As jy jou man in die katel koester, sal hy nie groener weivelde soek nie, het ’n geskeide sakevrou Huisgenoot-lesers twee weke gelede in ’n ope brief vermaan.

In Lindi* se brief vertel sy van haar egskeiding 16 jaar gelede ná haar man se ontrouheid. Sy is geskok oor hoeveel getroude mans deesdae by haar aanlê, skryf sy, en sy wens sy kon nog saans by ’n geliefde inkruip.

Pret in die bed is die sleutel tot ’n huwelik sonder egbreuk, skryf sy. ’n Gesonde sekslewe is soos ’n geurige bord kos, sê sy, en sluit af: “Dek vir julle so geurig dat hy altyd by jou sal wil eet.”

Hokaai, het sommige lesers teruggekap. Dis nie so eenvoudig nie, meen hulle. Om jou man gereeld in die bed te bederf is beslis nie ’n waarborg dat sy oë nie gaan dwaal nie, skryf Christelle*.

In haar verhouding moes sy op die harde manier uitvind ’n “stomende liefdeslewe” is nie noodwendig die sleutel tot langdurige verhoudingsgeluk nie.

Nog ’n leser, Kallie*, beaam Lindi se sienings, maar benadruk dis nie altyd die man wat elders opwinding soek nie. Hy was heel tevrede met sy huwelikslewe, maar toe knoop sy vrou ’n affair met ’n ander man aan.

Hy tree ook in die bres vir mans: “Ons is eenvoudige skepsels,” skryf hy. “Ons soek net erkenning vir dit wat ons vir ons gesinne doen en beteken.”

Hier is hul briewe (verkort) in reaksie op dié van Lindi.

Christelle skryf:

Dit gaan beslis nie oor hoe wonderlik jy in die bed is, hoe mooi jy is of hoe mooi jou lyf is nie – dit gaan oor die jag, nuwe weivelde en die eerste high van enige nuwe oorwinning. Tot dit ook ou nuus raak.

Ek was jare gelede in ’n langtermynverhouding; ons het nie saamgewoon nie, maar sy huis was oorkant myne. Hy het skofte gewerk en ek het van die huis af gewerk.

Wanneer hy soggens om 07:00 tuisgekom het, het ek hom met ’n huppel in my stap verwelkom, want ek kon nie wag om hom te sien nie. Wanneer sy skof 15:00 klaargemaak het, het ek hom dikwels gaan oplaai en iewers heen “ontvoer”.

As hy tot 21:00 gewerk het, het ek hom ingewag met die een of ander verrassing en ’n heerlike bord kos. Natuurlik het hy eers gaan stort voor hy by my aangeklop het en soms het ek hom in ’n pragtige, vroulike satyn-en-kant-nagrok ingewag, met kerse of gedempte beligting, sagte, strelende musiek en ’n duvet op die vloer waarop ons kon lê.

Ander kere het ek saans in my agterplaas ’n piekniekkombers oopgegooi, slaaie gemaak en die braaier reggesit. Dan het ons gebraai met ’n bak drywende kerse en blomme om ’n romantiese atmosfeer te skep.

Hy het nooit geweet wat op hom wag nie.

‘Dit gaan oor die jag, nuwe weivelde en die eerste high. Tot dit ou nuus raak’

Een aand het ek sy oë met ’n blinddoek toegemaak en hom gevra om op die bed te lê en gesê: “Ek kan nie vir jou die maan en sterre op ’n skinkbord gee nie, maar ek het dié vir jou.”

Toe hy sy oë oopmaak, het hy die maan en sterre – glow in the dark-plakkers wat ek gaan koop het – op die dak gesien.

Een jaar met Valentynsdag het ek vir ons ’n sunset cruise bespreek. Hy het geen idee gehad waarheen ons op pad was nie, selfs nie toe ons by die hawe aankom nie.

Groot was sy verbasing toe ons op die seiljag klim. Ek het, opreg en met al die liefde in my hart, gereeld sy ego gestreel, hom liefde gegee en hom spesiaal laat voel.

Ek het hom op ’n dag gevra of hy met ons sekslewe tevrede is en hy het geantwoord: ‘Wow, absoluut!’

