Los tonge kry haar onder

VRAAG

Die skindertonge is los in ons familie oor hoe sleg ek glo my ma behandel.

Sy het my ernstig te na gekom sonder dat ek daarvan geweet het. Daar is nou ’n kloof tussen ons.

Ek is verbitterd en nog effe geskok daaroor, maar sê haar nie sleg nie. Sy is immers my ma.

Tog begin die geskinder in ons familie, alles wat verswyg word en veral mense wat soos wolwe in skaapsklere na my toe kom en dan alles verdraai wat ek hulle vertel, my nou onderkry.

Wat moet ek maak?

  • AO op FB

ANTWOORD

As ander jou voortdurend veroordeel al is jy eintlik die onskuldige party laat dit ’n mens weerloos voel, selfs al weet jy jy is reg.

Sulke kwaadpratery en verdagmakery kan ’n mens emosioneel laat uitbrand. Skinderbekke sal ons, net soos Jan Taks, altyd by ons hê.

Die kuns is om hul invloed op ons lewe te beperk.

As jy jou met mense omring wat emosioneel gesond is, sal jy reeds nader aan ’n oplossing beweeg.

’n Mens kan nie jou familie vir altyd vermy nie, maar jy kan wel sorg dat vals mense minder sappige stories het om te versprei deur kontak met hulle te verbreek.

‘Die kuns is om skinderbekke se invloed op ons lewe te beperk’ – Elize

Skinderbekke is lafaards. As jy, ondanks hul kwaadpratery, met moed en deursettingsvermoë die uitdagings in jou verhouding met jou ma kan aanpak, kan jy sterker aan die ander kant uitkom.

Dit help nie om die bitsiges te konfronteer of te probeer bewys jy’s reg nie. Dit sal al jou emosionele energie verg.

As jy nie anders kan as om hulle te sien nie, tel jou woorde in hul teenwoordigheid.

Moet geen inligting aan hulle gee nie en verander die onderwerp as jy agterkom hulle probeer iets uitvis. Jy benadeel jouself as jy ’n wrok hieroor koester en eerder op die familie as op die uitdaging self fokus.

As jy nie die ongelukkige voorval met jou ma kan of wil bespreek nie, sal jy ’n manier moet vind om hierdie pynlike hoofstuk in jou lewe af te sluit.

Vergifnis is nie goedkoop nie, maar as jy jou ma kan vryspreek, sal jy minder deur jou eie gevoelens oorweldig word.

Jaloesie ruk handuit

VRAAG

Ek en my meisie gaan al drie jaar uit en ons is albei steeds jaloers op mekaar. Wanneer ons baklei, raak ek allerhande dinge kwyt waaraan ek nog nooit eens gedink het nie.

Ek verstaan dit glad nie. Het jy dalk raad?

  • JB, SMS

ANTWOORD

’n Mate van jaloesie is deel van elke gesonde verhouding. Maar die verskil lê daarin hoe dit hanteer word.

Let op waar en wanneer jy jaloers word. Dalk is daar ’n sneller uit ’n vorige verhouding wat elke keer wéér gevoelens van onsekerheid in jou laat opwel.

As jy sulke snellers kan identifiseer en vermy, kan dit reeds makliker gaan.

Verlief op my buurman

VRAAG

Ek is ná ’n moeilike huwelik geskei en het op my eie gaan woon. Nou het ek op my buurman verlief geraak.

Hy WhatsApp my soms as daar probleme in ons kompleks is, soos byvoorbeeld met elektrisiteit.

Ek is bang dinge sal ongemaklik tussen ons raak as ek ’n skuif sou maak en hy nee sê.

  • MS op LS

ANTWOORD

’n Aanval van liefdeskoors kom dikwels voor wanneer ons skielik alleen is en veral ondersteuning nodig het.

Dan kan ’n mens maklik mense oor wie jy wonder, begin idealiseer.

Die man langsaan is dalk glad nie die een van jou drome nie, maar dit sal jy nie weet voor jy saam met hom uit was nie.

Moenie ’n kersligete beplan nie, maar daar is niks daarmee verkeerd om hom vir koffie oor te nooi nie.

As hy nee sê, gaan daarna net aan asof niks gebeur het nie en wees net so vriendelik soos jy altyd was.

Stres oor eks se nuwe vrou

VRAAG

Ek het ’n seuntjie van ses en is ’n paar jaar gelede van sy pa geskei. Ek het aansoek gedoen om verhoogde onderhoud omdat hy nou na ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes gaan.

My gewese man het onlangs weer getrou, maar ek weet nie op watter huweliksvoorwaardes nie. Hy en sy nuwe vrou het nie kinders nie en albei het ’n goeie werk.

Ek is bang sy gaan saam met hom kom wanneer ons ’n afspraak met die onderhoudsbeampte by die hof het. Mag sy daar wees?

  • DF op HA

ANTWOORD

Slegs die ma, die pa en hul regsadviseurs word in die hofvertrek toegelaat wanneer sulke verrigtings begin.

Jou eks se vrou kan wel toegelaat word, maar slegs as jy daartoe instem. As sy dalk net binnestap sonder om vooraf toestemming te vra, bly kalm, kyk voor jou uit en tel tot by 10.

Die voorsittende beampte moet jou dan vra of dit reg is met jou dat sy daar is. As jy daarmee ontevrede is, het jy die volste reg om nee te sê.

Die beampte moet haar dan vra om die verrigtinge te verlaat.

Al wanneer sy teenwoordig mag wees, is as sy gedagvaar sou word om ’n bydrae in die hofvertrek te lewer. Sulke dae is ekstra moeilik vir enkelma’s.

Maak dit vir jouself makliker deur minder op jou eks se nuwe vrou te konsentreer en eerder toe te sien dat ’n geldige nuwe onderhoudsbevel gemaak word sodat jou kind se pa nie van sy verpligtings kan wegskram nie.

Sorg dat jy genoeg steun van familie en vriende voor en ná die tyd kry.

Lees hier as jy meer wil weet oor aansoeke om onderhoud. Die volledige onderhoudswet is beskikbaar by www.justice.gov.za.

Kontak ons
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.