GETROUD, MAAR HY SWYG

Vraag:

Ek gaan nou al ’n paar maande met ’n ouer man uit.

Ek is amper 40 en hy duskant 50. Ek was nog nooit getroud nie. Nou het ek deur ’n familielid van hom uitgevind die man vir wie ek lief geword het, is nog getroud en sy egskeiding sloer al ’n paar jaar.

Hy het my nie vertel nie in die hoop dat dit afgehandel sou wees voor ons te ernstig raak. Wat maak ek nou? Ek wil hom nie los nie.

  • RO op YB

Antwoord:

Misleiding is ’n baie ernstige vertrouensbreuk. As jy hom mettertyd wel nog ’n kans wil gee, moet jy by ’n onbetrokke party (nie die familielid nie) uitvind hoe die huwelik verloop het en wat die ware redes vir die uitgerekte egskeiding is.

Wanneer jy al die feite het, vra hom waarom hy jou doelbewus niks daarvan vertel het sedert julle begin uitgaan het nie. As jy hom steeds in jou lewe wil hê, moet jou hom net as ’n vriend beskou tot sy egskeiding afgehandel is.

Hy is nou nog ’n getroude man, al is dit net in naam.


OUPA EN OUMA TREK OUDSTE VOOR

Vraag:

Ons het drie dogtertjies van sewe, vyf en twee jaar. My skoonouers is diereliefhebbers en gaan hou gereeld in die Krugerwildtuin vakansie, maar dan neem hulle net ons oudste saam.

Hulle sê die ander is “nog nie reg” vir die wildtuin nie. Hulle het self ’n gesin van drie gehad en die oudste voorgetrek. Dit pla my ander kinders om hul sussie te sien wegry. Hulle dink sy is die witbroodjie en wil niks met haar te doen hê wanneer sy terugkom nie.

My man sê net dis hoe sy ouers is.

  • HS op KA

Antwoord:

Jou skoonouers is reg as hulle sê die wildtuin is dalk nie altyd die regte plek vir sulke kleingoed nie. Dit kan maar moeilik gaan as jy op ’n lang, warm dag moet rondry om diere in die bos te soek.

As die kleingoed vergelyk wie wat kry wat speelgoed, aandag en uitstappies betref, kan dit in ’n kompetisie ontaard. As volwassenes self te veel let op hoe gunsies en geskenke uitgedeel word, kan dit sake vererger.

Soms sleep ’n mens onbewustelik jou gevoelens uit jou kinderjare by. Pleks van onregverdighede uitwys, moet jy eerder ’n plan agter die skerms maak. Jou skoonouers se optrede lei tot onmin in die gesin; daarom sal jy en jou man moet ooreenkom in watter mate julle sy ouers gaan toelaat om jul gesin te beïnvloed.

Ná ’n gesprek oor die perke wat julle nou gaan stel, moet julle ’n afspraak met die grootouers maak sonder die kinders.Hou die gesprek oor hoe om die kinders almal regverdig te behandel vriendelik en moenie aanvallend wees nie.

Bedank hulle vir al hul positiewe bydraes tot dusver tot jul gesinslewe en beklemtoon dat hul betrokkenheid belangrik is. Dalk is hulle salig onbewus van die probleem van twee ongelukkige jonger kinders waarmee julle opgesaal is.

As dit die geval is, bedank hulle dat hulle na julle geluister het en laat die saak vir eers daar. Beplan ’n slag ’n vakansie vir die hele gesin saam met oupa en ouma.

Sy smag na ’n verhouding

Vraag:

Ek is baie ongelukkig wat verhoudings betref. Ek is reeds 10 jaar gelede geskei, maar kon nog nooit weer ’n suksesvolle verhouding hê nie.

Ek wil al moed opgee, maar wil ook graag in ’n gelukkige verhouding wees. Hoe kry ’n mens dit reg?

  • DS, SMS

Antwoord:

As ’n mens tot elke prys in verhoudings na geluk soek, kan dit van jou ’n onvergenoegde en bitter mens maak. Min van ons vind die ware liefdesgeluk waarvan almal droom.

Maar as ’n mens na balans en harmonie in jou lewe streef en daardeur ’n vervulde mens word, gebeur dit dikwels dat die nuwe jy geleenthede op ander plekke en maniere soek en daardeur juis ’n maat vind wat by jou pas.

As jy desperaat lyk om iemand te vind, kan dit moontlike verhoudingsmaats die hasepad laat kies. Brei eerder jou vriendskapskring uit as om heeltyd jou selfoon vir afsprake dop te hou.

‘Maak eerder ’n plan agter die skerms as om onregverdighede uit te wys’ – Elize

Twis uit verlede haal boet en sus nou in

Vraag:

Ek is die jongste en het nog nooit ’n goeie verhouding met my broer gehad nie. My ma woon oorsee by hom en is siek. Ek moet nou daarheen reis, maar sien op daarteen, want harde woorde het in die verlede tussen my en my broer geval. Hy dink ek het nie my kant gebring met my ma se versorging nie. Ek is bang ons gaan heeltyd baklei.

  • HO op AW

Antwoord:

Dit is nie ongewoon dat die verlede se wrokke, griewe en berou ’n mens in stresvolle tye inhaal nie. Met onopgeloste familietwiste is dit belangrik dat die konflik voor ’n ouer se dood opgelos word.

Dit bepaal hoe die moeilike tyd daarna sal verloop. Probeer tydens jou besoek op goeie voet met jou broer en sy gesin kom. Jy gaan hulle nodig kry as jou ma sou sterf. Gesonde familiebande is ’n bron van krag wanneer ’n mens rou.

Dit kan help as jy nie kritiek lewer op die toedrag van sake by hulle nie, en ook aanbied om soveel moontlik met jou ma se versorging te help sodat hy en sy gesin tyd saam kan deurbring.

Mense verander mettertyd en pas aan. Jou broer en sy gesin is moontlik lankal nie meer dieselfde mense as toe jy hulle laas gesien het nie. Gaan eerder met ’n oop gemoed daarheen. Wees bedag daarop dat jou ma dalk jou broer en sy gesin hoog sal aanprys.

Dit kan jou dalk jaloers laat voel, maar herinner jouself daaraan dat dit jou nie beskore was om haar soveel soos hulle in haar laaste jare by te staan nie.

Deel jou storie
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.