Eers het jy die silwer randjie van die inperkingswolk raakgesien. Dalk is dit al wat nodig is om jou en jou maat nader aan mekaar te bring, het jy gehoop.

Maar nou, maande later, moet jy erken heeldag en aldag bymekaar wees het toe glad nie die vonke tussen die lakens laat spat nie. Inteendeel, die ewige gestry oor wie die skottelgoedwasser gaan uitpak en die kinders met hul skoolwerk help, het irritasievlakke die hoogte laat inskiet.

En om bedags in jou sweetpak en pantoffels rond te slof sit jou nie juis in die bui nie.

Dalk het dit seks, of gedagtes daaraan, selfs uit die prentjie laat verdwyn. Dis ’n dilemma wat miljoene ingehokte paartjies wêreldwyd beleef.

“Maande se inperking het die meeste van ons goeie voornemens laat verdwyn,” sê Catriona Boffard, ’n seksuoloog en psigoterapeut van Johannesburg. “Te midde van die onsekerheid en angstigheid voel baie mense seks is nie iets wat hulle regtig nou wil hê nie. Ons bring die meeste van ons dae voor skerms deur in die gemaklikste klere wat ons het, en die meeste van ons het ophou moeite doen met ons voorkoms.”

Maar ironies genoeg is seks eintlik ’n antidepressant wat goedvoelhormone vrystel wat jou beter sal laat voel. Het jy hulp nodig om jou in die luim te kry? Hier is kenners se wenke.

Kyk goed na jouself

Probeer een ding per dag doen wat jou laat goed voel oor jouself, sê die plaaslike seksuoloog Marlene Wasserman, beter bekend as Dr. Eve. Selfsorg verbeter jou luim en jy sal meer in romanse en intimiteit belangstel.

Sy beveel aktiwiteite aan wat “jou gedagtes laat bedaar”, soos dagboek hou, mediteer, joga, Pilates, musiek en beweging.

Dit kan ook doendinge wees wat jou laat voel jy het “iets bereik”. Iets so kleins soos huis skoonmaak of ’n taak afhandel. “ ’n Goeie gemoedstoestand laat jou in beheer van jou eie lewe voel en laat jou gevolglik meer in ’n intieme verhouding belangstel.”

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Skep fisieke afstand

Afwesigheid versterk soms die liefde. Of soos die Belgiese seksterapeut Esther Perel dit stel: “Begeerte benodig afstand.”

Dis makliker gesê as gedaan wanneer julle albei in een huis vasgekeer is. Probeer op jou eie gaan stap en doen die inkopies afsonderlik. Gebruik verskillende vertrekke in die huis om in te werk. “Dis belangrik om met jou maat ooreen te kom oor ’n tyd en ruimte wat joune is, en dat hulle weet hulle moet jou nie steur nie,” sê Catriona.

“Kies die tuin as ‘jou ruimte’ vir ’n uur oor die naweek en geniet dan alleentyd om te herlaai.”

Onthou, al het jy tot die huwelik ingestem, het jy nie die jawoord gegee vir ’n vonnis van maande saam, 24 uur, sewe dae per week, met geen vooruitsig op parool nie.

Begin seksboodskappe stuur

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Al is julle in dieselfde huishouding, kan jy steeds tegnologie inspan vir ’n bietjie pret. Gebruik jou skootrekenaar of foon om sexy teksboodskappe, foto’s of video’s te stuur. Deel jou fantasieë – dis ’n wonderlike manier om die seksuele tango aan die gang te kry.

Oppas net dat jy dit nie vir iemand anders stuur nie.

Skakel toestelle af

Ons almal kyk gedurig na ons e-pos, aanlyn nuusdienste en die sosiale media, maar probeer een aand per week sonder tegnologie klaarkom en kyk wat gebeur.

“Baie van ons sukkel met ‘skermmoegheid’ en ons toestelle kan in die werklikheid soos ’n derde mens in die verhouding word,” sê Catriona. ’n Goeie begin is om sonder televisie aandete te eet, sê die Australiese kliniese seksuoloog Tanya Koens.

“Voorspel begin met ‘Hoe was jou dag?’ Dit gaan oor ’n verbintenis maak en ’n gesprek aan die gang kry.”

