JALOESIE MAAK HOM ’N MONSTER

Vraag

Ek is 25 jaar oud en my kêrel 37. Hy bly my daarvan verdink dat ek en my kollegas, of enige man met wie ek gesels, die kat in die donker knyp, maar ek het hom nog nooit verneuk nie.

Toe ek twee weke gelede met sy vriend gesels, het hy my gegryp en geslaan. Hy bly ook aan my slaan. Hy het my nou weer beloof dit sal nie meer gebeur nie. Ek weet dis net mooi broodjies wat hy om my ouers se onthalwe bak.

Hulle wil nie hê ek moet hom los nie. Ons kind is nou amper drie jaar oud.

  • JMS op WS

Antwoord

Jou kêrel se beloftes is vals en hy manipuleer jou ouers. Dit is nie hulle wat aan ’n onuithoudbare situasie onderwerp word wat dalk lewensgevaarlik kan wees nie. Daarom het hulle nie die finale sê nie.

Ek is bly jy begin deur die front sien wat hy aan die wêreld voorhou. Dit kan gevaarlik wees om iemand soos hy wat reeds gewelddadig teenoor jou opgetree het, selfs voor ander mense, sommerso te verlaat, want sy optrede kan onvoorspelbaar wees.

Jy sal eers versigtig planne moet beraam om van hierdie man weg te kom en met ’n nuwe lewe sonder huishoudelike geweld te begin.

Maak gebruik van die beskikbare middele soos om ’n beskermingsbevel by die landdroshof teen hom te kry. As jou ouers jou nie wil help nie, bel ’n welsynwerker wat saam met jou die nodige voorsorgmaatreëls sal tref, soos om eers in ’n veilige skuilhuis te gaan bly.

Bel Badisa Trio by 021-945-1064 vir nog inligting hieroor.

DAGGASLAAF KRAP FAMILIE OM

Vraag

Iemand in ons familie gebruik dagga. Wanneer hy nie naby sy verskaffer is nie, raak hy onbeheerbaar. Ons moes hom onlangs ná slegte gedrag by ’n familiebyeenkoms vra om huis toe te gaan.

Hy behandel ons familie en veral sy vrou baie sleg. Toe ek hom hieroor aanspreek, het hy fisiek geraak en ek het in die hospitaal beland. Hy het verskoning gevra, maar ek kry dit nie reg om hom te vergewe nie.

Om ons almal se onthalwe sal ek ’n uitweg moet vind.

  • OD op GB

Antwoord

Vergifnis is nie goedkoop nie, en dit is selde onvoorwaardelik. Dit is iets wat ’n mens moet verdien. Om bloot verskoning te vra vir een keer se slegte gedrag is nie naastenby genoeg as hy jul familie deurlopend emosionele skade aandoen nie.

As berou opreg uitgespreek word en die daad by die woord gevoeg word, maak dit vergifnis makliker. Om nie langer aan die seerkry vas te klou wat dié mens jou en jou familie aangedoen het nie, sal meer as stille vergifnis op jou eie verg.

Iemand in jul familie sal met hom moet gaan praat en hom oorreed om na ’n rehabilitasiesentrum te gaan. As hy instem en die proses doelgerig voltooi, sal dit wys hy het werklik berou.

Dan sal dit vir jou makliker wees om hom te vergewe. Intussen kan jy self die proses in jou hart aan die gang sit deur te probeer verstaan waarom vergifnis vir jou so belangrik is.

Vir jou, as iemand wat blykbaar groot waarde aan familiebande heg, is dit dalk omdat jy met ’n vervullende lewe wil voortgaan waarby almal in die familie betrek word.

Onvergewensgesindheid verminder ’n mens se innerlike krag. Om te vergewe is daarom ook ’n manier om sterker in jouself te word en familiebande te verstewig. Dalk kan hierdie wete jou help om te vergewe.

’n Goeie vertrekpunt is om nie langer oor die familielid se swak gedrag of die voorval te praat nie en dit ook uit jou gedagtewêreld te verban.

SOEK IEMAND WAT VERSTAAN

Vraag

Ek het my bene verloor en is in ’n rolstoel. Dis vir ons gestremdes moeilik om vriende te maak en te behou. Ek kan baie vir myself doen en soek nie iemand om my te help nie, maar eerder die opregte vriendskap van iemand wat my omstandighede verstaan.

  • IS, SMS

Antwoord

Dit is altyd meer volhoubaar om vriende te maak wat dieselfde belangstellings as jy het eerder as om bloot ter wille van vriendskap te probeer vriende maak. As jy lief is vir lees, bel jou naaste biblioteek en hoor of daar leeskringe of boekklubs naby jou is.

As vervoer na die byeenkomste ’n probleem is, is dit in party stede soos jou tuisstad moontlik om openbare vervoer te reël. Kry meer inligting hieroor deur Dial-a-Ride by 0800-600-895 te bel.

Aanlyn studie is ’n manier waarop jy jou op twee maniere kan verryk – deur jou op ’n gebied te bekwaam waarin jy belangstel terwyl jy terselfdertyd studiemaats kan vind met wie jy die inhoud van die kursus kan bespreek.

‘Om te vergewe is ’n manier om sterker in jouself te word’ – elize

EKS STRY OOR UITGAWES

Vraag

Kan ek uitgawes soos vir die kinderoppasser, haarsnye vir my drie seuns en vervoer skool toe by my lysie van behoeftes vir die onderhoudsbeampte by die hof insluit? My eks dink nie so nie.

  • Ma, SMS

Antwoord

Die onderhoudsbeampte sal besluit wat toegelaat kan word; nie jou eks nie. Jy kan beslis vir die kinderoppasser se geld eis. Soms word ’n beëdigde verklaring van haar gevra om te bewys sy kry die geld.

Sorg dat jy strokies van alle uitgawes hou (soos vir vervoer en haarsnye), wat jy as bewyse kan indien. Doen dit deurlopend en nie net een maand nie sodat jy ’n rekord het as jy om ’n verhoging van onderhoud wil aansoek doen.

Hou ook elke maand se bankstate. Kinders kan nie van vars lug en omgee leef nie. Net jy as enkelma kan vir jou kinders se reg baklei om goed versorg te word, en die regte papierwerk kan dit vir jou makliker maak.

Kontak ons
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1