Sy laataand-ontboeseming op Facebook dat hy ’n foto van homself “in ’n onderbroek” aan ’n ander vrou gestuur het, het ’n herrie onder die sanger Jay du Plessis se aanhangers veroorsaak.

Party het hom veroordeel, ander het probeer verstaan, ander wou dit nie glo nie en het volgehou daar moet ’n misverstand wees. Maar hy hét dit gedoen en hy berou dit, het die getroude sanger gebieg.

“So ek het die jaar ’n fout gemaak en ’n foto van myself in ’n onderbroek vir ’n ander vrou gestuur. Ek is erg spyt daaroor, ek sê dit sodat niemand daaroor hoef te skinder nie. Dis waar. Ek voel soos ’n hond en ek hoop ek kan dit regmaak met die res van die tyd wat God my spaar,” het die sanger en pa van vier seuns in sy inskrywing onthul.

Later het hy ook op Facebook bevestig sy vrou, Mia, weet wat hy gedoen het: “Sy weet en is baie hartseer. Ek sal hard moet werk om dit reg te maak.”

Facebook-boodskappe
Sy bekentenis op Facebook. Foto: Facebook
Facebook-boodskappe
Foto: Facebook

Jay, wat al nege jaar met sy advokaatvrou getroud is, het die voorval teenoor Huisgenoot bevestig: “Ek was swak en het ’n dom fout begaan. Nou kan ek net probeer om dit reg te maak.”

Die egpaar se prokureur, Kobus van Niekerk, het aan Rapport gesê Jay en die vrou aan wie hy die foto gestuur het, het nie intiem verkeer nie en daar was geen buite-egtelike verhouding nie: “Dit het by foonkontak gebly.”

Volgens Kobus het Jay intussen alle kontak met die vrou verbreek, en Jay en Mia wil nie verder oor die saak praat nie.

Dit is natuurlik nie die eerste keer dat ’n getroude man of vrou vir iemand anders as hul huweliksmaat ’n privaat foto of onvanpaste boodskap stuur nie – vir baie paartjies het so ’n onbesonne oomblik al groot seer veroorsaak.

jay en vrou
Jay en sy vrou, Mia, het vier jong seuns. Foto: Martin De Kock

Dit kan ’n vertrouensbreuk in ’n huwelik veroorsaak of tot vergifnis en versoening lei.

Maar hoe gemaak as jy jou maat se vertroue geskend het, dit diep berou en wil regmaak? En hoe kan jy jou maat vergewe en weer leer vertrou as jy aan die ontvangkant van die seer is?

Ons het by kenners raad gaan vra.

HELP, EK HET DIE VERTROUE GESKEND

Erken jou fout

Die kontrak van vertroue is een van die belangrikste hoekstene van ’n gesonde verhouding, en wanneer dit verbreek word, ly die verhouding groot skade, sê dr. Rosa Bredekamp, ’n Kaapse voorligtingsielkundige. Beperk die skade deur gouer pleks van later te bieg, is haar raad.

Aanvaar en erken jou maat se skok

Wanneer jy jou maat die eerste keer van jou fout vertel, sal party mense onmiddellik so geskok wees dat hulle verder niks meer van jou woorde inneem nie, sê dr. Jolanda Dreyer, ’n sielkundige van Pretoria.

“Dan moet jy later weer verduidelik wat jy gedoen het, want sommige het tyd nodig om dalk te huil, die vertrek te verlaat of selfs koppies rond te gooi.

Hulle moet uiting gee aan die emosie, anders gaan hulle dit opkrop, en dít is toksies,” sê Jolanda.

Volgens haar het sommige mense meer tyd as ander nodig om ’n vertrouensbreuk te verwerk. “Party neem drie maande tot twee jaar, en ander selfs langer as dit.”

Vertel die volle waarheid

Wanneer die geheim op die lappe kom, moet jy oor elke besonderheid praat, sê Rosa.

“Beantwoord alle vrae,” sê Liewe Elize, wat lesers se vrae weekliks in ons raadgeerubriek beantwoord.

Moenie jou optrede probeer regverdig met verskonings soos “Jy gee my te min komplimente” of dit afmaak as iets wat “baie mense” doen nie, maan sy. As jy nie jou maat die volle waarheid vertel nie en hy of sy vind later daarvan uit, gaan jy die wantroue vererger, beaam Jolanda.

Jy moet verstaan die trauma kan eers genees wanneer jy vir jou aandeel in die nagmerrie verantwoordelikheid neem, sê Susan Eksteen, ’n berader en verhoudingsterapeut van Krugersdorp.