Leer om te waardeer

Al woon julle 24 uur per dag, sewe dae per week saam, probeer om mekaar raak te sien deur waardering, toegeneentheid en erkenning uit te spreek, stel Dr. Eve voor.

“Jy kan sê: ‘Ek het vanoggend opgemerk hoe geduldig jy was toe jy saam met ons kind huiswerk gedoen het’ of ‘Ek waardeer dit dat jy my gunstelinggroente vir ete gemaak het’ of ‘Ek het dit geniet om jou in die stort te sien’.

Om die daaglikse interaksie raak te sien kan baie doen om julle nader aan mekaar te bring.”

Behou ’n bietjie misterie

“Misterie en intrige is deurslaggewend,” sê Catriona oor die voorvereistes vir seksuele begeerte. “Gebruik jul verbeelding en skep ’n bietjie misterie deur uit verskillende vertrekke met mekaar te flirt, en laat jou maat raai wat jy in die vertrek langsaan doen.”

En onthou, oorfamiliariteit is soms nie ’n goeie ding nie. Is dit byvoorbeeld regtig nodig om met daardie komkommergesigmasker voor jou maat rond te loop? Of om op die bed jou toonnaels te sit en knip? En as jy in die gewoonte verval het om die badkamerdeur oop te los wanneer jy toilet toe gaan, hou dan op.

Julle hoef nie alles te deel net omdat julle deesdae altyd bymekaar is nie.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Raak nuuskierig

Jy dink waarskynlik daar is niks wat jy nie van jou maat weet nie, maar benut nou die kans om ’n paar nuwe dinge oor hulle te probeer leer. As julle byvoorbeeld ’n afspraakaand tuis het, gee jou verbeelding vrye teuels en vra jou maat vrae wat jy nog nooit voorheen gevra het nie.

Soos: As die huis afbrand, watter drie dinge sal jy red? Of: Kan jy jou lewe in vier woorde opsom? Die opsies is eindeloos. “Word ’n interessante mens,” sê Dr. Eve. “Kyk verskillende reekse en luister na jul eie podsendings. Bespreek jul gedagtes en ervarings. Deel stories met mekaar.

“Verbind sosiaal met mekaar, en vind mekaar interessant deur jul onderskeie nuwe ervarings te deel. Dit maak jou sexy vir jou maat.”

Trek visnetkouse aan

Daar is ’n rede waarom onderklere uitgevind is . . . om jou in die luim te help kry, selfs al is jy nie in die luim nie.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

As jy al die moeite doen om ’n “afspraakaand” tuis te reël, kan jy netsowel iets sexys aantrek – dalk die swart nommertjie wat al hoe lank agter in jou klerekas hang. Jou maat het waarskynlik al genoeg gesien van die sakkerige ou sweetpak wat jy nou al weke lank dra.

Skeduleer sexy-tyd

Soms is spesiale tyd opsysit om saam met jou maat te wees al wat nodig is om die vonk weer te laat vlam vat. Probeer een keer per week of maand ’n afspraakaand reël. Ja, dit is buite die kwessie om na jou gunstelingrestaurant te gaan, maar bestel ’n ete en dek ’n romantiese tafel met kerse iewers in die huis.

“Dis eintlik noodsaaklik dat pare meer aandag gee aan intimiteit wat nié seks is nie as aan seks alleen, want wat buite die slaapkamer gebeur, kan ’n invloed hê op hoe graag ons seks wil hê,” sê Catriona.

As die kinders voortdurend in die pad kom, raak kreatief. Staan vroeg op voor hulle wakker word, of gaan stort saam en sluit die badkamerdeur. Sluip saam weg vir ’n middagslapie. Intimiteit hoef nie altyd seks te behels nie – soen en drukkies is net so belangrik.

“Of seks werklik gebeur, is nie die punt nie; dit gaan daaroor dat julle op ’n fisieke manier intiem saam is,” sê die Australiese seksterapeut Désirée Spierings.

“Soms voel ’n maat dalk geen spontane begeerte nie, maar sien nogtans kans vir ’n massering of saam bad. En wanneer hulle eers ’n bietjie geprikkel en ontspanne begin voel, skop begeerte in.”

Ekstra bronne: dailymail.co.uk, abc.net.au