WIL LOOP NÁ 20 JAAR SAAM

Vraag

Ek woon nou al amper 20 jaar saam met ’n man, maar wil hom nou verlaat omdat ek nie langer sy nukke en grille kan verduur nie.

Ek besef daar sal nooit enige formele verbintenis tussen ons wees nie. Ek wil hom los. Wat is my regte?

  • SSIE op HK

Antwoord

In saamwoonverhoudings het die verhoudingsmaats bitter min regte, ook wat die verdeling van eiendom tussen julle betref.

Eiendom wat een van die verhoudingsmaats verkry het, sal net aan daardie maat behoort. As een ’n huis gekoop het en die huis is op hul naam geregistreer, het die ander maat nie enige regte daarop nie.

Al wanneer iemand in ’n saamwoonverhouding regte het, is wanneer hulle ’n formele ooreenkoms aangegaan het.

Nie eens ’n saamwoonverhouding van 20 jaar maak jou daarop geregtig om soos ’n huweliksmaat behandel te word nie, want die konsep van ’n gemenereghuwelik geld nie in die Suid-Afrikaanse regstelsel nie.

‘Jy het net regte in ’n saamwoonverhouding as julle ’n formele ooreenkoms aangegaan het’ – Elize

Julle sal nie onderhoud van mekaar kan eis nie. Jy sal ook nie onderhoud uit sy boedel kan eis as hy sterf nie. Jy sal net van hom kan erf as hy vir jou iets in sy testament nalaat.

As jy uit die verhouding stap, sal dit net wees met wat jy aan die begin gehad en in dié tyd self gekoop of geërf het.

Enige geskil oor eiendom sal met betaalstrokies of kontrakte as bewys besleg moet word. As jy finansieel van hom afhanklik is, moet jy dalk weer oor alles nadink.

As jy kans sien om jul verhouding te probeer red, sal ek julle aanraai om vir verhoudingsberading te gaan. ’n Verhouding van twee dekades sonder enige formele verbintenis het bes moontlik ’n stewige grondslag.

Jy sal wel tegemoetkomend moet wees wat jou verwagtings van die verhouding betref en opofferings maak.

Weeg dit op teen die finansiële risiko wat jy kan loop as jy besluit om van nou af jou eie potjie te krap.

FYN SPEL OM HOM TERUG TE WEN

Vraag

Nadat ek en my kêrel verlede week uitgemaak het, het ek besluit om hom nie weer te kontak nie. Ek wil hom eintlik terughê, maar wil hê hy moet eers na my verlang.

Intussen het ek bang geword hy vind dalk iemand nuuts.

Dink jy dit kan werk?

  • HF, SMS

Antwoord

Mans vind darem gewoonlik nie onmiddellik iemand anders met wie hulle ’n vaste verhouding wil hê nie. Die meeste mans het trouens geen begeerte om hulle ná ’n lang verhouding gou weer aan een maat te verbind nie.

As dit wel gebeur, is so ’n verhouding soos ’n pleister om sy wond te genees. Hou maar liefs by jou voorneme.

Daardeur stel jy jou ook in staat om ’n beter perspektief op jul verhouding te kry en om emosioneel weer op jou voete te kom.

Laat hom dan maar toe om sy eie gevolgtrekkings te maak.

VIND TROOS BY OU LIEFDE

Vraag

Ek het lank gelede met ’n man uitgegaan wat baie goed was vir my. Ek het hom onlangs weer gesien nadat my dogter gesterf het. Hy het my baie gehelp. Ek is steeds lief vir hom en sal daarvan hou om hom weer te sien.

  • PD, SMS

Antwoord

Mense, tye en omstandighede verander wanneer die lewe vir jou ’n ruk lank stilstaan, soos in die routyd oor jou dogter.

Dit kan dan maklik gebeur dat jy te hoë verwagtings koester van mense wat vroeër ’n groot rol in jou lewe gespeel het.

Jou eks se onlangse steun was dalk net ’n opregte gebaar van ’n eertydse vriend. Moet liefs nie te veel daarin lees nie.

Maar as jy jul vriendskap op ’n nieromantiese grondslag wil voortsit, kan jy hom gerus vir koffie nooi. Gesels dan met hom oor positiewe dinge in jou lewe en nie oor dinge waarmee hy jou kan help nie.

Laat hom dan toe om die gesprek te lei.

Wat jy ook al doen, moenie met hom oor jou verhoudings praat nie, ook nie oor jou eertydse verhouding met hom nie.

KOMMER DAT HY MOET PA STAAN

Vraag

Ek en my meisie het onlangs uitgemaak omdat ons heeltyd gestry het. Ons is nog lief vir mekaar. In die maand dat ons uitmekaar was, het ons drie keer seksueel verkeer.

In die verlede was haar menstruasie nie altyd gereeld nie. Sy het twee keer swangerskapstoetse ondergaan. Sy is nou ’n week laat.

Ek bekommer my dat ek die skuld sal kry as sy swanger is. In die tyd dat ons uitmekaar was, het sy by vriende gebly.

Sy het my verseker sy het nie met iemand anders seksueel verkeer nie. Ek voel aan sy steek iets weg.

  • VR op RM

Antwoord

Jy is met goeie rede bekommerd. Hoekom tref julle nie voorsorg deur voorbehoedmiddels soos kondome te gebruik nie?

Ten spyte van jul kommer in die verlede oor ’n moontlike swangerskap gaan julle voort om haar en jou lewe en toekoms op die spel te plaas deur geen voorsorg teen ongewenste swangerskappe of seksueel oordraagbare siektes te tref nie.

’n Openhartige gesprek sal jou en jou meisie perspektief gee oor jul verhouding en die toekoms daarvan.

Intimiteit is ’n belangrike deel van enige verhouding, maar dit moenie sonder enige verbintenis tot mekaar se geluk en gesondheid benader word nie.

Onthouding is ’n goeie manier om eers weer die vertroue in mekaar te herstel en uit te vind of julle met die verhouding wil voortgaan.

Indien wel, moet julle ooreenkom om beskermde seks te hê.

Kontak ons
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1