mense om jou?

Beheervrate sukkel dikwels om in groepe te gedy of in spanne te werk, sê prof. Renata Schoeman, ’n psigiater van Kaapstad.

Dis vir hulle moeilik om saam met ander te werk, want as die ander partye se werk nie 100% is soos hulle dit wil hê nie, is dit vir die beheervraat onaanvaarbaar. Hulle raak geweldig gefokus op detail, lysies, reëls en organisering.

“Hulle raak so verstrengel daarin dat hulle die eintlike punt mis,” sê Renata.  Dit maak die beheervraat nie meer doeltreffend nie, want dikwels raak hulle so in fyn detail verstrengel dat hulle sukkel om die oorhoofse projek in gedagte te hou.

Beheervrate neig dikwels daarna om angs en depressie te ontwikkel omdat hulle nooit die beheer kan kry waarna hulle streef nie en voel asof dinge in duie sal stort as hulle dit nie kan bestuur nie.

Beheervrate se verhoudings met ander mense kan ook onder hul gedrag ly, sê Marlize. 

Beheervrate wil dikwels alles weet van wat hul maat doen, wie hulle sien en waar hulle gaan. Of hulle het ’n mening oor alles en probeer die ander een gedurig van hul siening en maniere oortuig.

“Baie mense voel verneder, verkleineer en of hulle soos ’n kind hanteer word wanneer iemand oormatige beheer oor hul lewe uitoefen,” sê Lizette.

Dit kan die mense om jou gefrustreerd en kwaad maar ook ontmagtig en selfs angstig laat voel. Beheervrate neig dikwels daarna om angs en depressie te ontwikkel omdat hulle nooit die beheer kan kry waarna hulle streef nie en voel asof dinge in duie sal stort as hulle dit nie kan bestuur nie.

Dit kan dus die mense om jou, maar ook jouself gespanne en ongelukkig laat voel.

Hoe nou as jy ’n beheervraat is?

Om te besef jy het ’n probleem is die eerste tree op die pad na verbetering. Doen introspeksie en vra jouself af waar jy dinge te ver voer en hoekom jy dit doen.

Vra jou naastes of hulle dink jy moet aandag gee aan jou gedrag – hul antwoorde kan dalk seermaak, maar miskien is dit tyd om hul insigte te oorweeg.

Gewone leefstylveranderings wat jou stres en angstigheid verminder, kan ’n beheervraat baie help.

Gereelde oefening en beter slaapgewoontes sal jou help om minder benoud te voel as alles nie presies is soos jy dit wil hê nie.

Laat gaan die dinge waaroor jy nie beheer het of behoort te hê nie en vertrou dat ander mense ook verantwoordelikheid kan en moet aanvaar vir hul eie lewe, menings en optrede.

Omdat beheervrate dikwels perfeksionisties is en soms baie tyd aan hul werk bestee, moet hulle aandag daaraan gee om ’n beter balans tussen werk en hul persoonlike lewe te vind deur tyd te maak vir verhoudings, stokperdjies en ontspanning.

Vra jouself meer gereeld af:

  • Is dit iets waaroor ek regtig ’n sê het?
  • Is dit iets wat ek moet probeer bestuur?
  • Is dit my verantwoordelikheid?
  • Wat sal gebeur as ek nie ingryp nie?
  • Wat is die ergste wat kan gebeur as ek nie betrokke raak nie?

Laat gaan die dinge waaroor jy nie beheer het of behoort te hê nie en vertrou dat ander mense ook verantwoordelikheid kan en moet aanvaar vir hul eie lewe, menings en optrede.

Gaan spreek ’n sielkundige as jy spartel om jouself in toom te hou en as dit ’n nadelige impak op die mense rondom jou het.

’n Terapeut sal jou kan help om te bepaal of jy ’n onderliggende probleem – soos angstigheid of depressie – het, en dit kan dan met berading of selfs medikasie behandel word.

’n Terapeut kan ook vir jou vaardighede aanleer om te onderskei tussen situasies wat jou ingryping nodig het en dié wat jy maar kan laat staan.

Hoe gemaak as jy met ’n beheervraat saamleef?

As een van jou naastes ’n beheervraat is, moet jy jouself daaraan herinner jy hoef nie al hul menings te eggo, hul kritiek te internaliseer, hul opdragte uit te voer of aan hul eise of verwagtings te voldoen nie.

Net omdat daardie mens dink iets is goed vir jou of dat jy ’n situasie op ’n sekere manier moet hanteer, beteken dit nie jy moet dit doen nie – daardie mens het nie die finale woord oor jou gedagtes of gedrag nie. Onthou ook dat daardie mens waarskynlik met hul eie probleme worstel.

As jou maat byvoorbeeld ontevrede is oor iets so onbenullig soos hoe jy hul T-hemde vou, kan jy rustig ’n grens stel en sê hulle kan dan maar self hul eie hemde vou.

Raai hulle aan om ’n terapeut te gaan spreek indien die gedrag jou selfbeeld of jul verhouding knou. Dit kan die ander mens ook soms help as jy eenvoudig jou voet neersit en weier om aan hul verwagtings en elke eis te voldoen.

As jou maat byvoorbeeld ontevrede is oor iets so onbenullig soos hoe jy hul T-hemde vou, kan jy rustig ’n grens stel en sê hulle kan dan maar self hul eie hemde vou, sê Lizette.

“Jy moet jou eie waarde ken en weet hoe om jouself uit te druk sonder dat jy die ander mens verwyt.”

Dis belangrik om die beheervraat in jou lewe te laat verstaan daar word nie verwag dat hulle hul standaarde verlaag nie, maar bloot dat hulle ander se manier van dink en doen moet leer respekteer, sê Renata.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe