Wil skei ná 40 jaar saam

VRAAG

Ek is al vier dekades lank met ’n alkoholis getroud wat elke dag ’n bottel whisky uitdrink. Ons het drie kinders saam.

Hy het ’n kind gehad voor ons getroud is en het ook tydens ons huwelik ’n kind by iemand anders verwek.

Hy het heeltyd buite-egtelike verhoudings. Ek het dit jare lank verduur, maar kan nou nie meer nie. Hy loop met kondome in sy sak rond en ek het Viagra in sy kar gekry.

  • EI op J

ANTWOORD

Ek kan my nie eens voorstel met watter vernedering jy moet saamleef nie. Gun jouself ’n lewe sonder hierdie man wat jou die waardigheid van huwelikstrou ontsê het.

Met sy rondslapery kan hy jou ook seksueel oordraagbare siektes gee.

Hy verdien geen verdere kanse nie. Daar sal goeie redes wees waarom jy juis nou tot ’n besluit wil kom; daarom moet jy dadelik daarvan werk maak.

Moontlik het jy tot dusver nie ’n behoorlike steunstelsel gehad om ’n nuwe lewe alleen aan te pak nie. Of dalk is jy finansieel van hom afhanklik en het dit jou gekeer.

Om ’n sukses van hierdie reusesprong te maak, spreek vooraf ’n prokureur en stel vas wat jou regte ingevolge jul huweliksbedeling is: of julle binne of buite gemeenskap van goedere getroud is.

‘Gun jouself ’n lewe sonder hierdie man wat jou die waardigheid van huwelikstrou ontsê het’ – Elize

Moenie hierdie drastiese verandering in jou lewe alleen aanpak nie. Berading kan jou help om moed te hou en sterk in jouself te word sodat jy nie voor sy manipulasie of valse beloftes sal swig nie.

Met ’n berader se hulp kan jy ook besluit hoe jy die nuus aan jul kinders sal oordra en hulle oor jou nuwe lewe vorentoe gerusstel.

Maak seker jy weet waarheen jy kan gaan en wie jou kan help wanneer jy hom verlaat sodat jy nie dalk noodgedwonge hoef terug te gaan nie.

Stel jou veiligheid eerste.

Buurvrou pla met boodskappe

VRAAG

Ek en M is al ’n jaar lank saam, maar woon nie by mekaar nie. ’n Getroude vrou in sy woonstelblok whatsapp hom daagliks oor sport op TV of om oor haar man te kla.

Sy stuur ook vir hom liedjies en is ontsteld wanneer hy nie antwoord nie. 

Hy vertel my hiervan en sal selfs wanneer ons uitgaan haar bood­skappe oopmaak en kastig daaroor beswaar maak by my. Dit gaan al langer as ses maande so aan. 

Ek ignoreer dit. Hy sê hy het al probeer om dit stop te sit, maar sy kom altyd weer terug.

Sy kan glo nie verstaan dat hulle nie meer as vriende mag wees nie. Ek dink nie haar man weet hiervan nie. Ek wil nie klewerig klink nie. 

  • NE, SMS

ANTWOORD

Tegnologie kan baie intiem wees, want daarmee kan iemand voortdurend jou lewe binnedring.

As jy pal so met iemand kommunikeer, kan dit tot emosionele intimiteit lei.

Dis jou volle reg om beswaar teen dié indringer in jul verhouding te maak. Min verhoudings tussen mans en vroue is suiwer platonies, veral as die een ongelukkig ge­troud is.

Dis ongesond om iemand van die teenoorgestelde geslag daagliks in jul verhouding toe te laat.

Stippel dié gevoelens uit wanneer hy weer oor haar praat. Vra of jy hom kan help om haar op sy foon te blokkeer.

Nes jy nie sal toelaat dat iemand voor jou met jou kêrel flirt nie, hoef jy dit nie langer te verduur dat sy foon sy aandag opeis nie.  

Moenie daaroor skuldig voel nie. Dit het min met jaloesie te doen en gaan eintlik daaroor dat jy jul verhouding wil beskerm.

Sy wil trou, maar dit traak hom nie

VRAAG

Ek is in ’n verhouding met die pa van my tienerdogter. Ons was uitmekaar, maar is nou weer saam.

Almal wil weet wanneer ons gaan trou. Hy was eers gretig, maar sê nou hy gee nie meer om of ons trou of nie.

Dis belangrik vir my, want ek voel ek is net daar vir sy gerief en mors my tyd. As jy lief is vir iemand en die res van jou lewe saam met haar wil deurbring, waarom dan nie die groot stap doen nie?

  • OE op AL

ANTWOORD

Verbintenisvrees is ’n werklikheid vir baie verhoudingmaats. Soms spruit dit uit ’n diepliggende tweestryd; hulle wil in ’n verhouding wees, maar terselfdertyd tog hul vryheid behou.

Vir sulke mense is daar hoop, maar dan moet hulle dié vrees afskud.

Terwyl jul verhouding ’n tweede kans op geluk vir julle albei is, sal ek aanbeveel dat julle saam berading kry om met die regte leiding ’n nuwe rigting in jul verhouding in te slaan.

Daarsonder sal weinig verander.

Wantrouige meisie stel vir hom strikke

VRAAG

Ek raak moeg daarvoor om myself aan my meisie te bewys. Sy kom uit ’n familie waar mense dikwels jok.

Sy probeer my gedurig uitvang met byvoorbeeld geld wat sy iewers los. Sy vou die note se hoekies om sodat sy hulle kan uitken.

Dan kyk sy of ek dit dalk sal vat en wag om my te beskuldig. Ek is moeg daarvoor om heeltyd onder verdenking te wees.

  • LZ, SMS

ANTWOORD

Of dit openlik of verskuil is, wantroue knou intimiteit. Vir mense wat maklik wantrou, raak dit dikwels ’n gewoonte om iemand te toets.

As sy dit sonder goeie rede doen, sal sy dié gewoonte moet afleer om jul verhouding te red.

Selfs al hou jy aan om bloot betroubaar op te tree, sal niks verander nie. Daag haar uit.

Wys haar daarop jy weet sy het doelbewus vir jou ’n strik gestel. Sê ferm maar taktvol vir haar jy verdien dit nie en sal dit ook nie langer duld nie

Kontak ons
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.