Sê jammer op die regte manier

Wees opreg, sê Rosa. “Hierna moet jy so dikwels as wat jou maat nodig het, verskoning aanbied. Wees spesifiek oor waarvoor jy vergewe moet of wil word.”

Jolanda meen jy moet wel daarteen waak om te begin voel asof jy permanent in die beskuldigdebank is. “As jy een keer opreg jammer sê en verder dinge regstel met jou dade, is dit nie nodig om aanhoudend jammer te sê nie.”

Wys jy wil dit met jou dade regmaak

Jy moet hard werk, sê Jolanda. “Wees betyds by die huis. Wees getrou in jou woorde en aksies, en laat die twee ooreenstem.

Let op hoe jy teenoor die teenoorgestelde geslag optree, want jou maat gaan dit dophou. Verbreek kontak met die mens wat betrokke was en wis hul nommers op jou foon uit.”

Volgens Elize kan jy jou maat se vertroue terugwen deur jou internetgeskiedenis en wagwoorde te deel sodat hulle toegang tot jou foon het.

Koester jou maat opnuut

Rosa stel voor jy en jou maat kry hulp by ’n berader of sielkundige en jy leer jou maat opnuut waardeer.

“Gee jou maat ekstra aandag, liefde, sorg en tyd, en skep ’n veilige ruimte waarin julle albei gemaklik voel. Kry iets nuuts om saam te doen wat die gehalte van jul verhouding verbeter.”

Vergewe jouself

“Jy moet jouself ook vergewe, want die skuld en selfverwyt kan jou vernietig en van jou ’n gefrustreerde mens maak wat nie aan die verhouding wíl bou nie,” waarsku Elize.

Neem jou kinders in ag

Eerlikheid is ook die beste opsie wanneer kinders betrokke is, maar hou dit gepas vir die kind se ouderdom, sê Susan. “Erken jou fout, maar dit is nie nodig om jou kind die besonderhede te vertel nie.”

‘Beperk die skade deur gouer pleks van later teenoor jou maat te bieg’

HOE VERTROU EK MY MAAT WEER?

Hoe ondervra jy jou maat?

As jy ’n vertrouensbreuk vermoed, probeer eers kalm raak voor jy jou maat konfronteer, maan Jolanda. Wag tot julle alleen is en sê wat jy gesien of gehoor het.

Volgens haar sal jou maat se eerste reaksie baie verklap: “As dit so is, sal hulle gewoonlik geskok reageer en bleek word.”

Rosa stel voor jy sê vir jou maat jy wil alles oor die vertrouensbreuk weet, want jy kan jou maat net ten volle verstaan en dit begin verwerk as jy al die inligting het.

Verduidelik hoe jy voel

Nadat jou maat die fout bely het, moet jy aan jouself erken watter gevoelens jy alles ervaar. Dink daaroor, skryf dit neer en laat jouself toe om dit te ervaar, stel Jolanda voor.

Daar sal moontlik ’n hele rits emosies wees, maar dit is alles deel van die pad na genesing: “Eers die skok en ongeloof, dan die hartseer en pyn, dan die woede, dan die onderhandeling en eindelik die aanvaarding en opbou van ’n nuwe verhouding. Dis hoekom tyd so belangrik is,” sê Rosa.

“Dit bly ’n goeie idee om in ‘ek’-taal te kommunikeer. Deur te sê hoe seer jy in jou hart het, sonder om te blameer, kan jy jou maat ontvankliker maak vir empatie teenoor jou,” sê Susan.

Hoe gemaak met die woede?

Soos met ’n rouproses is jou woede deel van die pad om by aanvaarding uit te kom, sê Rosa. Laat jouself toe om dit te ervaar. Die kuns is dat jy jou woede dan inperk sonder om jou gevoelens op te krop.

Vra ’n berader of sielkundige om jou te help om dit te verwoord.

Hoe begin jy vergewe?

Sodra jy sien jou maat het werklik berou en hul gedrag bewys dit, raak vergifnis makliker, sê Susan. Rosa waarsku jy moenie teen die vertrouensbreuk bly vaskyk nie: “Leer om dit agter te laat.”

Hoe gouer jy kan vergewe, hoe gouer kan die verhouding herstel word, beaam Elize.

“Tog kan jy nie leef asof gister nié gebeur het nie. Kry ’n gesonde balans: Laat jou maat vir jou vertroue werk, maar moet hom of haar nie aanhou straf oor iets wat verby is nie.”

Selfs ná vergifnis kan sekere dinge weer rowe oopkrap, maan Jolanda.

“Gaan praat met ’n terapeut hieroor om dit te verwerk.”

Susan sluit hierby aan: “Dit neem een mens om die vertroue in ’n verhouding te skend, maar dit verg twee om die verhouding te laat voortduur.”