SY GIM EN HY BRAAI

VRAAG

My vrou is oorbewus van haar liggaam en maak al jare lank van die gim ’n afgod. Ek is bitter alleen.

Ons het twee tieners. Sy behandel hulle nie liefdevol nie en skeep almal af. Ek en die seuns braai heeltyd. Ek is nie die soort wat wil skei nie, maar ek kan nie meer met haar selfsug saamleef nie.

  • KB, SMS

ANTWOORD

Oefening kan verslawend word, veral as ’n mens ’n selfgerigte persoonlikheid het. Sy is net op haar eie behoeftes ingestel en is daarom meer voor die spieël as voor die kos­potte. Hoe ouer sy word, hoe belangriker sal dit vir haar word om haar jeugdige en vietse voorkoms te behou.

Kry maar die braaihout reg. As jy met die huwelik wil voortgaan, moet jy jou eie belangstellings en stokperdjies uitbrei.

Help ook jul seuns om meer gekoester te voel deur meer by jul familielede te kuier of hulle oor te nooi.

Nooi ook ’n slag jou vrou om saam met jou en die seuns om die vuur te kuier. Jy kan gerus so in die gesels opmerk dat jul kinders nou vinnig grootword en dat julle die tydjie as ’n gesin saam moet koester voor hulle die huis verlaat.

Dalk gee dit haar stof tot nadenke.

TWEEDE LIEFDE TE GOU VERBY

VRAAG

Ek is 35 en drie jaar gelede geskei nadat my eksman my en my seuntjie vir ’n jonger vrou gelos het. Ek was gebroke en het myself drie jaar tyd gegee om daarvan te probeer herstel.

Ses maande gelede het ek ’n wonderlike man ontmoet wat ook deur ’n hartseer egskeiding moes gaan. Sy eksvrou was ontrou. Die eerste maande was alles wonderlik. Daarna het hy hom ál meer begin onttrek.

Toe ek hom vra hoekom hy so afsydig raak, het hy gesê hy is nog nie reg vir ’n verhouding nie. Ek het toe maar besluit om dinge te beëindig. Ek het werklik geglo ek het ’n tweede kans op geluk gekry.

  • Anoniem, Oos-Kaap

ANTWOORD

As hy dit duidelik gemaak het dat jul verhouding geen kans op sukses het nie, kan jy maar sy woord daarvoor aanvaar. Sulke openhartigheid, al maak dit seer, is veel beter as ’n geliefde se verwarrende boodskappe oor valse gevoelens.

Jy sukkel om die mislukte verhouding te verwerk omdat dit so moeilik is om ná die maande van saamwees weer daarby aan te pas om alleen te wees. Jy het dalk verwagtings oor ’n toekoms saam gekoester.

Voeg hierby die onsekerheid van ’n vrou wat voorheen verkul is en ook die hunkering van iemand wat nie langer alleen wil wees nie. Jy voel dalk geluk sal jou nooit weer beskore wees nie.

Geskeide mans is dikwels oorversigtig om gou weer ’n ernstige verbintenis aan te gaan. Die fout lê daarom nie by jou nie. Hy sou bes moontlik dieselfde vir iemand anders gesê het.

Dit getuig van emosionele intelligensie dat jy besef dit neem minstens drie jaar om die hartseer van ’n egskeiding te verwerk. Juis daarom moet jy begrip hê vir sy standpunt. Miskien sou jy dieselfde rede aangevoer het as jy hom kort ná jou egskeiding leer ken het.

Gun jouself nog tyd om jou verlede volkome agter te laat voor jy weer ’n kans op geluk waag.

UITGEVANG MET ANDER MEISIES

VRAAG

Ek en my kêrel is nou al agt jaar in ’n verhouding. Ek het hom nog elke keer uitgevang wanneer hy met ander meisies op sy selfoon flirteer. Hy het ook sedert verlede jaar ’n skelm verhouding met ’n meisie.

Nogtans staan hy my altyd deur dik en dun by. Ons probeer nou weer, maar  is soos vreemdelinge vir mekaar. Help, asseblief!

  • Anoniem, KBY

ANTWOORD

Ondersteuning is nie ware liefde nie, veral nie as hy so hulpvaardig is juis omdat hy skuldig voel nie.
Jy het geen rede om die vernedering te verduur van ’n man wat van jou verwag om anderkant toe te kyk terwyl hy flirteer nie.

Jy koester valse hoop as jy dink hy gaan verander. Solank hy ’n selfoon besit, sal hy jou verkul.

Jy wil tog nie jou lewe lank regsit om iemand te probeer uitvang nie. Beëindig die verhouding nou eens en vir altyd.  

NET EEN KANS OP REHABILITASIE

VRAAG

My broer (51) het slegte drink-gewoontes en het ingestem om na ’n rehabilitasiesentrum te gaan. Ek weet niks van sulke plekke of hoe om dit te kies nie. Ons het nie geld om hom hierna weer ’n kans te gee nie.

  • GL op KL

ANTWOORD

Herstellende alkoholiste sal jou aanraai om ’n sentrum te kies met beraders wat self herstellende alkoholiste is en waar ook ’n span sielkundiges is. Dit is belangrik dat groepterapie aangebied word en ook individuele sessies met beraders.

’n Herstelgerief wat die 12-stap-program, oorspronklik van Alkoholiste Anoniem, voorstaan, bied vir talle drankafhanklikes ’n groter kans op sukses as geriewe daarsonder.

Dit is noodsaaklik dat so iemand min interaksie met die buitewêreld het terwyl hy behandel word. ’n Sentrum met beperkte besoekure is beter. As ’n gesonde eetpatroon en fiksheid aangemoedig word, sal hy leer hoe om ’n gesonder leefstyl te kweek.

Vermy ’n oorvol sentrum waar hy nie genoeg aandag sal kry nie. Maak seker die sentrum geniet amptelike erkenning van die betrokke gesondheidsowerheid en dat hulle 24 uur per dag mediese sorg bied.

Kontak die Christelike Afhanklikheidsdiens by 056-212-7123 vir inligting of stuur ’n e-pos na rene@saampro.co.za.

Kontak ons
  • As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com.
  • Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.