RAADOP OOR SY VELE FLIRTASIES

Vraag

My man se eks stuur vir hom WhatsApps. Sy het nog altyd ons huwelik bedreig.

Ons buurvrou koop ook soms vir my man geskenkies. Ek het op sy foon gesien sy is op sy WhatsApp onder ’n troetelnaam.

Ek het agtergekom hy het ook by sy werk iets met ’n vrou aan. Nou werk hy ook Saterdae. Dit maak my mal.

Ek werk nie, het nie geld nie en wens net my ma was hier om my te help. Sy het my destyds teen my man gewaarsku, maar is intussen aan kanker oorlede.

  • GE  op KS

Antwoord

Jy verdien beter as om deur dié reeksflankeerder seergemaak te word. Sulke mans kan nie aandag van ander vroue weerstaan nie en het dit nodig om hul manlikheid te bewys. Al het hy hom tot jou verbind, sal hy skynbaar met enigeen flirteer wat vir hom ogies maak.

Dit is ’n kortpad van flirteer na verkul.

Jy kan tegnieke ontwikkel om daarmee saam te leef, soos om dit te aanvaar en as een van sy tekortkomings te verdra. Of jy kan ’n kon­struk­tiewe gesprek met hom daaroor voer.

Sy affairs maak jou net onsekerder van jouself en te seer om jouself te bemagtig.

Omdat jy finansieel van hom afhanklik is, sal jy hom moeilik voor ’n ultimatum kan stel om te verander. Berei jou daarop voor om dit wel op ’n dag in die toekoms te doen deur nou daarop te fokus om werk te kry.

Hou op om op hom en sy foon te spioeneer. Sy affairs maak jou net onsekerder van jouself en te seer om jouself te bemagtig. Wanneer jy in ’n sterker posisie is, dink na oor of jy by ’n man wil bly wat geen respek vir die grense van jul huwelik toon nie.

EKS NOOI HOM NA HAAR TROUE

Vraag

Ek het twee jaar met ’n meisie uitgegaan. Ons was toe in ons 20’s en dolverlief op mekaar. Ons het uitgemaak toe ek wegtrek en sy om werkredes moes agtergebly. Nou gaan sy trou en sy het my na die onthaal genooi.

Ek ken die ou ook. Hy sal oukei wees daarmee. Dink jy ’n mens moet na ’n eks se troue gaan?

  • Gawie, SMS

Antwoord

As julle nog gevoelens tussen julle het of jy voel onseker oor waarom sy jou nooi, is dit beter om nie te gaan nie. Jy kan dan liewer vir haar ’n geskenk en ’n mooi kaartjie met ’n koerier stuur. Dalk beskou sy jou steeds as ’n vriend en wil net ’n groot oomblik in haar lewe met jou deel.

As jy seker is julle kan vorentoe net platoniese vriende wees, kan jy gerus gaan. As jy nou in ’n verhouding is, moet jy in gedagte hou dat jou maat onseker kan wees oor jou motiewe.

VAKANSIE SAAM G’N WITTEBROOD

Vraag

Ons gaan al ’n jaar uit en was onlangs saam met vakansie, maar dit het nie uitgewerk nie.

Ek moes heeltyd net doen wat hy wou doen en dit het tot stres gelei. Is dit ’n rede om met hom uit te maak? Ons het al van trou gepraat, maar ek kan my nie ’n wittebrood saam met hom indink nie.

  • KD, SMS

Antwoord

Vakansietye kan beslis tot meer stres in verhoudings lei wat reeks wankelrig is. Te hoë verwagtings kan ook ongelukkigheid veroorsaak.

Die waarskuwingsligte moet inderdaad flikker.

Maar as jy nie kans sien vir ’n wittebrood saam met jou kêrel nie, voorspel dit niks goeds vir ’n huwelik nie. Die waarskuwingsligte moet inderdaad flikker.

Tog hoef die nagmerrie van ’n vakansie nie noodwendig ’n spelbreker te wees nie, want julle kan daaruit leer. Die kuns is om vooraf tot ’n vergelyk te probeer kom.

As julle weer saam met vakansie sou gaan, moet julle vroegtydig ’n lys maak van wat julle saam kan doen, afsonderlik wil doen en wat julle glad nie wil doen nie.

Beplan jul vakansie daarvolgens.

Sorg ook dat julle plekke saam besoek en dinge saam doen wat julle nog altyd nader aan mekaar gebring het.

MOEG VIR ALTYD VERKEERD WEES

Vraag

Ons is al ’n geruime getroud. Ek kan nie onthou wanneer dit begin het nie, maar my vrou, seun en kleinkind is altyd reg.

Ek word tot ’n leuenaar gemaak of “sien spoke”. Ek word ook geïgnoreer. Onlangs het ek hulle vriendelik gekonfronteer oor hoe seer dit my maak. Die bitterheid kon minder gewees het as ek nie my huweliksrol al die jare bogemiddeld goed vervul het nie.

Ek drink nie, rook nie en werk versigtig met geld. Ek hou uit, byt vas. Ek voel die laaste tyd meer depressief as gewoonlik.

  • GV op Boland

Antwoord

Jy sal bes moontlik nie jou huweliksmaat en gesinslede ná al die jare kan oortuig hulle is nie heeltyd reg nie. Jy kan wel leer hoe om op ’n ander, makliker manier met jou lewe aan te gaan.

Sommige mense het ’n buitengewone behoefte daaraan om altyd reg te wees. Sulke selfgerigte mense kan nooit ander se standpunt insien nie.

Juis daarom moet jy die kringloop verbreek. Berading kan jou help insien jou vrou is nie volmaak nie en die mense wat haar steun, word moontlik deur haar gemanipuleer.

Haar houding is daarop ingestel om jou te beheer.

Een van die beste maniere om met sulke egosentriese mense klaar te speel is om nie in ’n debat met hulle te beland nie.

Wees ferm en laat jou vrou verstaan jy redeneer nie met mense wat geen respek vir jou mening het nie. Stap weg en weier om ’n gesprek met haar en haar napraters oor dieselfde kwessies te voer.

Haar houding is daarop ingestel om jou te beheer. Sy wil hê jy moet aan jouself twyfel. Dit kan selfbeeldprobleme teweegbring.

Waak hierteen deur meer tyd buite die huis deur te bring by vriende wat wel respek vir jou en jou mening het of deur stokperdjies te be­oefen wat vir jou ontvlugting kan bied.

Kontak ons
  • As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com.
  • Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.