WHATSAPP-GROEP G’N SPELETJIES

Vraag

Ek is lid van ’n WhatsApp-groep vir ma’s van my kinders se speelskool. Daarop is altyd iemand wat iets beters vir haar kinders doen as ek. Ek kan nie uit die groepie weggaan nie, want dit is eintlik vir inligting oor huiswerk en uitstappies bedoel. Buitendien, dan sal almal wil weet waarom.

Ek kan dit nie meer verduur as die groepsein “pieng” nie.

  • IT op Kl

Antwoord

Ouers hoef nie daarna te streef om die volmaakte ma’s en pa’s te wees nie, maar wel die ouer wat jou kind nodig het.

Erg mededingende ouers wil dikwels al hul besluite en keuses verduidelik en regverdig. Hulle is bang hulle word as ontoereikende ouers veroordeel. Dié gevoelens spruit soms uit ’n diepgesetelde onsekerheid, maar dis geen verskoning om ander ouers se lewe te versuur nie.

Met WhatsApp-groepe help dit om ’n sekere protokol te volg waarby die groeplede moet hou.

As dit ’n groep is wat reëlings moet tref en inligting verstrek, moet die administrateur van die groep toesien dat dit net daarvoor gebruik word.

‘Ouers hoef nie daarna te streef om die volmaakte ma’s en pa’s te wees nie’ – Elize

Laat jouself met respek en beleefdheid geld. ’n Gesprek met die administrateur kan dalk ook help, veral as jy nie al ouer is wat hieroor kla nie.

Hier is ’n paar goue reëls vir WhatsApp-­groepe:

  • Hou by die doel waarvoor dit gestig is.
  • Moenie ongevraagde inligting toelaat nie, tensy almal daarby kan baat vind.
  • Wanneer die gesprek te persoonlik raak, vra ’n groeplid om liewer vir die ander gespreksgenoot ’n persoonlike WhatsApp te stuur.
  • Moenie die groeplede toegooi met sentimentele boodskappies wat duur data mors nie.
  • Voor jy iets oënskynlik nuuswaardigs aanstuur, maak seker van die bron, want WhatsApp kan ’n nes van fopnuus wees.
  • As niks anders werk nie, plaas die groep op die versteekopsie sodat jy van ’n nuwe boodskap kennis neem, maar nie deur die sein gepla word nie.

ENKELMA VOL MOEG & UITGEBRAND

Vraag

Ek is 44 en heeltemal uitgebrand. Almal wil iets van my hê. Ek is soms te moeg om selfs vir my twee kinders van vier en sewe jaar te sorg.

Ek is geskei toe die jongste twee was. My man was ontrou.

Ek was ’n alkoholis en gebruik nou medikasie vir neerslagtigheid. Ek het ’n veeleisende werk wat my dikwels verplig om ver te reis. My eks is onbetrokke by die kinders, maar ek is veels te moeg om dit te verander.

Ek kry min steun van my vriende en familie. My skoonma sit wel dikwels hand by.

  • LD op EP

Antwoord

Soms verval ons lewe in vernietigende patrone sonder dat ons daarvan bewus is. Om nee te sê verg moed, maar dit is ’n enkelma se behoud. ’n Mens laai dalk te veel hooi op jou vurk omdat jy steeds soos ’n getroude ouer dink en wil optree.

Om dié kopskuif te maak, moet ’n mens kan nee sê vir eise wat tot skuld­gevoelens kan lei en jou uitput.

Identifiseer jou verantwoordelikhede, maar ook die dinge waarvoor jy nie verantwoordelikheid hoef te aanvaar nie. Gebruik dit as riglyn om ja of nee te sê.

As jy vir te lank te veel gedoen het, kan jy dit dalk moeilik vind om te weier. Voor jy aan nog ’n versoek voldoen, sê jy wil eers daaroor dink.

Ter wille van jou kinders moet hul pa sy regmatige rol in hul lewe speel soos wat met jul egskeiding in die ouerskapplan uitgestippel is. Laat  jouself hieroor geld op ’n manier wat konflik beperk soos met e-posse of deur ’n bemiddelaar.

Kan jou skoonma jou dalk help om hom meer betrokke te kry by die kinders?

VROU LIEG OOR KOM EN GAAN

Vraag

My vrou lieg dikwels vir my, veral oor waar sy was. Ek weet sy is beslis nie ontrou aan my nie. Ons is 13 jaar getroud en het kinders. Ek weet nie hoe om haar hierop te wys nie.

  • FG, SMS

Antwoord

As jy die werklikheid aanvaar wat sy vir jou wil voorhou, gaan niks verander nie.

Kry jou bewyse agtermekaar, soos waar sy wanneer was, en praat met haar as sy weer hieroor kleitrap. Stel dit vir haar met selfvertroue, maar sonder om haar aan te val.

Let op haar daaglikse gewoontes en kyk of geld dalk onverklaarbaar minder raak. As dit gereeld gebeur, probeer sy dalk vir jou ’n verslawing wegsteek soos aan drank of dobbel.

STRES DRYF HAAR TOT KOS

Vraag

Ek het jare gelede opgeskop op skool, want my huislike omstandighede was onuithoudbaar. Op 17 het ek getrou. Die man is geen droom nie.

Ek het erg gewig aangesit van al die stres en ook toe ek swanger was. My kind is nou ses maande oud.

  • HR, SMS

Antwoord

Mense met onverwerkte pyn neem dikwels hul toevlug tot kos. Dis dalk nie net jou huidige omstandighede wat jou by kos laat troos soek nie, maar ook onderdrukte woede uit jou grootwordjare.

Jy kan nie die gevoel ignoreer nie en sal daaraan moet aandag skenk om jou eie en jou kind se onthalwe. Ek stel voor jy gaan vir berading.

Verhoudings kan mettertyd verbeter, selfs al het ’n mens om die verkeerde redes getrou. Dit kan ’n goeie vertrekpunt wees om aan die kommunikasie in jou huwelik te werk en jou behoeftes beter aan jou man uit te stippel.

Moenie nou op jou oorgewig fokus nie, anders kan dit ’n emo­sionele sneller word. Hou dit eenvoudig. Gaan stap gereeld om die swangerskapgewig af te skud.

Dit is ook ’n goeie idee om voor jy ’n tweede porsie inskep jouself te vra waarom jy dit wil eet: Is jy nog honger of is dit om emosio­nele redes?

Deel jou storie
  • As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize,
    Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com.
  • Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.