My man by sekswerker betrap

Vraag

Ek is een nag in die oggendure laat weet my man is in hegtenis geneem omdat hy seks met ’n sekswerker wou hê en toe deur die polisie betrap is. Hy het vir my gejok en my vertel hy werk die aand laat.

Ek het die papierwerk by die polisiekantoor gaan doen en hy het die volgende dag huis toe gekom. Hy beloof my dat dit die eerste en enigste keer was. Dit het vier maande gelede gebeur, maar dit is steeds vir my moeilik om hom te vergewe en daarvan te vergeet.

Ek is nie die soort wat skei nie en hy wil ook nie. Hy is skaam hieroor. Wat kan ons doen om ons huwelik te red? Ek het nog altyd geglo ons het ’n gesonde huwelik.

  • KL op AU

Antwoord

Al ontken jou man dat hy al ooit onbeskermde seks met iemand anders gehad het, moet jy steeds daarop aandring dat julle albei so gou moontlik by ’n kliniek vir seksueel oordraagbare siektes getoets word en as dit nodig is ook daarvoor behandel word.

Hoe maak ’n mens sin uit so ’n situasie sodat julle met jul huwelik kan voortgaan? Jy sal dit nie op jou eie kan regkry nie; julle sal as ’n paartjie vir berading moet gaan. ’n Toekoms saam is net moontlik as daar volkome eerlikheid en begrip tussen julle is.

Gesprekke tussen julle met ’n berader se leiding kan hiermee help. Hy moet ook bewys hy is jammer deur jou elke dag oor sy bewegings ingelig te hou.

Spottery oor privaat boodskap

Vraag

Ek word gespot oor ’n privaat boodskap wat ek verlede jaar op WhatsApp vir my kêrel gestuur het. Hy het dit, sonder my medewete, op ’n groep gedeel waarop van my ou skoolmaats is. Ek het hom daaroor konfronteer, maar hy ontken alles. Ek is bang hy doen dit weer.

  • ME op KE

Antwoord

Gesiglose teisteraars dink dit is aanvaarbaar om alles te deel wat reeds in die sosiale media is. Hulle regverdig dit met verskonings soos dat jy dit eerste geplaas het.

Dit kan jou hulpeloos laat voel. Aanlyn teistering is ’n vorm van emosionele geweld wat ál meer plaasvind en baie mense raak. Maar daar is hoop as jy kans sien om regstappe te neem.

In die Wet op Beskerming teen Teistering (WBT) word teistering omskryf as direkte of indirekte gedrag wat leed veroorsaak vir die slagoffer deur verbale, elektroniese of enige ander kommunikasie.

Die WBT maak daarvoor voorsiening dat landdroshowe ’n beskermingsbevel kan uitreik.Daarvoor moet jy vorms by die klerk van die hof voltooi. ’n Landdros sal dan die saak oorweeg en kan ’n bevel teen die oortreder uitreik.

‘Aanlyn teistering is ’n vorm van emosionele geweld . . . maar daar is hoop as jy kans sien om regstappe te neem’ – Elize

Indien die oortreder onbekend is, kan die hof elektroniese diensverskaffers beveel om volle besonderhede oor so ’n persoon te verskaf. Die hof kan ook die polisie opdrag gee om die teistering te ondersoek sodat die oortreder geïdentifiseer kan word. Probeer ’n skermgreep van die beledigende aanmerkings neem.

Stel in elk geval die sosialemedia-diensverskaffer van die teistering in kennis en vra dat hulle teen die oortreder optree en die beledigende aanmerkings verwyder word.

Wat jou kêrel betref, moet jy jouself afvra: As jy hom nie met ’n persoonlike boodskap kan vertrou nie, kan jy hom met jou hart vertrou?

As jy besluit om met die verhouding voort te gaan, moet jy in die toekoms baie versigtig wees wat jy in boodskappe sê.

Pa se naam nie op sertifikaat nie

Vraag

Ek het my ID-boek onlangs verloor, maar wil onderhoud eis. Het ek my identiteitsdokument nodig om onderhoud vir my kind te vra? En kan ek steeds onderhoud vir my kind eis al is die pa se naam nie op haar geboortesertifikaat nie?

  • NV, SMS

Antwoord

Ja, op albei vrae.

As die pa van jou kind bevraagteken of hy wel die pa is, sal die hof beveel dat vaderskapstoetse gedoen word. Albei die biologiese ouers het ’n wetlike plig om onderhoud te betaal. Onderhoud kan ook van die biologiese grootouers geëis word as die ouers nie onderhoud kan betaal nie.

Kil vrou laat hom rondloop

Vraag

Ek is baie deurmekaar. Ek kry geen liefde of seks by my vrou nie en dit laat my by ander mense slaap. Nou gooi my vrou hierdie verhoudings voor my kop. Ek het haar gesê dat ek rondslaap omdat ek geen seks van haar kry nie.

En ek kry steeds niks. Sy het alles in haar lewe en ek sorg goed vir haar – sy kort niks. Ek het haar nog nooit mishandel nie en hanteer haar met respek. Maar sy respekteer my nie.

Moet ek eerder my goed vat en loop? Ons is al 15 jaar getroud.

  • K op DL

Antwoord

Vir jou eie, jou vrou en ander se gesondheid sal dit beter wees as jy hierdie siklus beëindig waarmee jy dalk vele seksueel oordraagbare siektes (SOS’e) kan opdoen en weer kan oordra.

Begin jou huwelik en moontlik ook jou gesondheid red deur vir toetse vir SOS’e te gaan. Kilheid op sigself is geen regverdiging vir huweliksontrou nie. Bygesê, om soos jou vrou ’n sekslose huwelik op ’n huweliksmaat af te dwing is bloot selfsugtig.

Om jou huwelik te herstel gaan opregte vergifnis en vryspreking verg. Tog is 15 jaar ’n lang tyd. Gun jul huwelik ’n laaste kans deur ’n seksterapeut te spreek.

Kontak ons
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1