Ek was kreatief; het hom aan wonderlike dinge blootgestel waarvan hy voorheen net kon droom en dit aangevul met lang, geurige masseersessies, happies met aarbeie en sjokolade, ysies vir pret, ensovoorts.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images.

Niks was ooit vervelig of dieselfde nie. Dit gebeur maar wanneer mans ’n one-trick pony is en die vrou die sekslewe interessant moet maak. Ek het altyd moeite met my voorkoms gedoen, en al is ek nie brandmaer nie, was ek nie juis oorgewig nie.

My vriende en my seun het gemeen hy is nie my “klas” nie, maar vir my was hy die liefde van my lewe.

Maar toe sy suster een naweek ’n vriendin na ’n braai saambring, het ek dadelik die energie tussen hom en die vrou aangevoel.

Die volgende dag het ek op ’n brief afgekom wat sy vir hom geskryf het waarin sy hom onbeskaamd nooi om ’n naweek by haar deur te bring.

In ’n oogwink het als verander en ’n maand later was ons verhouding op die rotse. Die nuwe verhouding het – met stampe en stote – drie maande gehou.

Daarna het vele verhoudings gevolg, maar nou was ek “die ander vrou” en het ek steeds meer tyd saam met hom bestee as die “nuwe liefde” in sy lewe.

Ek was die beste verhoudingsmaat ooit, maar wanneer die gogga byt, verloor mans hul kop en die jaginstink skop in.

Net soos met prinses Diana – een van die mooiste vroue ter wêreld – gaan dit nie oor skoonheid of selfs die beste sekslewe nie. Die fout lê by hulle, die mans, wat nie besef hoe gelukkig hulle is om ’n vrou te hê wat soveel vir hulle omgee en die aarde aanbid waarop hulle loop nie.

Tensy die verhouding op ’n Christelike grondslag gebou is en albei hulle opreg daaraan toewy om getrou te bly, sal die moontlikheid – in enige verhouding – altyd bestaan dat die jaginstink opnuut inskop en die eerste rukkie se high nagejaag word.

Kallie skryf:

Ek wil graag vir Lindi sê sy is in die kol. Ons mans sien nie die selluliet raak nie en waardeer ’n vrou wat die besigheid aan die brand hou.

Ek sal haar een ding sê: Ek verstaan haar pyn en dat haar uitweg was om uit haar huwelik te loop.

My vrou het my twee jaar gelede verneuk. Sy het haar eie onderneming begin en die uitdagings het sy tol geëis.

Haar geboubestuurder, wat heelwat ouer as sy is, het in haar begin belangstel en natuurlik kon hy heeldag om haar rondhang en ’n handjie bysit as sy iets nodig gehad het.

Dit het toe – soos Lindi in haar brief skryf – op die lappe gekom dat sy vrou hom nie in die bed bevredig nie. Hy het my vrou oorreed om by gemeenskapsprojekte waarvan hy die voorsitter was betrokke te raak en kort voor lank was sy die sekretaresse.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images.

Saans het hulle vergaderings en geleenthede bygewoon terwyl ek na die kinders omgesien het, en hy en my vrou het mettertyd huisvriende geword.

Een oggend het my vrou opgestaan en vir my gesê sy wil skei, want ek laat haar gril. Ek het toe begin rondsnuffel en bewyse van hul verhouding gekry.

Volgens haar was ek die vark in die verhaal omdat ek nie genoeg aandag aan haar gegee het nie – dit is nou wanneer sy wel voor elfuur saans tuis was.

Ek het haar ook nie in die bed laat voel soos hy haar laat voel het nie.

Ons is nog saam, maar ek is nog nie oor haar ontrouheid nie. Soms loop ek die man raak en dan haal ek dit by die huis op my vrou uit.

Ek ry ook sommer na sy huis toe en teister hom uit woede. As hy so ’n wafferse hings is, hoekom het hy nog nooit vir my en die kinders kom jammer sê vir die verdriet wat hy veroorsaak het nie?

Hy regverdig sy optrede omdat my vrou ingestem het. Om ’n man se ego te herstel verg baie, of dit kom nooit weer reg nie. Ons is eenvoudige skepsels. Ons soek net waardering en ’n klein bietjie erkenning vir wat ons vir ons gesinne doen en beteken – net ’n drukkie en dankie.

* Skuilname.