WERKLOSE PA LÊ OP SEUN SE NEK

Vraag

My seun is 24 en werk en woon ver van my af. Sy salaris dek skaars sy huur. Sy pa is 56, woon by hom in en werk al die afgelope byna twee jaar nie.

Hulle sukkel werklik. My seun het al van sy besittings verkoop om die pot aan die kook te hou. Hy wil nie sy pa los en by my en my man kom woon nie.

My seun glo as hy dit doen, sal sy pa geen heenkome hê nie. Sy pa ly aan diabetes en is ook nie die vriendelikste mens nie.

Hoe kan ons maak om hom te help?

  • MS op BR

Antwoord

Nadat ’n mens ’n kind die wêreld ingestuur het en hy dalk te veel verantwoordelikhede aanvaar, is dit moeilik om hom te sien swaarkry.

As ouer gun ’n mens hom die kommer­lose lewe wat enige jong mens van sy ouderdom moet geniet voor hy self wortel­skiet en met ’n gesin begin.

Tog moet jy sy keuses respekteer.

Jy kan hom wel help deur hom so te steun dat sy lewe makliker word en hy beter keuses kan maak. Maar moenie van hom verwag om teen sy pa te kies nie.

Goedhartige mense soos jou seun wat meelewend leef en hulself dikwels tweede stel, beleef meer spanning wanneer hulle van nood weet en dit nie kan help verlig nie.

As julle enigsins kan, bied aan om van jou seun se uitgawes te dek, soos om maandeliks sy elektrisiteit te betaal. Miskien kan julle met vervoer­onkoste help sodat hy gereeld by julle kan kom kuier. Bederf hom dan behoorlik en gebruik die kans om hom op beter werkgeleenthede in sy omgewing te wys.

Kan sy pa dalk vir ’n welsyntoelae in aanmerking kom? Miskien kan jy navorsing hieroor doen en so jou seun se finansiële las help verlig.

As jy nog enigsins bande met jou eks se familie het, kan ’n gesprek met hulle dalk vrugte afwerp. As hulle op enige manier verantwoordelikheid vir hom kan help aanvaar, kan dit almal se lewe makliker maak.

BLY HOOP OP EKS SE TERUGKEER

Vraag

Ek was langer as twee jaar in ’n verhouding met ’n man.

Ons was baie gelukkig, maar toe trek hy terug na sy geboortestad, waar sy familie woon.

Ná ’n ruk het hy net laat weet hy het iemand anders daar. Ek dink dis onwaar. Hy het my ook in die sosiale media blokkeer.

Ek bly hoop hy sal terugkom. Ons het al tevore struikelblokke oorkom. Dink jy ek hoop verniet?

  • V op BF

Antwoord

Om afsluiting te vind nadat ’n verhouding doodgeloop het, is moeilik, veral as ’n mens nie werklik redes kan vind waarom dit beëindig is nie. Valse hoop is ’n stok waarmee jy jou bly slaan as jy nie die werklikheid wil aanvaar nie.

Het jy al daaraan gedink as hy werklik ernstig oor jul verhouding was, sou hy nie weggetrek het sonder jou nie?

Dalk speel sy familie ’n groter rol in sy besluit as wat jy besef, maar wat ook al die rede is, jy sal moet ophou tob oor hoe hy dalk oor jul mislukte verhouding dink.

Verwagtings oor verhoudings en aan­names daaroor kan lank daarna nog pyn veroorsaak as ’n mens nie daarvan kan afstand doen nie.

Twee jaar is lank. As ’n mens dit eensklaps uit jou lewe vee, beteken dit dit was verlore en leë jare. Om die einde van ’n verhouding te verwerk is makliker as ’n mens sin kan maak uit hoe dit jou gevorm en wat jy daaruit geleer het.

Daar is wel lewe nadat ’n verhouding doodgeloop het, mits jy nie voortgaan om dit te ontken en aan strooihalms hoop vas te klou nie.

STOUTERDS NEEM HUIS OP HORINGS

Vraag

Ek haat dit wanneer my vriende se bloedjies kom kuier en almal heeltyd in die rede val. Hulle neem ook net ’n mens se huis oor en die ouers kyk slaphandjies toe. Die kinders swaai tot aan my gordyne en skop my kar.

Dink jy dis reg as ’n mens dan maar vir jou en jou huisgoed intree? My vriendin sal dit nie goed hanteer as ek haar hieroor aanspreek nie.

  • TN, SMS

Antwoord

’n Mens kan ferm optree sonder om vriendskappe in gevaar te stel, maar dan moet jy nie die ouers of hul kinders voor ander verkleineer nie.

As jy weet die belhamels is op pad, maak reg om jou gaste buite te onthaal.

Moenie huiwer om die jong besoekers al met die intrapslag van die moets en moenies van jou huis te vertel nie. As jy bang is hulle sal jou besittings verniel, sê veral waar hulle nie mag speel nie.

As die vriende se kuiers steeds vir jou spanningsvol is, spreek af om hulle by ’n kwekery of in ’n park met speelrame en swaaie te ontmoet.

GOU VERGETE TOE KÊREL WERK KRY

Vraag

Ek is lelik om die bos gelei deur ’n werklose kêrel wat by my ingetrek het. Toe hy ’n ruk later werk kry, het hy sommerso uitgetrek en ver van ons verhuis sonder om ons verhouding behoorlik te beëindig.

Ek voel of hy my net gebruik het. Ek loop sy suster af en toe raak en kan nie anders as om oor hom uit te vra nie. Agterna wil ek myself dan daaroor skop.

  • LE, SMS

Antwoord

Wanneer so iets met ’n mens gebeur, bevraagteken jy maklik jou selfwaarde. Om daarvan te herstel, moet jy moeite doen om jouself weer te vind.

Bly in aanraking met jou steunstelsel, soos familie en vriende, kry genoeg oefening en gaan gereeld saam met vriende uit.

Vermy plekke waar jy mense kan raakloop wat julle as ’n paartjie geken het. Vermy ook kontak met hom in die sosiale media en moenie inligting oor hom probeer uitsnuffel nie.

Hy is nou uit jou lewe; kry hom ook vir goed uit jou kop.

Kontak Liewe Elize
  • As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com.
  • Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.