Hunker terug na verbode liefde

Vraag

Ek het ’n oudkollega raakgeloop toe ek op reis was vir werk. Dinge het gebeur en ons het intiem verkeer. Daarna het hy my dikwels gebel en ons het grappies gemaak. Hy is getroud en het kinders.

Ek is drie jaar gelede geskei. Ek het hom ná vyf dae laat weet ons kan nie meer kontak hê nie, want dit voel verkeerd. Hy was heel ordentlik en het dit aanvaar. Ons het nie meer mekaar se nommers nie, soos ons ooreengekom het. Maar nou mis ek hom. Wat het nou eintlik hier gebeur?

  • AD op KSP

Antwoord

Die opwinding om vir ’n ruk jou alleenheid eenkant toe te skuif in ’n vreemde plek waar niemand jou ken nie, het jou laat kop verloor. Dit dui op emosionele volwassenheid dat jy daarna perke gestel het en kon wegstap van iets wat vir julle albei hartseer kon inhou.

Die oomblik van spyt wat jy nou ervaar, is niks vergeleke met ’n lewenslange verwyt as jul speletjies sy huwelik laat verbrokkel het nie. Nou moet jy jouself vir jou oordeelsfout vergewe en met jou lewe aangaan.

Jy mis hóm nie soseer nie, maar wel die kort ruk van vriendskap en innigheid wat jy geken het. Alles is nie verlore nie, want jy kan dit weer ervaar, maar dié keer saam met iemand sonder ’n ring aan sy vinger.

Maak jou lewe vol met vriendskappe en ander mense met wie jy lekker kan gesels. As jy weer op reis gaan, maak seker dat jy vooraf afsprake maak om in jou vrye tyd saam met bekendes uit te gaan sodat jy nie alleen in ’n hotelkamer sit nie.

As jy weer eensaam voel, bestaan die gevaar dat jy in die arms kan beland van iemand wat nie jou perke sal respekteer nie. Maak ’n afspraak by ’n berader om oor jou egskeiding te gesels en jou pyn daaroor te verwerk.

Die verlede se bagasie laat ’n mens soms oordeelsfoute in die hede maak. Hou by die grens wat jy self gestel het en moenie hom weer kontak nie. Mettertyd sal jou nuwe, vol lewe jou so besig hou dat hy net ’n vae gedagte sal wees.

‘Jou oomblik van spyt is niks vergeleke met ’n lewenslange verwyt nie’.

Bruid se verlede spook by haar

Vraag

Ek trou oor ’n paar maande, maar ons was nog nie intiem nie.

Ek was wel al in die bed saam met ander mans, maar my verloofde weet dit nie. Ek voel die tyd om hom daarvan te vertel het, is lankal verby.

Ek dink hy weet ek is nie ’n maagd nie, maar hy weet nie dat ek ’n paar bedmaats gehad het nie. Ek wil dit eintlik graag geheim hou van hom.

  • HP op SKL 

Antwoord

Dit is nooit te laat om eerlik te wees in ’n verhouding nie.

Sulke feite het ’n manier om self uit te kom. Jy sal tog nie wil hê jou verloofde moet verdraaide skinderstories hoor nie. Roer die onderwerp aan sonder om besonderhede oor die verlede te verstrek.

Maak seker hy verstaan die geskiedenis behoort tot gister. Wees bedag daarop dat hy dalk kwaad en teleurgesteld kan wees.

Dalk het hy ook ’n geheim. Dit is altyd beter om ’n verhouding op eerlikheid te bou as op aannames en geheime.

Romanse vervaag nes sonbruin

Vraag

Ek is 18 en het ’n paar weke lank met ’n outjie van 19 uitgegaan toe ons met vakansie was. Nou hoor ek niks meer van hom nie. Ons woon op twee verskillende dorpe. Hy is stil op my WhatsApp, hoewel hy my nie blokkeer het nie.

En wanneer ek hom bel, sny sy foon elke keer uit. Ek is bekommerd; daar was beslis iets tussen ons. Wat moet ek doen?

  • AK, SMS

Antwoord

’n Vakansieromanse se vreugdes hou dikwels net so lank soos die sonbruin vel wat jy tydens jou blaaskans gekry het. Wanneer jy met vakansie is, is alles skielik ’n avontuur.

Maar wanneer jy eers terug is by die huis, is die lewe minder opwindend en gaan dit weer sy gewone gang. Soms kan dit dalk ook gebeur dat ’n mens tydens ’n vakansie meer as gewoonlik drink wanneer jy saans uitgaan en dan kan valse verwagtings maklik tussen twee mense ontstaan.

Wees realisties en erken teenoor jouself dat as hy met die romanse wou voortgegaan het hy jou sou gebel het en boonop seker gemaak het dat sy foon nie uitsny nie.

Onthou, ’n langafstandverhouding, anders as ’n vakansieromanse, stel hoë eise, veral vir mense wat nog so jonk soos julle is, mense wat die lewe wil geniet en julle nie wil verknies oor ’n maat ver op ’n ander dorp nie.

Jonger man kry koue voete

Vraag

Ek is 36 en gaan al vyf maande met ’n man uit wat ses jaar jonger as ek is.

Ons was nog altyd gelukkig, maar ek hoor by vriende hy het probleme met ons ouderdomsverskil, al het hy nie teenoor my iets daaroor laat blyk nie.

Hy sê gereeld hy gee om vir my. Hoe kan ek hom by die ouderdomsverskil tussen ons laat verbykyk?

  • FM op WP

Antwoord

Verhoudings waar ouderdomsverskille ’n rol speel, kry soms minder steun van vriende en familie.

Dis maklik om te dink jy gee nie om wat ander sê nie, maar dit kan wel ’n invloed op hom hê. Soms is dit families se druk wat sulke verhoudings laat verbrokkel.

Veral ma’s is geneig om hul seuns se verhoudings met ouer vroue af te keur en stippel die redes daarvoor duidelik vir hul seuns uit. Jy sal sy ma moeilik van sienswyse kan laat verander. Die beste is om haar met respek te behandel en by hulle met selfvertroue op te tree.

Sy vriende se menings maak dalk ook vir hom saak. Wees buigsaam oor die tyd wat hy saam met hulle wil deurbring.

As daar ook tussen jul vriende ’n groot ouderdomsverskil is en jou ouer vriende en sy jonger vriende nie lekker meng nie, kom ooreen dat julle elkeen soms afsonderlik saam met vriende uitgaan. Waak daarteen om self die ouderdomsverskil tussen julle te beklemtoon.

Fokus eerder op jul gedeelde belangstellings, doelwitte en waardes.